Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 6

Оглавление

Begin die module en luister na ’n toespraak oor hoe en wanneer om ’n selfoon te gebruik. Lees dan ’n transkripsie van die toespraak en kyk na die toespraak se struktuur wanneer jy die vrae beantwoord. Skryf dan jou eie toespraak wat jy vir die klas moet aanbied.

Lees en kyk ook na ’n strokiesverhaal en berig. Toets jou leesbegrip en beantwoord die vrae oor die teks.

Jy gaan leer van leestekens, die selfstandige naamwoord en die lidwoord. Pas al jou taalkennis toe terwyl jy verskillende taalvrae beantwoord.

Wat weet jy van ’n volksverhaal af? Gebruik jou Piekfyn Afrikaans Leesboek en lees van “Die slim slangman”.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 na ’n toespraak luister

 vrae oor die toespraak beantwoord

 leestekens reg gebruik.

Luister na ’n toespraak

Toesprake is deel van enige persoon se lewe. Jy moet leer hoe om voor ’n klas te kan staan en praat.

Preluister: Elke aand sien jy op die televisie hoe presidente en ministers toesprake lewer.

Bespreek eers die volgende vrae met ’n maat:

 Hoe moet jy staan wanneer jy ’n toespraak lewer/aanbied? Waarom?

 Wat in ’n toespraak sal jou aandag trek? Hoekom sê jy so?

Tydens luister: Jou onderwyser gaan ’n toespraak vir jou lees. Doen die volgende terwyl jy luister:

 Luister net eers terwyl jou onderwyser die toespraak lees.

 Kyk dan na die vrae.

 Luister weer wanneer jou onderwyser die toespraak ’n tweede keer lees. Jy kan nou notas afneem.

 Beantwoord dan die vrae.

Postluister: Beantwoord die volgende vrae oor die toespraak saam met jou maat.

1. Waaroor gaan hierdie toespraak?

2. Wat is die onderwerp van die toespraak? Vertel in jou eie woorde.

3. Wie word eerste aangespreek?

4. Watter soort taal word gebruik? Is dit formeel of informeel? Waarom dink jy is dit so?

5. Hoe word die gehoor se aandag onmiddellik getrek? Dink jy dit werk?

6. Watter tipe bewyse word vir die argumente gegee?

7. Het die toespraak jou oortuig? Hoekom/Hoekom nie?

8. Hoe sluit die spreker die toespraak af?

9. Vertel wat jy alles van die toespraak kan onthou.


Taal in konteks

Dit is belangrik om leestekens in toesprake reg te gebruik. Lees die Taalgids en In ’n neutedop waar leestekens bespreek word.


(Meer leestekens word in die Taalgids bespreek.)

Leestekens

Die punt ( . )

 Aan die einde van ’n sin, al is dit een woord: Slaap.

 By afkortings: s.nw.; bv.

Die komma ( , )

 Tussen twee of meer selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde en werkwoorde. Vir die uitstappie het Hannes pen, papier, woordeboeke en sy selfoon nodig.

 Tussen twee gesegdes. Toe Thomas hom sien, was hy geskok.

 Voor of na die naam van iemand wat aangespreek word. “Hannes, dit is die reeksmoordenaar!”

Die kommapunt ( ; )

 By woorde soos dus, daarom, nogtans, derhalwe. Thomas was lank siek; dus het hy gaan kuier.

Die dubbelpunt ( : )

 Voor opsommings. Jy moet onthou om die volgende saam te bring: jou selfoon, notaboek, pen en sakgeld.

 By die direkte rede. Thomas vra: “Het jy hom ook herken?”

Die vraagteken ( ? )

Aan die einde van ’n vraagsin. “Het jy hom herken?”

Die uitroepteken ( ! )

Aan die einde van ’n uitroep- of bevelsin. Maak oop die deur!

Hakies

Dui verdere of nuwe inligting aan. Ronde hakies word gebruik om ’n letter, ’n woord of selfs sin as verduideliking, vertaling of wisselvorm by te voeg. Byvoorbeeld: gister (Saterdag); Curriculum Vitae (lewensbesonderhede); opdraand(e)

Die ellips ( . . . ) bestaan uit drie punte of kolletjies

 Word gebruik om ’n atmosfeer te skep soos spanning, afwagting, beklemtoning en onsekerheid.

 Dui ’n verloop van tyd aan.

Aanhalingstekens ( “ ” )

Dit word gebruik om iemand se direkte woorde aan te dui (direkte rede): “Christien, ek moet met jou praat.”

Beantwoord die volgende taalvrae.

1. Skryf die volgende sinne oor en voeg die korrekte leestekens in:

a. Ai dit is maar moeilik het Hannes verskrik uitgeroep

b. Wat het Alex gevra toe sy die SMS kry

c. Jeff het nader gekom en gevra om pret te hê

d. Wat jy nie moet vergeet nie is om nie moed te verloor nie

e. Die moordenaar wie se foto deurgefaks is staan langs ons

2. Verdeel die skuinsgedrukte woorde in lettergrepe. Skryf of die lettergrepe oop of geslote is.

a. Geagte voorsitter, dames en here.

b. Selfone is deel van moderne tegnologie.

3. In die volgende sin is sekere woorde verkeerd gespel en uitgespreek. Skryf die sin oor. Onderstreep die woorde wat jy reggemaak het.

As die selfoon ly, kan dit die kinners se andig aftrek.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n transkripsie van die toespraak lees

 vrae oor die toespraak beantwoord

 taalkennis toepas.


Lees ’n toespraak

Lees nou ’n transkripsie van die toespraak waarna jy geluister het.

Prelees: Lees die toespraak saam met ’n maat deur. Kyk na die opmerkings regs.

 Hoe verskil die tema en onderwerp van mekaar?

 Hoekom moet die onderwerp ’n werkwoord hê?

Tydens lees: Lees die transkripsie nou op jou eie deur. Kyk uit watter verskillende dele die toespraak bestaan.

SelfoneTema
Tegnologie is wonderlike gereedskap (wonderful equipment) as jy dit reg en verantwoordelik (responsibly) gebruikDie onderwerp. Dit moet die gehoor kan oortuig (convince). ’n Standpunt word gestel. Die onderwerp moet ’n werkwoord bevat.
Struktuur
VoorsitterDie persoon wat aangepreek word.
“Druk die groen knoppiedruk die groen knoppieag man, druk tog net die groen knoppie nou!!”’n Aanhaling om die gehoor se aandag onmiddellik te trek.
Inleiding
Ja geagte voorsitter, dames en here,selfone, soos baie ander elektroniese artikels, kan jou aandag aftrek. Mense moet leer wanneer en waar ’n selfoon beantwoord of gebruik kan word. Leerders se aandag word maklik in die klaskamer afgetrek as ’n selfoon lui. So word hulle leer onderbreek.Tegnologie is wonderlik en gepas as dit reg en verantwoordelik gebruik word.Die gehoor word aangespreek.
’n Kort inleiding en dan die onderwerp/standpunt wat gestel word.
Inhoud
Dit is ook ongeskik (impolite) om jou selfoon te beantwoord as ’n spreker praat of ’n aanbieding lewer. Ek hoop dus al julle selfone is afgeskakel of op vibreer. Ja, ons almal het selfone nodig en voel saans meer gerus as ons alleen is of ons kan ons ouers na sport of koor bel. Maar beslis nie in ’n klas wanneer jy moet leer nie. Gebruik jou stukkie suurstoftegnologie (oxygen technology) op die regte tyd en plek.’n Stelling word gegee, bespreek en gemotiveer.
Selfoongebruik is deesdae so algemeen dat dit moeilik is om dit te beheer. Veral op skoolvlak. Selfone is deesdae ’n item om te gebruik en op trots te wees. Net soos Nelson Mandela vir Suid-Afrikaners.
My ma lees onlangs op die webtuiste www.findarticles.com oor ’n Amerikaanse onderwyser se reëls oor selfone. As ’n selfoon in die klas lui, moet die leerder dit oorhandig en sy beantwoord die selfoon. Sy het al met twee meisies se kêrels, drie seuns se meisies en ’n ouer gesels. Dit het nie weer gebeur nie.Hierdie onderwyser het haar leerders geleer hoe om selfone gepas (appropriately) en verantwoordelik te gebruik. Ek wonder met wie my onderwyser sal gesels as sy selfone moet beantwoord.Bewyse word gegee om stelling te motiveer.
Voorsitter, dames en hereMnr. Tebogo Ngwenya, ’n onderwysspesialis, voel dat skole nie verant­woordelik gehou kan word as ’n selfoon gesteel word nie. Dit is die leerder se verantwoordelikheid om sy/haar eiendom op te pas.’n Kundige word aangehaal om die gehoor verder te oortuig.
Slot
Dames en hereTegnologie, soos hierdie klein, pragtige en soms irriterende instrumentjie, die selfoon, het ’n plek in die skool en samelewing. Vandag, môre en oormôre.Die goue reël (golden rule) is egter: druk daardie groen knoppie slegs as dit gepas is en jy verantwoordelikheid kan aanvaar.Dit som die toespraak se inhoud kortliks op. Die gehoor moet nou finaal oortuig word.

Postlees: Beantwoord die volgende vrae oor die toespraak.

Vrae oor die inhoud van die toespraak.

1. Wanneer kan tegnologie goed wees? Gee twee redes.

2. Van watter groen knoppie praat die spreker?

3. Wat kan gebeur as ’n selfoon in die klas lui?

4. Waar het die spreker se ma die inligting oor die onderwyseres gekry?

Afleiding.

5. Skryf of die volgende waar of onwaar is. Gee ’n rede vanuit die toespraak vir jou antwoord.

Nie baie mense het deesdae selfone nie.

6. Kies die regte antwoord.

Die Amerikaanse onderwyser het in totaal met . . . mense gepraat.

a. twee

b. drie

c. ses

7. Skryf ’n woord uit die inhoud neer wat dieselfde beteken as “om nie vriendelik teenoor ander mense te wees nie”.

8. Is mnr. Tebogo Ngwenya se woorde ’n feit of ’n mening? Hoekom sê jy so?

Wat dink jy van die toespraak?

9. Wat sal jy in die toespraak wil byvoeg of verander? Hoekom/Hoekom nie?

10. Wie dink jy sal na hierdie toespraak luister? Hoekom sê jy so?

Taal in konteks

Leer meer van die selfstandige naamwoord in In ’n neutedop en die Taalgids.


Selfstandige naamwoord (s.nw.)

Ons ken ’n selfstandige naamwoord aan die volgende:

 Die lidwoorde “ ’n” en “die” kan voor die woord geskryf word.

 Die selfstandige naamwoord het gewoonlik ’n meervoud en verkleining.

 Sekere selfstandige naamwoorde het ook manlike en vroulike geslag. Byvoorbeeld: mannetjie – wyfie, bul – koei.

Onthou wanneer jy meervoud of verkleining skryf:

As ’n woord ’n kort vokaal het, word die konsonant na die vokaal in die meervoud en verkleining dubbel geskryf, byvoorbeeld hysbak – hysbakke.

As ’n woord ’n dubbelvokaal het (been), val een vokaal weg wanneer die meervoud geskryf word, byvoorbeeld selfoon – selfone.

Soorte selfstandige naamwoorde

 Soortname is die name van voorwerpe waaraan jy kan vat en wat jy kan sien, byvoorbeeld: das, mes.

 Eiename is die name van mense, diere, plekke, ensovoorts, byvoorbeeld: Thomas, Hannes.

 Versamelname is woorde wat ’n versameling van dieselfde tipe voorwerpe of mense aandui. Byvoorbeeld: ’n Span osse.

 Abstrakte selfstandige naamwoorde is dinge waaraan ’n mense nie kan vat en wat jy nie kan sien of kan ruik nie. Dit is woorde soos liefde, ongeduld, woede.

Lidwoorde

In Afrikaans kom daar twee soorte lidwoorde voor:

 Onbepaalde lidwoord: ’n Man. (Verwys nie na ’n spesifieke man nie.)

 Bepaalde lidwoord: Die man. (Verwys na ’n spesifieke man.)

Beantwoord die volgende taalvrae in jou werkboek.

1. Teken die tabel in jou werkboek oor. Vul dan die regte enkelvoud, meervoud of verkleining in.

EnkelvoudMeervoudVerkleining
onderwysspesialis
verantwoordelikheid
instrumentjie

2. Kies die regte versamelnaam uit kolom B om by die woorde in kolom A te pas.

Kolom AKolom B
’n . . . potlode.’n . . . papier.’n . . . gedigte.bundelriempaksak

3. Die woord “knoppie” kan verkeerd as “knopie” gespel word. Maak ’n sin met die woord “knopie”.

4. Kies die regte lidwoord tussen hakies.

a. Daar stap (’n/die) man van wie ek jou vertel het.

b. Dit is moeilik om (die/’n) goeie selfoon te kry.

5. Skryf die regte vorm van die woorde tussen hakies.

a. Daar is nie baie (foto) geneem nie.

b. Dit is maar ’n klein (skerm) wat jou selfoon het.

c. Sjoe, maar al die (kleur) verskil van mekaar.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n toespraak skryf

 vereistes van ’n toespraak nakom en toespraakstruktuur gebruik

 vir ’n spesifieke teikengroep skryf.

Beplan ’n toespraak

Jy weet nou waaroor ’n voorbereide toespraak gaan. Jy moet nou self ’n toespraak gaan beplan en skryf. Jy gaan hierdie toespraak later aanbied.

Die wenke in Pitkos kan jou help ’n goeie toespraak voor te berei.


Toespraakstruktuur

Onthou: dit is ’n oorredingstoespraak. Jy moet mense van jou standpunt oortuig.

Inleiding

Kry ’n goeie aanhaling wat by die onderwerp pas. Jy moet die gehoor se aandag onmiddellik trek.

Inhoud

Hier moet jy minstens twee of drie argumente kan noem en beredeneer.

Dit is ook belangrik dat jy jou argument met toepaslike voorbeelde kan toelig/motiveer.

Elke argument met sy ondersteunende gedagtes moet aansluiting vind by jou onderwerp. Moenie van jou onderwerp afdwaal nie!

Slot

Vat jou inhoud/argumente saam in ongeveer twee tot drie sinne. Hierdie is die finale kishou vir jou gehoor.

Jy moet kragtig opsom hoe jy oor die saak voel. Gebruik ’n gepaste idioom of pas die idioom spesiaal vir jou aanbieding aan. Wees oorspronklik.

Die slot moet nie te lank wees nie.

Gaan berei nou ’n toespraak van ongeveer 2-3 minute oor een van die temas op die volgende bladsy voor. Jy moet self ’n onderwerp formuleer.

Onthou:

 Die onderwerp moet ’n werkwoord bevat.

 Jy moet ’n standpunt stel waarvan jy die mense kan oortuig.

 Beplan jou toespraak volgens die verskillende stappe van prosesskryf. Blaai terug na die vorige module as jy vergeet het hoe.


Temas

 Vriende

 Kleredrag

 Afrikaans

Formele assessering: Gebruik die volgende kontrolelys om jou aanbieding te finaliseer en assesseer. Jou onderwyser kan julle toespraak formeel assesseer vir Taak 1 in kwartaal 1.

KriteriaJaNeeKort aandag
Ek het standpunt ingeneem.
Ek het verskeie bronne geraadpleeg en genoem.
Ek het ’n gepaste inleiding wat onmiddellik die gehoor se aandag getrek het.
My hoofgedagtes is georganiseer en bevat toepaslike ondersteunende besonderhede.
Ek het ’n gepaste slot wat my gehoor nog lank sal onthou.
Ek het gepaste woordeskat en taalstrukture gebruik.

In hierdie aktiwiteit gaan jy

 oefen en jou toespraak in die klas aanbied.

Bied jou toespraak aan


Jy het jou toespraak beplan en neergeskryf. Jy moet dit nou in die klas aanbied.

Onthou die volgende wanneer jy jou toespraak voor ’n gehoor aanbied:


Voorkoms en houding: Sorg dat jy netjies lyk. Praat met selfvertroue. Moenie te veel rondbeweeg of rondtrap nie.

Stem, spraak en uitspraak: Praat so dat almal jou kan hoor. Moenie te hoog (toonhoogte) praat nie. Wissel jou stem natuurlik. Spreek die woorde duidelik en hoorbaar uit. Breek sinne op die regte plek (frasering).

Gebare en notas: Gebare moet spontaan en met ’n rede gebruik word. Dit moet nie die gehoor se aandag van jou toespraak aftrek nie. Notakaartjies moet nie te groot of helderkleurig wees nie. Wissel dit so dat die gehoor dit nie agterkom nie.

Gehoorkontak: Jy moet die gehoor kan oortuig. Kyk na hulle terwyl jy praat. Jou liggaam en gebare moet ook met hulle “kontak” kan maak sodat hulle besef jy praat met hulle. Jy moet jou gehoor se aandag behou. Pasop om nie op jou gehoor te skreeu en hulle te oordonder nie.

Gaan oefen nou om jou toespraak in die klas te kan aanbied. Jou onderwyser sal die rubriek met jou bespreek.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n strokie vir begrip lees en bekyk

 vrae oor die strokie beantwoord

 die kenmerke van ’n strokie verstaan

 ’n berig lees en vrae beantwoord

 taalkennis toepas.

Lees en kyk na ’n strokie vir begrip

Strokiesprente kom elke dag in sekere koerante voor. Strokies het sekere kenmerke. Lees die wenke in Pitkos.


Strokiesprente en -verhale

Die doel van strokies is om mense/die leser te vermaak.

 Sekere strokies en selfs spotprente lewer kommentaar op ’n sosiale gebeurtenis of politiek. Dit spot soms met bekende mense. Dink aan die strokies van “Madam en Eve”.

 Strokiesverhale is in raampies en bevat soms dialoog. Die dialoog kom in praatborrels binne die raampies voor. Dit kan ook as verhalende dele onder die raampie voorkom.

 Die raampies is in chronologiese volgorde geteken.

 Die illustreerder (die persoon wat die strokie teken) gebruik sekere elemente om vir die leser te wys wat gebeur. Iemand wat baie moeg is, het dalk sweetdruppels of ’n woord wat die klank naboots.

Lees en kyk na die volgende strokie.

Eddie en Etha


Beantwoord die volgende vrae oor die strokie.

1. Wie is die hoofkarakters in die strokie? Gee ’n rede vir jou antwoord. (2)

2. Waaroor gaan die strokie? (1)

3. Waarmee is Etha in raampie 1 besig? Hoe weet jy dit? (2)

4. Hoe weet jy die telefoon lui in raampie 1? (1)

5. Op watter ander manier kan die illustreerder ook aandui dat die telefoon lui? (1)

6. Hoe sal jy Etha se gesigsuitdrukking in raampie 2 beskryf? (1)

7. Kies die regte antwoord. Die “$@%!” in raampie 2 beteken dat sy . . . (1)

a. ’n vreemde taal soos Chinees praat.

b. nie weet wat om te sê nie.

c. vloekwoorde/kru taal gebruik.

8. Voltooi die sin: “Daardie ding” waarvan Etha in raampie 2 praat, verwys na . . . (1)

Totaal: 10 punte


Lees ’n koerantberig

Lees ook die volgende koerantberig. Kyk eers na die illustrasie.

Prelees: Kyk na die illustrasie.

Gesels met jou maat oor die volgende vrae:

 Wat dink jy het met die meisie se duim gebeur? Hoekom sê jy so?

 Beskryf wat jy alles uit die illustrasie kan aflei.

Voorspel: Lees die titel en voorspel waaroor die berig gaan.

Lees die stelling in die middelste kolom en merk dan jou antwoord in die eerste kolom af. Nadat jy die berig gelees het, merk jy weer jou antwoord in die laaste kolom af. Vergelyk dan jou antwoorde.

Voordat jy die storie lees.StellingNadat jy die storie gelees het.
Stem saamStem nie saam nieDie berig gaan oor iemand wat sy/haar duim gebreek het.Stem saamStem nie saam nie
Stem saamStem nie saam nieIemand het te veel SMS’e gestuur.Stem saamStem nie saam nie
Stem saamStem nie saam nieJy kan nie jou duim met SMS’e seermaak nie.Stem saamStem nie saam nie

Tydens lees: Lees die berig nou aandagtig op jou eie deur.

Duim-“ontsteking” van SMS’e

ROME – ’n Italiaanse tienermeisie kan luidens (according to) berigte nie haar duim beweeg nie nadat sy glo sowat 100 SMS’e per dag gestuur het.

Die dagblad Corriere della Sera berig dié 14-­jarige meisie van die noordwestelike stad Savona het volgens dokters ernstige seningontsteking opgedoen as gevolg van haar verslawing (addiction) aan die stuur van SMS’e.

Dokters sê dié sogenaamde SMS-besering, wat van verbygaande (temporary) aard is, word toenemend ’n probleem onder selfoongebruikers. – Sapa-DPA

(Uit: Beeld)

Postlees: Gebruik jou soek- en vlugleesvaardighede en beantwoord die vrae oor die koerantberig

Vrae oor die inhoud van die berig.

1. In watter land bly die meisie? (1)

2. Wat is die naam van die koerant wat die berig eerste geskryf het? (1)

3. Wat kan sy nie met haar duim doen nie? (1)

4. Skryf die meisie se ouderdom in woorde uit. (1)

Maak afleidings.

5. “Dit is nie seker of sy presies 100 SMS’e geskryf het nie.”

a. Is die sin waar of onwaar? (1)

b. Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)

6. Skryf die regte antwoord in. Die dorpie Savona is . . . (rigting) van die hoofstad Rome geleë. (1)

7. Skryf ’n woord uit die laaste paragraaf neer wat dieselfde beteken as “dit sal nie lank aanhou nie”. (1)

Wat dink jy van die berig?

8. Voel jy jammer vir die meisie? Hoekom/Hoekom nie? (1)

9. Watter raad kan jy vir die meisie gee? (1)

Totaal: 10 punte

Taal in konteks

Beantwoord die volgende taalvrae oor die berig.

1. Skryf die regte vorm van die woord tussen hakies. (2)

a. Die meisie het ’n (verskrik) gesig.

b. Sy het baie (lank) hare.

2. Skryf ’n intensiewe vorm vir die woord tussen hakies. (1)

Nie almal hou van (baie bruin) hare nie.

3. Kies die regte spelling tussen hakies. (3)

a. Die meisie se (kêrel/kerel) het al die SMS’e gekry.

b. Eina, die (X strale/X-strale) wys my duim is gebreek.

c. Mense stuur meer (BBM’s/BBms) van hulle Blackberry af.

4. Skryf die sin oor. Vul dan die regte versamelnaam in. (2)

a. Ma was ’n . . . wasgoed.

b. Selfs die . . . dansers het hul selfone onthou.

5. Skryf die meervoud vir die skuinsgedrukte woorde. (2)

a. Die dagblad het die berig gepubliseer.

b. Savona is ’n stad.

6. Skryf die verkleining van die skuinsgedrukte woord. (1)

Die besering is nie te erg nie.

7. Skryf die sin in die indirekte rede oor. (2)

Carina sê: “My duim se sening is beseer.”

8. Gebruik die voegwoord tussen hakies en verbind die twee sinne. (2)

Sy het seningontsteking. Sy stuur ’n SMS. (nadat)

Totaal: 15 punte

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 3 in kwartaal 1.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 die kenmerke van ’n volksverhaal bespreek

 ’n volksverhaal selfstandig lees

 die volksverhaal in groepe bespreek.

Selfstandige lees

In die vorige module het jy met ’n kortverhaal kennis gemaak. ’n Ander literêre teks is die volksverhaal (folklore). Blaai na die afdeling oor volksverhale en hoe volksverhale ontstaan het in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek.


Prelees: Bespreek die volgende vrae saam met jou maat.

 Ken jy ’n volksverhaal wat jou ouers of ouma en oupa al vir jou vertel het? Vertel dit vir mekaar.

 Waarom weet niemand wie die storie die eerste keer begin vertel het nie?

 Waarom dink jy kan dieselfde volksverhaal verskillende weergawes (versions) hê?

 Kyk na die foto. Vertel vir jou maat wat jy alles uit die foto kan aflei.

 Vergelyk hierdie foto met die illustrasie in die leesboek. Watter afleiding kan jy oor die volksverhaal maak?

Tydens lees: Blaai nou na die volksverhaal “Die slim slangman” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. Lees die verhaal aandagtig op jou eie deur. Beantwoord dan die vrae in die leesboek in jou werkboek.

Postlees: Beantwoord nou die volgende vrae saam met jou maat.

1. Waar speel die verhaal af?

2. Wie is die hoofkarakter in hierdie volksverhaal?

3. Watter afleidings kan jy vanuit die volksverhaal oor die sultan maak?

4. Sou jy die sultan kon vermaak?

5. Van watter karakter hou jy die minste? Hoekom sê jy so?

Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх