Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 15

Оглавление

10

En dit is dan Clarens. Hy het al baie van die plek gehoor, veral van hoe mooi dit hier rond is, maar het nog nooit kom kyk nie. Kan net sowel kyk terwyl hy nou hier is.

Ja. Mooi, ja. Maar nou genoeg gekyk, hy’s hier met ’n rede.

Basson ry deur die township-strate op soek na die regte huis, teen ’n veel meer besadigde tempo as waaraan hy gewoond is. Hy kan nie anders as om selfbewus te voel nie: hy word deur ’n linie van inwoners aangestaar namate die Aston deur hulle omgewing vleg. Hy dink nie daar is al ’n motor van eens ’n kwart van dié een se waarde deur hierdie knap straatjies nie.

Waar de hel is die plek tog? Hy is nie een vir uitklim en aanwysings vra nie, het nog altyd eerder langer gery en gesoek en self sy bestemming gevind. Die GPS het hom ook gefaal.

Hy laat sak die ruit. Hy’t die musiek sagter gestel, daarom kan hy hoor hoe stil is dit hier rond.

Skielik raak hy bewus van beweging regs van hom: die groen en wit van ’n geruite hemp wat vinnig aankom. Dis ’n outjie, seker so tien jaar oud maar klein vir sy ouderdom, wat kordaat tot by die motor draf. Hy klou ’n verskeidenheid handgemaakte draadornamente vas, waarvan hy een ophou.

“Cheap flowers for expensive lady friends!”

Basson onderdruk ’n grinnik. Jy moet hulle nooit aanmoedig nie. Die verergdheid is in elk geval terug toe hy sy kop skud.

“Ask me how much?” is die outjie se volgende skuif. Sy tande glim in die donker gesiggie.

Basson betrap homself dat hy tog antwoord, maar dit is: “No.”

“Fifty rand, but for you twenty.”

“I don’t have money.”

Die outjie kyk na die Aston en lag. En ja, goed dan, hy sou self gelag het as iemand in so ’n kar vir hóm daai ver­skoning gegee het.

“Liar,” kom die verdoemende opmerking. Maar dis goed so, laat dit dan die einde van die gesprek wees. Die outjie draai weg.

“Hey, wait!” roep Basson egter. Dit het immers al hoe duideliker geraak dat hy tog maar hulp nodig het.

Die outjie draai na hom toe, wag om te hoor.

“I’m looking for Thomas Ndlovu. His address is …”

Basson voel op die passasiersitplek vir die vel papier.

“Mister Ndlovu,” sê die outjie.

“Do you know him?” Hy moenie te gou hoopvol raak nie.

Maar: “Everybody knows Mister Ndlovu.”

“Can you tell me where he lives?”

Die outjie hou weer daardie draadblom op. Astrante klein swernoot. Basson gee ’n sug en haal ’n twintigrandnoot uit sy beursie.

Maar: “Fifty rand.”

“You just said, for me, twenty.”

En die troef: “And you just said you don’t have money.”

Dêmmit, hy geniet so half die outjie se houding. Haal dus maar ’n vyftigrandnoot uit en gee dit in ruil vir die blom waarvoor hy andersins nie vyftig sent sou betaal het nie.

“Happy?” wil Basson weet.

Onskuldig kom die antwoord: “No, my name is Lucky.” En sonder ’n verdere woord draf Lucky om die motor, maak die passasiersdeur oop en hop in.

Opgewonde beduie hy hoe Basson moet ry, glimlag breed, waai vir almal langs die pad.

Dan wys hy deur die voorruit: “Just over the hill. The one with the big shoe.”

Dan is ek hier, dink Basson. Eerste bestemming in die reisplan wat sy pa vir hom opgetrek het.

Pad na jou hart

Подняться наверх