Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 12
Algemeene Handelaar
ОглавлениеErnst van Heerden (1916-1997)
1My pa se dorpswinkel was
2argitektonies onooglik,
3met twee verspotte uitstalvensters,
4’n wye stoep
5en gewel-reklame
6met spelfoute en al,
7maar binne
8tussen be-noude opeenhopings
9van allerlei negosies
10was daar
11die onkoopbare koopware:
12toegeneentheid en liefde
13vir personeel, klante, besoekers,
14handelsreisigers, skoolkinders,
15en sommer in- en uitlopers wat groet;
16daarom dat ’n bepaalde spieël
17in daardie kasarm van ’n winkel
18se “vroue klerasie afdeeling”
19my eendag lank ná sy dood betrap:
20waar ek ’n keps soos hy dra
21en sy dounat-roosknop op my lapel
22en ’n spoggerige (sy) sakdoek
23en ek my wenkbroue streel soos hy
24en my neussnawel syne herhaal
25en my oë nadenkend word soos syne
26en my mond
27’n bekende pyn-trek kry.
(Uit: Groot Verseboek 2000. Tafelberg 2000)
Postlees: Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek:
Vrae oor die kenmerke van die gedig.
1. a. Wie is die spreker in die gedig?
b. Gee twee opeenvolgende woorde om jou antwoord te motiveer.
2. Kyk na die gedig se uiterlike vorm.
a. Uit hoeveel strofes bestaan die gedig?
b. Versreëls is die reëls waaruit die gedig bestaan. Hoeveel versreëls het die gedig? (Skryf jou antwoord in woorde uit.)
3. Hoe sal jy die rym en ritme van die gedig beskryf?
4. In versreël 23 en 24 kom ’n voorbeeld van ’n vergelyking voor.
a. Skryf die vergelyking neer.
b. Watter twee dinge word met mekaar vergelyk?
5. Kies die regte antwoord. Die beeldspraak tussen versreël 16 tot 19 is ’n voorbeeld van (’n) . . .
a. vergelyking.
b. metafoor.
c. personifikasie.
6. Wat is die gedig se boodskap? Hoekom sê jy so?
7. Hoe voel jy wanneer jy die gedig lees?
Vrae oor die inhoud van die gedig.
8. Waarvoor word uitstalvensters gebruik?
9. Die spreker se pa kon waarskynlik nie baie goed spel nie. Skryf twee woorde neer wat die pa verkeerd gespel het.
10. Waarom dink jy word “be-noude” met ’n koppelteken gespel?
11. In die winkel kan jy twee dinge verniet kry.
a. Noem die dinge wat jy verniet kan kry.
b. Waarom is die twee dinge verniet?
12. In versreël 13 word na ’n klant verwys. Wat is die verskil tussen ’n klant en ’n kliënt?
13. Die gedig bestaan uit drie dele. Som elke deel in een sin op. Gebruik die volgende tabel:
Dele van die gedig | Beskrywing |
a. Vers 1 tot 6 | |
b. Vers 7 tot 15 | |
c. Vers 16 tot 27 |
14. In versreël 13 tot 15 word verskillende persone genoem. Elkeen besoek die winkel om die een of ander rede. Voltooi die tabel en vul elkeen se moontlike rede in:
Persoon | Doel van die besoek |
a. Personeel | |
b. Klante | |
c. Besoekers | |
d. Handelsreisigers | |
e. Skoolkinders | |
f. In- en uitlopers |
In hierdie aktiwiteit gaan jy
die kenmerke van ’n tydskrifartikel bespreek
’n tydskrifartikel skryf.
Skryf ’n tydskrifartikel
Skrywers skryf in tydskrifartikels hoe hulle oor iets voel of iets ervaar. Lees weer die artikel in Aktiwiteit 1. Jy moet ’n artikel van ongeveer 120-140 woorde vir julle skoolkoerant oor die vlooimark (in Aktiwiteit 2) skryf.
Die tydskrif- of koerantartikel
Die opskrif moet die aandag trek en interessant wees.
Die styl moet persoonlik wees en direk tot die leser spreek.Die styl kan beskrywend en figuurlik wees en ’n beroep doen op die lesers se verbeelding.Name, plekke, tye, standpunte en enige ander besonderhede behoort in die artikel ingesluit te word.Die artikel moet belangstelling wek en, soos ’n advertensie, die leser aanmoedig om die produk of diens te gebruik.Paragrawe behoort nie te lank te wees nie en behoort die leser se aandag te boei.Die lettertipe behoort lig en aantreklik te wees.
Onthou om die volgende stappe van die skryfproses te volg:
beplan jou artikel eers
skryf ’n eerste konsep
hersien jou artikel
redigeer jou artikel saam met maats
proeflees en bied jou finale produk vir assessering aan.
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou artikel formeel assesseer vir Taak 2 in kwartaal 1.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
taalkennis hersien.
Jy kan die Taalgids gebruik as jy vashaak.
Taal in konteks
Kyk na die prentjie.
Beantwoord die volgende vrae oor die prentjie.
1. ’n Idioom kan uit die prentjie afgelei word.
a. Skryf ’n idioom met die woord “hande” neer wat jy uit die prentjie kan aflei. (1)
b. Skryf die betekenis van die idioom neer. (1)
2. Skryf die regte vorm van die byvoeglike naamwoord tussen hakies neer.
a. Die (arm) seun weet nie meer wat om te doen nie. (1)
b. Hy sit met ’n (verbaas) uitdrukking. (1)
3. Skryf ’n intensiewe vorm van die skuinsgedrukte woorde neer. (1)
Sy hemp is nie baie bruin nie, maar grys.
4. Vorm ’n samestelling met die woorde tussen hakies. (1)
Die seun se (hemp+mou) is opgerol.
5. Lees die volgende sin.
Pasop vir mense met lang vingers as jy ’n vlooimark hou.
a. Word die skuinsgedrukte woorde letterlik of figuurlik bedoel? (1)
b. Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
6. Skryf die sinne oor en vul die regte leestekens in. (3)
a. Daar is ’n pen papier uitveër en ’n liniaal op die tafel.
b. Toe ek dit hoor was ek baie bly.
c. Die seun wonder: Ken ek my werk
7. Kies die regte spelling tussen hakies. (2)
a. Onthou om baie (foto’s/fotos) te neem.
b. Kyk na die pragtige ou (spieel/spieël).
8. Skryf die sin oor soos tussen hakies aangedui. (2)
a. Die dorpswinkel was baie lelik. (Teenwoordige tyd)
b. Die seun leer vir Wiskunde. (Verlede tyd)
Totaal: 15 punte
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n drama lees
die tekskenmerke van ’n drama bespreek
vrae oor die drama beantwoord.
In Module 3 en 4 het jy idees gekry hoe om ’n entrepreneur te word. Van Frans se idees vir sy kitskosplek tot idees om jou eie baas te wees. Skelms is egter nie altyd lus om hul geld eerlik te verdien nie.
Die drama is ook ’n afdeling in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. Bespreek eers die volgende vrae oor ’n drama voordat jy jou leesboek oopmaak.
Prelees: Gesels met jou maat oor die volgende.
Hoe verskil ’n drama van ’n kortverhaal of volksverhaal?
Het jy al ’n verhoogdrama gesien? Vertel vir mekaar daarvan.
Is ’n sepie of rolprent ook ’n drama? Hoekom sê jy so?
Kyk nou na die volgende foto. Bespreek dit met jou maat.
Dink jy ’n grot kan gevaarlik wees? Waarom sê jy so?
Wat is ’n “smokkelaar”?
Wat dink jy het die grot en smokkelaars in gemeen (in common)?
Verdeel nou in groepe van sewe elk. Meisies kan ook die rolle van mans speel. ’n Paar van julle kan vir die rekwisiete (props) sorg.
Tydens lees: Lees nou die drama “Die grot en die smokkelaars” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek in jou groep. Oefen dan om die drama te rollees.
Postlees: Gesels met mekaar oor die volgende vrae.
Waar speel die drama af? Hoe weet jy dit?
Hoe word die karakters vir die leser aangedui?
Hoe weet jy waarmee die karakter besig is?
As jy een van die karakters is, hoe weet jy wanneer dit jou beurt is?
Beantwoord nou die vrae in die leesboek in jou werkboek.