Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 14
Оглавление9
Die son het begin opkom. Dit het dan niks beters om te doen nie.
Dit is ’n mooi begin vir die dag, as hy objektief daarna sou kyk. Basson kan egter nie anders as om dit as deel van sy taak te beskou nie. Van sy opdrag. Dit is die nalatenskap wat hy van sy pa gekry het:
Wérk.
Tipies.
Hy moet iets bewys, maar verdomp, hy sal! Hoe moeilik kan dit wees om Kaap toe te ry?
Eers is daar egter die adres wat hy gekry het, die plek waar hy moet aandoen. Soos hy sy pa ken – of geken hét, moet hy homself herinner – sal daar ook ander plekke wees. Iets het in Basson senior se kop gebroei, dit was duidelik op daardie video.
Basson kry sy foon uit en druk André se nommer. En toe die man antwoord:
“André. Ek kry jou oor ’n paar dae in die Kaap.”
Hy druk dood, draai die musiek so hard as wat sy oortromme dit kan hou en jaag op die sonsopkoms af.
* * *
Op die balkon van sy huis staan André in sy kamerjas. Hy tuur deur sy bril na die nuwe dag, nog met die selfoon teen sy oor.
Hy druk dit dood.
Dag 1, dink hy.
* * *
Daar is baie variasie langs die pad. Ooptes, wye wêreld.
Basson weet hy moet probeer om dit as ’n afskeidgeskenk van sy pa te beskou. Eerder dit as ’n opdrag. Stel jouself reg in. Om te bestuur het hom buitendien nog altyd laat ontspan. Hy is in beheer van die motor, dit is hy en spoed versus die saaiheid daar buite.
’n Mooi saaiheid, tog. Oral om hom lyk die wêreld nog vasgevang in ’n oggend-lomerigheid. Die Gautengse geel het omgesit in ’n Oos-Vrystaatse groen.
Langpad.
Lang pad.
Dan sien Basson die padteken.
CLARENS 10
Hy gee vet. Draai na ’n ruk op ’n grondpad af, die een wat hom na die township toe sal neem. Stof maak wolke agter die motor.
Van penthouse na township. Wat kom maak hy hiér?