Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 7
Оглавление3
Die man lyk uitgeput waar hy daar lê, asof hy swaar dra aan elk van sy 58 jare, sy vel bleek teen die blou hospitaalklere. So het siekte nou eenmaal die manier om mense gelyk te maak; dokter Scholtz sien dit al gebeur vir langer as wat hy wil onthou.
Hy aarsel nog, loer deur die gaping in die gordyntjie wat om die bed getrek is, maak homself gereed vir die informele manier van praat wat hy met min ander pasiënte gebruik. Basson van Rensburg is nie een vir jeremiades en oordadige simpatie nie. Nou ook, as hy skuins draai na die hartmonitor toe, is dit met die reguit blik wat hom tot sulke hoogtes in die sakewêreld geneem het.
Die aspris masjien wil nie saamspeel en óók oorpresteer nie. Stadig begin dit darem weer ritme vang en die verpleegster buk, steek ’n naald in die pasiënt se arm en koppel ’n drup.
“Seker nie jou drink of choice nie,” verbreek dokter Scholtz die stilte en hy is bly om te hoor hy klink joviaal. “Maar hey, if the lady is buying, hoe kan ’n man nou nee sê?”
Verpleegster Norma kyk op en glimlag skaam. Min selfvertroue het sy gehad toe sy hier aangekom het, en net so min sal sy hê die dag dat sy vertrek of hulle haar hier uitdra. ’n Staatmaker, harde werker. Sy verdwyn by die gordyntjie uit.
Die dokter knik vir André wat langs die bed sit; skielik kan hy nie die man se van onthou nie. Getroue André, ooglopend die soort wat altyd daar is om op gereken te word. Soos ander kere toe hy hier kom besoek aflê het, dra hy sy “uniform”: strikdas en kruisbande. Hy is meer as net Basson se regterhand; het al soos familie geword en dit lyk vir dokter Scholtz die twee mans dink so eenders oor sake dat hulle ’n dag lank plekke sou kon ruil en niemand sou agterkom nie – as dit nie was vir die groot fisieke verskille nie. André het ’n kop vol hare terwyl Basson senior s’n bra karig is, en dan is daar sy bril wat hy alewig afhaal en opsit.
“En hoe voel jy, Basson?” vra die dokter.
“Flouer as jou grappies.”
Daarop kan nie een van die twee sy lag hou nie. Dis egter een gesonde laggie en een wat kortgeknip word, Basson senior se asem is te min.
Dis tyd vir erns, en dokter Scholtz frons. “Jy was gelukkig, my vriend. Dit was ’n ligte beroerte. Dit lyk of die bloedtoevoer drasties verswak het, so dit wil voorkom asof hierdie hart ook sy vervaldatum bereik het.”
Hy sien hoe sy pasiënt en André bekommerd na mekaar kyk. Dit is die soort nuus wat hulle kon verwag het, maar daar is mos altyd die hoop dat jy jouself net nare dinge wysmaak wat ’n slim dokter met ’n paar gerusstellende woorde uit die weg sal ruim. Hy sug innerlik. Dokter wees verg soveel meer as net kennis van die mens se binnegoed.
“Daar is hoop,” is hy dankbaar om te kan byvoeg. Dis altyd sleg om te sien hoe so ’n groot, sterk man grond toe gebring word, soveel te meer as dit een is wat ’n vriend geword het en wat jy op verskeie vlakke bewonder. “Ek sal dalk weer moet ingaan en ’n bietjie arbitreer. Hopelik is jou lyf nie so hardkoppig tydens onderhandelings soos jy nie.”
Die antwoord wat kom, is egter beslissend:
“Nee.”
“Basson, hoor hom ten minste uit,” kom dit van André. Hy sit weer sy bril op, wat die dokter al afgelei het as ’n soort masker dien as hy nie wil wys wat hy voel nie; nou sit hy dit op, netnou haal hy dit weer af, dan verstel hy dit, verstel dit nogmaals.
“Ek gaan nie weer aan my laat sny nie,” laat Basson senior hoor. “Genoeg is genoeg.”
Dokter Scholtz frons. “Basson, die feit van die saak is, jy het nie eintlik ’n keuse nie. Jou hart gaan dit nie …”
“Met alle respek gesê,” onderbreek sy pasiënt hom en tik teen sy bors asof dit ’n deel van sy liggaam is waarby hy nou maar min belang het, “dié … is nie my hart nie. Myne het ek al jare terug verloor en ek dink dis tyd om hom weer te gaan vind.”
En hy draai na André.
“Maak die oproep.”
André se uitdrukking wys wat deur sy gedagtes gaan: Ek moet maar. Hy knik, haal sy selfoon uit sy hemp se bosak, begin ’n oproep maak en verdwyn agter die gordyntjie.
“Kan ek jou ten minste na ’n privaat kamer toe skuif?” vra dokter Scholtz. Hy weet nie wat Basson bedoel met daardie verwysings na ’n hart wat hy jare terug verloor het nie, en dis nie sy besigheid nie. Sy besigheid is hier en nou, sy besigheid is die pasiënt se gemak.
“Dankie, maar nee dankie. Ek verkies nog altyd die geselskap hier.”
Dan bly daar nie veel oor om te sê nie. “Jy besef jy gaan moet aftree,” merk die dokter op. “Ek is seker jou seun is al bekwaam genoeg om die leisels oor te neem.”
Dalk is daar ’n sweempie van kommer op die ander man se gesig, maar indien wel, is dit so vinnig weg as wat dit gekom het. Basson van Rensburg laat nie die wêreld in op sy hartsgeheime nie.
* * *
Nadat die dokter geloop het, kyk Basson na die kassie langs sy bed. Dit voel of dit in ’n ander vertrek staan, en tog is dit reg langs hom. Hy is so moeg asof hy pas ’n maraton voltooi het en daar lê nog een voor!
Hy sug. Frons. Kyk na die voorwerp wat hier langs hom bo-op twee boeke lê en glim. ’n Goue voorwerp, rond, wat hy nou optel, nader bring, oopmaak met die soort gebaar wat kom van jare se vertroudheid. Hy blaas weer asem uit, maar dié keer is dit ’n ander soort sug.
Die soort wat kom van onthou.
Hy sien die naald beweeg …
En vryf oor die kompas, saggies en tog ferm. Vryf daaroor soos karakters in ou fantasieverhale oor lampe gevryf het om iets wonderliks op te tower.