Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 8

Оглавление

4

Die vertrek ruik na rook en dit is nie die enigste beklemmendheid hierso nie. Dit sal ook nie hier agterbly as hy loop nie; party mense dra dinge met hulle saam.

Hein is beneuk en dis sagkens gestel.

Om die waarheid te sê, Hein is selde nié. Ook daaroor is hy beneuk. Hy is moerig gebore en sal die eerste wees om dit vir enigiemand te vertel.

Sodra jy die wêreld inkom, is daar moeilikheid en al manier om te keer dat dit alles na jou kant toe kom, is om ’n klomp moeilikheid van jou eie te genereer en dit in ander rigtings te stuur. Gee die bliksems iets om hulle mee besig te hou!

Hein kyk om hom. Wat is hier anyway om oor tevrede te wees? Die rokerige ruimte lyk soos die een of ander vrot kunstenaar se idee van “armsalig”. Iemand wou verlore drome en verkwiste tye op tasbare wyse uitbeeld en toe lyk dit só. Alles so tweedehands.

As hy nou opstaan en in die spieël gaan kyk, weet hy wat hy sal sien: iemand met daardie selfde afgeleefdheid in sy oë. Tweedehandsgeit. Daardie dis-al-wat-daar-is-dit-help-nie-jy-wag-vir-beter-dinge-nie.

Hy moet beter dinge gaan háál. Met hierdie hande.

Op sy vingers is daar tatoeëermerke. Hy het hom nog altyd verbeel dit laat hom selfs harder slaan, soos permanente knuckle-dusters. Die kaalgeskeerde kop en bruingrys snor en bokbaardjie rond die prentjie af – en die oë wat so ’n barshou kyk. Of dit glúúr.

Hy lees die brief nog ’n keer om seker te maak hy verstaan dit reg.

En kyk na die Rapport op die moeë tafeltjie. Voorbladnuus:

JONG VAN RENSBURG

NEEM VECTO PETROLEUM

DIE TOEKOMS IN

Goed, hy raak maklik kwaad, dit weet hy. Maar selfs al het hy nie, sou hy hom nog steeds vervies het vir die mannetjie. Aantreklik. Jonk. Die tipe wat nie eens dink hoe gelukkig hy was om met die verdomde goue lepel in die mond gebore te word nie.

Op die TV wat ’n paar meter van hom af dreun, word juis gepraat oor die maatskappy se toekoms, oor die nuwe rigting wat ingeslaan word.

Basson van Rensburg Jr.

Dis wat onder die foto staan. Hein het ook ’n gly in mense wat vanne vir name het. En blonde ouens. Blonde meisies kan gaan, obviously, solank die kleur natuurlik is. Hy haat mense wat hulle hare dye. Haat mense met perfekte tande soos Basson van Rensburg junior. Hy wonder hoeveel tandartsbesoeke dit gevat het om hulle so te kry. Maar tien teen een het hulle net so uitgekom, soos blomme in goeie grond, saam met die blou oë en opsigtelik fikse lyf. Hy haat ook die selftevredenheid waarmee party mense sulke tande uitstal. Maar hoe, as jy alles anders het, kan jy nie selfvertroue ook hê nie?

In vergelyking met hom, Hein Vermeulen. Eiewaarde is iets wat hy moet vat waar hy dit kan kry. Ten minste weet hy hoe! Hy’t dit al so dikwels gedoen, en sal weer.

Jy vat dit by ander, dis die geheim. Hoe kleiner jy hulle maak, hoe groter raak jy.

So eenvoudig.

Terwyl hy na daardie dinge kyk, na die brief, na die koerantopskrif en die foto, stryk hy oor sy baardjie.

“. . . kommer oor die toekoms van Vecto Petroleum,” praat hulle nog op die TV. “Basson van Rensburg senior, die huidige uitvoerende direkteur, was nie beskikbaar vir terugvoer nie.”

Hein maak ’n snorkgeluid.

Om sy nek wieg dit aan ’n hangertjie: ’n koeël.

Pad na jou hart

Подняться наверх