Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 5

Thomas@SMS.net

Оглавление

Carina Diedericks-Hugo

1Verveeld (bored) sit Thomas deur sy ou SMS-boodskappe en lees. Hy glimlag toe hy die een sien wat Lizemarie nou die dag vir hom gestuur het: Xsmaak jou ore 100! Flippit! As Alex moet weet ’n ander meisie het dít vir hom gestuur, sal sy baie vies wees!

2Thomas loer na die man langs hom. Die man staar (stare) net voor hom uit. Sy hande is in sy baadjiesakke gedruk. Hy lyk regtig weird. So asof hy nie eintlik hier is nie.


3“Is Oom ook ’n advokaat?” vra Thomas versigtig.

4“Nee,” sê die man en kyk nie na Thomas nie.

5Thomas kyk weer na die man en trek sy asem in. Dit is die man op die foto wat nou net na sy pa toe gefaks is! Die reeksmoordenaar (serial killer)! Hy is amper doodseker daarvan!

6Die man draai skielik na Thomas en kyk hom met donker oë aan.

7“Wou jy nog iets gevra het?” vra hy.

8“Eh, nee, Oom,” stamel Thomas. Sy oog val op die man se wit hemp. Verbeel hy hom of is daar klein rooi spatsels op die hemp? Die man draai vinnig weg.

9Thomas haal weer sy selfoon uit en probeer sy pa bel. Nog steeds beset (engaged). Langs hom haal die man iets uit sy baadjiesak. Hy trek sy baadjie effens weg en Thomas voel hoe sy hart vinniger begin klop. Hy wil nou nie snaaks wees nie, maar daar steek ’n moewiese (massive) mes uit die man se binnesak! Blitsvinnig begin Thomas tik: d ou is d reeksmoordenaar!

10Hannes se selfoon biep en Thomas sien hoe hy frons en dan na die man kyk. Hy SMS terug: jo bryn lek.

11Thomas probeer weer ongemerk (unnoticed) na die man kyk. Ja, dit is die man van die foto! Dieselfde lang gesig, dooie, donker oë en ingesonke wange. Hy weet die ou is net ’n verdagte, maar hoekom loop hy met die doktershandskoene rond? En hoekom is daar bloedspatsels op sy hemp?

12Hy probeer Hannes se aandag trek, maar hy is besig om ’n SMS te tik. Hy het ’n snaakse skaapagtige glimlag op sy gesig – amper soos die keer toe hy vrot koejawels geëet het. Hy SMS weer: kyk moi!!!! Check hande & bloed op hemp! mes in sak!!

13Hannes sug en probeer ongemerk na die man kyk. Thomas hou hom gespanne dop. Hy trek sy vingers deur sy kort, donker hare. Hannes kyk skielik na Thomas en sy oë is groot.

14“Ehm, miskien moet ons iemand probeer roep,” sê Hannes en sy stem klink snaaks. Hy staan op en begin teen die hyser se deure hamer.

(Uit: Thomas@ SMS.net. LAPA UITGEWERS)


ongemerk (unnoticed) – sonder dat iemand jou raaksien

skaapagtige glimlag (sheepish smile) – dommerige glimlag, asof jy nie weet waaroor jy glimlag nie

sy oog val op die man se wit hemp (he spots something on the man’s shirt) – om iets raak te sien

verbeel (to imagine) – as jy nie seker is of jy iets gesien het nie

verveeld (bored) – as jy nie weet wat om te doen nie

vies (mad/cross) – om kwaad te wees

Lees die volgende inligting oor karakters in ’n storie.


Karakters

Die hoofkarakter is die belangrikste persoon in die storie. Die leser weet gewoonlik die meeste van hierdie karakter deur . . .

 hoe die karakter optree

 wat die karakter dink en doen

 wat ander van die karakter sê

 hoe die verteller die karakter beskryf.

Postlees: Beantwoord die volgende vrae oor die storie.

1. Wie is die hoofkarakter(s) in hierdie gedeelte? Hoekom sê jy so?

2. Wie is die ander karakters?

3. Skryf wat jy alles van die verskillende karakters kan aflei.

4. Hoe het jy gevoel toe jy die gedeelte gelees het?

Beantwoord nou die volgende vrae oor die inhoud van die teks.

5. Baie SMS-taal kom in die gedeelte voor. Skryf die volgende in goeie Afrikaans oor. Sê ook wat daarmee bedoel word.

a. “Xsmaak jou ore 100!” (paragraaf 1)

b. “jo bryn lek.” (paragraaf 10)

6. Hoekom lyk die man vir Thomas in paragraaf 2 “weird”?

7. Waarom dink Thomas die man is ’n reeksmoordenaar?

8. Maak ’n kort lysie van hoe die man aangetrek is.

9. Skryf ’n woord uit paragraaf 5 neer wat dieselfde beteken as om baie seker van jou saak te wees.

10. Kies die regte antwoord. Die man het volgens paragraaf 11 “ingesonke” wange. Dit beteken . . .

a. die man het nie wange nie.

b. die man se wange is donker.

c. die man is baie maer in sy gesig.

11. Waarom dink jy was Hannes se oë skielik in paragraaf 13 so groot?

12. Wat sou jy gedoen het as jy Hannes was?

13. Sal jy die boek verder wil lees? Hoekom?/Hoekom nie?


Taal in konteks

Beantwoord die volgende taalvrae. Jy kan die Taalgids ook gebruik om jou te help.

1. Skryf intensiewe vorme vir die onderstreepte woorde.

a. Thomas se ore is rooi toe hy die SMS lees.

b. “Ek dink ons sit vas,” sê Thomas benoud.

c. Die man in die hyser was maer.

d. Die man het swart hare gehad.

2. In paragraaf 10 is die woord “brein” as “bryn” gespel.

a. Hoe sal die woord gespel word as dit oorrond word?

b. Maak ’n sin met die oorronde uitspraak van die woord.

3. Verdeel die skuinsgedrukte woorde in lettergrepe. Skryf of die lettergrepe oop of geslote is.

a. Dit is die reeksmoordenaar.

b. Thomas se hart klop baie vinniger.

4. Skryf woorde met dieselfde betekenis as die skuinsgedrukte woorde neer (sinonieme).

a. Hy lyk regtig weird.

b. Daar steek ’n moewiese mes by sy baadjie uit.

5. Skryf antonieme vir die skuinsgedrukte woorde neer.

a. Die man kyk hom met donker oë aan.

b. Hy wil nie nou snaaks wees nie.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 prosesskryf se verskillende stappe hersien

 ’n verhalende opstel skryf.

Skryf ’n verhalende opstel

Lees eers die volgende inligting voordat jy ’n verhalende opstel skryf.


Verhalende opstel

 Die doel van die verhalende opstel is om te vermaak.

 Die inleiding stel die karakters en agtergrond bekend; die gebeure wat spanningslyn skep; afloop, oplossing of samevatting.

 Skryf in die eerste of derde persoon.

 Gebruik hoofsaaklik die verlede tyd.

 Beskryf die opeenvolgende gebeure.

 Gebruik woorde wat gebeure in tyd aandui, byvoorbeeld vroeg die môre of later.

 Dialoog kan gebruik word.

 Gebruik bywoorde, byvoeglike naamwoorde, beelde, en ander beskrywings wat die leser se aandag sal hou.

Prosesskryf bestaan uit verskillende stappe. Kyk na die volgende diagram.


Skryf nou jou opstel

Skryf ’n verhalende opstel van 180-210 woorde (4-7 paragrawe) oor een van die volgende foto’s:



Onthou die volgende vir jou opstel:

 Gebruik die wenke in Pitkos wanneer jy die opstel beplan.

 Maak ook seker jy gebruik die verskillende stappe van prosesskryf.

 Skryf ’n titel vir jou opstel.

 Skryf die aantal woorde neer wat jy gebruik het.

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou opstel formeel assesseer vir Taak 2 in kwartaal 1.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n artikel lees

 vrae oor die artikel beantwoord

 taalkennis hersien.

Gebruik die wenke in Pitkos wanneer jy ’n begripstoets moet beantwoord. Dit kan jou help om die verskillende soorte vrae reg te beantwoord.


Leesbegrip

Onthou die volgende stappe wanneer jou leesbegrip getoets word:

 Kyk na die titel en subtitel. Dit gee jou ’n idee waaroor die teks gaan.

 Lees die eerste paragraaf (inleiding) en die laaste paragraaf (slot).

 Die eerste sin van elke paragraaf gee inligting oor die paragraaf se inhoud.

 Lees nou die hele leesstuk aandagtig deur om vrae te beantwoord. Identifiseer die tema of hoofgedagte van die teks.

 Onderstreep woorde en/of frases wat jy nie verstaan nie.

 Lees die vrae goed deur om die antwoorde te kry wat jy soek.

 Nadat al die vrae beantwoord is, lees elke vraag en antwoord weer van voor af deur. Kyk vir woorde wat jy verkeerd gespel het. Maak ook seker jy het die regte leestekens gebruik.

Lees die volgende artikel aandagtig deur.

Verskillende soorte selfoongebruikers


Die manier (manner) hoe mense optree, bepaal (determine) hoe hulle die selfoon gebruik. Hulle kan met voëls vergelyk word:

Die windswaels. Hulle is permanent aan die beweeg, aan die praat en besig om teksboodskappe te stuur. Hulle is praatlustig, sosiaal en modern en gaan gemaklik en vol selfvertroue met die tegnologie om. Baie van hulle sal moeilik sonder hul mobiele fone kan oorleef. Hulle word tipies in die IT-bedryf aangetref.

Die uile. Hulle is alleenlopers. Hulle is baie privaat en gebruik hulle selfone baie min. Hulle steek dikwels hul selfone in hul klere of handsakke weg en moet wild daarna soek wanneer dit lui. Hulle is tipies skrywers, boekhouers of bibliotekarisse.

Die duiwe. Hulle is kalm en rustig en neem of maak oproepe sonder om hulself of dié om hulle in die verleentheid te stel of te pla. Hulle is stil en vol selfvertroue en kan die nuwe tegnologie sonder ophef gebruik. Hulle is tipies diplomate of onderwysers.

Die mossies. Hulle praat baie en vinnig, is geneig om senuagtig en vol lewe te wees en kan met moeite hul lewenslus te keer. Hulle gebruik graag teksboodskappe, lag baie en dit is ’n plesier om in hulle geselskap te wees. Hulle is tipies skoonheidstegnoloë, openbare skakelbeamptes en dansers.

Die spreeus. Hulle is selfgeldend en kan selfs aggressief optree. Hulle praat hard tussen mense, onderbreek gesprekke met hul eie selfoonoproepe en probeer situasies beheer. Hulle aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie. Hulle is tipies mediamense en sportafrigters.

Die poue. Hulle pronk en hou daarvan om gesien te word wanneer hulle hul selfone gebruik. Hoe hulle met die foon lyk, is vir hulle net so belangrik as wat hulle oor die foon sê. Hulle sal die mees moderne en nuutste toerusting aanskaf net om andere te probeer beïndruk. Hulle word tipies in die advertensiewese en vermaaklikheidsbedryf aangetref.


aanskaf (to buy): om iets te koop

alleenloper (loner): om op jou eie te wees

boekhouer (bookkeeper): iemand wat seker maak die finansies is reg aangeteken

geneig (tend to be): om iets te wil doen, ’n gewoonte maak

lewenslus (love of life): om vol energie te wees, te hou van die die lewe

ophef (to make a fuss): om ’n groot bohaai oor iets te maak

praatlustig (talkative): om baie te praat

selfgeldend (assertive): om jou sin te kry, om ferm te wees

senuagtig (nervous): gespanne wees

tipies (typical): dit wat eie aan jou is

in die verleentheid stel (to embarrass): om skaam te maak

vermaaklikheidsbedryf (entertainment industry): die besigheid/bedryf wat mense vermaak

Beantwoord die volgende vrae oor die artikel.

1. Noem drie soorte voëls waarmee mense se gedrag en selfoongebruik vergelyk word. (3)

2. Watter tipe beroepe word met duiwe vergelyk? (1)

3. Hoe verskil die “uile” en “windswaels” se selfoongebruik van mekaar? (2)

4. Vertel in jou eie woorde wat ’n skoonheidstegnoloog se werk is. (2)

5. Skryf ’n woord uit die opskrif neer wat dieselfde beteken as “om nie dieselfde te wees nie”. (1)

6. Vul die regte antwoord in. As iemand baie aggressief is, dan is hy . . . (1)

7. Is die volgende sin waar of onwaar? Gee ’n rede vir jou antwoord. (2)

Die mossie-gebruikers hou nie daarvan om baie teksboodskappe te gebruik nie.

8. Kies die regte antwoord. As jy selfgeldend is, dan . . .(1)

a. betaal jy vir jou self.

b. voel jy dat almal na jou moet luister.

c. is jy baie ryk.

9. Watter soort gebruiker dink jy is jy? Hoekom?(1)

10. Wat dink jy van die berig? Hoekom sê jy so?(1)

Totaal: 15 punte

Taal in konteks

Beantwoord die volgende taalvrae. Jy kan die Taalgids ook gebruik om jou te help.

11. Verdeel die skuinsgedrukte woord in klankgrepe soos jy dit sal uitspreek. (1)

Verskillende selfoongebruikers het verskillende selfone.

12. Verdeel die skuinsgedrukte woord in lettergrepe. Skryf of die lettergrepe oop of geslote is. (1)

Mense regoor die wêreld se gedrag word deur selfone beïnvloed.

13. Skryf die regte afkorting vir die skuinsgedrukte woord neer. (1)

Die advokaat moet die reeksmoordenaar verdedig.

14. Teken die tabel oor. Vul dan die ontbrekende woorde in. (4)

EnkelvoudMeervoudVerkleining
windswaels
skoonheidstegnoloë

15. Kies die regte spelling tussen hakies. (2)

a. Gebruik die (sker/skêr) om die papier te sny.

b. Thomas is nie meer in die (laerskool/laërskool) nie.

16. Gebruik die voegwoord tussen hakies en verbind die sinne met mekaar. (2)

Hulle is praatlustig. Hulle voel gemaklik. (omdat)

17. Lees die volgende sin: “Hulle steek die selfone in hulle klere weg”. (2)

a. Skryf ’n woord neer wat oorrond kan word.

b. Maak ’n sin met hierdie oorronde woord.

18. Skryf die regte vorm van die woord tussen hakies neer. (2)

a. Hulle gebruik die nuutste toerusting; dit is (nuutste).

b. Die (tipies) selfoongebruiker kan dit bekostig.

Totaal: 15 punte

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 3 van kwartaal 1.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n kortverhaal beurtlees

 die kortverhaal bespreek.

Jy gaan hierdie jaar met verskillende soorte letterkunde in die Leerderboek en in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek kennis maak. ’n Kortverhaal is een van die afdelings in letterkunde.

Blaai na die kortverhaal “Die selfoon” in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek. In ’n neutedop gee jou agtergrond oor milieu en karakters in ’n verhaal. Jy moet hierdie terme in gedagte hou wanneer jy die kortverhaal lees.


Literêre terme

Milieu is die tyd en ruimte/plek waarin ’n verhaal afspeel. Tyd verwys na die tydperk waarin die verhaal afspeel – die historiese plasing van die verhaal. Met ander woorde, speel die verhaal in die hede, die toekoms of gedurende ’n spesifieke tydperk in die verlede af? Ruimte verwys na die plek waar die verhaal afspeel.

Karakters

Karakters is die persone wat in ’n verhaal voorkom. Die volgende twee soorte karakters word onderskei:

 Hoofkarakters: Hierdie karakters kry die meeste verteltyd en speel die belangrikste rol in ’n verhaal. Hoofkarakters word ook vollediger as newekarakters gekarakteriseer.

 Newe- of bykarakters: Hierdie karakters se rol in die intrige wissel – hulle is soms belangrik en soms nie. Hulle kry ook nie altyd dieselfde blootstelling as die hoofkarakter in ’n verhaal nie. Sommige newekarakters is meer op die voorgrond as ander.

Karakterisering

Die manier waarop die karakter aan die leser bekendgestel word, staan as karakterisering bekend. Karakterisering vind op verskillende maniere in ’n prosateks plaas. Die leser leer karakters ken deur:

 dit wat die karakters self sê en doen

 dit wat ander karakters oor ’n karakter sê.

Prelees: Gesels met jou maat oor die volgende vrae:


 Waaroor, volgens die titel, gaan hierdie kortverhaal?

 Kyk nou na die foto. Waar dink jy speel hierdie kortverhaal af?

 Waarom dink jy gaan die verhaal oor ’n selfoon?

Tydens lees: Maak nou beurte en lees die kortverhaal in groepe. Fokus veral op die volgende:

 Die ruimte en tyd waarin die verhaal afspeel.

 Die verskillende soorte karakters in die kortverhaal.

 Hoe leer jy die hoofkarakter, Thabile, ken? Kyk na spesifieke voorbeelde in die teks.

Postlees: Gesels in groepe oor die volgende vrae:

 Dink jy Thabile het reg opgetree om die selfoon terug te gee? Hoekom sê jy so?

 Wat sou jy in so ’n situasie gedoen het?

 Wat kon met Thabile gebeur het as sy nie die selfoon teruggegee het nie?

 Wat dink jy beteken die laaste sin: “Sy weet haar skouers span waterpas onder die blou gholfhemp.”?

 Wat sou jy in die kortverhaal verander? Hoekom sê jy so?

 Het jy van die kortverhaal gehou? Hoekom/Hoekom nie?

 Beantwoord die vrae in die leesboek.

Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх