Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 4

Оглавление

Die module begin met ’n luisteropdrag. Jy gaan luister na ’n berig oor hoe vinnig iemand ’n SMS kan stuur. Hou ’n groepbespreking en vertel wat jy alles kan onthou.

Jy gaan leer van spelling, klankverskynsels, skryftekens en afkortings en seker maak dat jy jou SMS’e reg spel.

Lees ’n gedeelte van ’n storie en beantwoord daarna kontekstuele vrae. Leer ook uit watter dele ’n boekomslag bestaan.

Skryf jou eie verhalende opstel na aanleiding van twee illustrasies. Onthou om die stappe van prosesskryf te volg.

’n Hersieningsoefening toets jou kennis en vaardighede van wat jy geleer het.

Sluit die module af en lees ’n kortverhaal uit jou Piekfyn Afrikaans Leesboek.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n groepbespreking hou ’n groepbespreking hou

 na ’n berig luister

 vrae oor die berig beantwoord

 taalvrae beantwoord.

Het jy jou vakansie geniet? Jy het jou selfoon seker baie gebruik – veral om vinnig met jou vriende te gesels. Luister nou aandagtig wanneer jou onderwyser ’n teks aan jou voorlees oor mense wat blitsvinnig SMS’e kan stuur.


Luisterbegrip

Preluister: Gesels met mekaar oor die volgende vrae en die illustrasie.

 Beskryf wat jy in die illustrasie sien.

 Waarom dink jy het die vinger ’n kroon op? Waaraan laat dit jou dink?

 Wie van julle het ’n selfoon?

 Hoe gereeld stuur jy SMS’e?

 Vir wie stuur jy die meeste SMS’e?


Tydens luister: Jou onderwyser gaan nou ’n berig “Vinnige vingers maak hom SMS-koning” aan jou voorlees. Doen die volgende:

 Luister net eers terwyl jou onderwyser die berig die eerste keer voorlees. Moenie notas afneem nie.

 Daarna gaan jy kans kry om na die vrae te kyk. Jy kan dan enkele notas maak.

 Jou onderwyser gaan die teks ’n tweede keer voorlees. Jy mag nou notas neerskryf.

 Jy moet dan die vrae beantwoord. Jy mag nou notas gebruik.


Postluister: Beantwoord die volgende vrae oor die luisterteks.

Vrae oor die inhoud van die berig.

1. In watter land bly Craig Crosbie? (1)

2. Hoeveel woorde kon hy tik? (Skryf jou antwoord in woorde uit.) (2)

3. Hou oud is Craig Crosbie? (Skryf jou antwoord in woorde uit.) (1)

4. Watter prys het hy gewen? (1)

5. Hoeveel ander mense het ook aan die kompetisie deelgeneem? (1)

Afleiding.

6. Maak ’n lysie van twee dinge wat hy nou met sy wengeld kan doen. (2)

7. Skryf ’n woord neer wat dieselfde beteken as “om geen geld te hê nie”. (1)

8. Kies die regte antwoord: Wanneer hy oor Las Vegas gedroom het, . . . (1)

a. het hy nagmerries (nightmares) gehad.

b. wou hy altyd daarheen gaan.

c. het hy baie geslaap.

9. Vul die regte antwoord in. Suid-Afrikaners werk met rande, maar Craig werk met . . . (1)

10. Craig is die vinnigste SMS’er in die wêreld.

a. Is die sin waar of onwaar? (1)

b. Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)

Wat dink jy van die berig?

11. Dink jy dit is goed dat hy so baie SMS’e stuur? Hoekom/Hoekom nie? (1)

12. Wat sal jou ouers doen as jou selfoonrekening so hoog soos Craig s’n is? (1)

Totaal: 15 punte

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 1 van kwartaal 1.

Groepbespreking

Gebruik nou jou notas en die antwoorde op die vrae om ’n kort verslag oor die berig op te stel. Vertel vir mekaar waaroor die berig gegaan het.

 Beplan wat die hoofidees is.

 Rangskik hierdie idees in ’n logiese volgorde.


Taal in konteks


Spelling

 Vokale/klinkers(vowels) is klanke soos a, e, i, o en u.

 Konsonante/medeklinkers(consonants) is klanke soos m, t, l, z, r en ng.

 Diftonge/tweeklanke (diphthongs) is klanke soos aai, ooi, ui, byvoorbeeld: baai, rooi, lui.

 Klankgrepe is wanneer woorde volgens klanke, soos jy dit uitspreek, opgedeel word, byvoorbeeld: onmiddellik – on/mi/de/lik

 Lettergrepeis wanneer woorde volgens hulle spelling verdeel word, byvoorbeeld: onmiddellik – on/mid/del/lik

 Oop lettergrepe is wanneer die lettergreep op ’n vokaal eindig, byvoorbeeld: le-re – oop(o)/oop(o).

 ’n Geslote lettergreep eindig op ’n konsonant, byvoorbeeld: hoen-der – geslote(g)/geslote(g).


Klankverskynsels

Klankverskynsels kom voor wanneer ons woorde uitspreek:

 Ontronding is wanneer ’n ronde klank soos uu en ui as ie en y uitgespreek word.

 Oorronding is wanneer klanke soos ee en ie as eu uitgespreek word, byvoorbeeld: keer – keur.

 Assimilasie is wanneer party klanke in ’n woord nie uitgespreek word nie en dus nie gehoor word nie. Kyk na die volgende voorbeelde: Die kinders (kinners) sit op die (oppie) stoel.

Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek.

1. Verdeel die skuinsgedrukte woorde in klankgrepe en lettergrepe. Skryf ook of die lettergrepe oop of geslote is.

a. Jy moet vinnige vingers vir ’n selfoon hê.

b. Jy moet die selfoon dadelik beantwoord.

c. Hy kan sy telefoonrekening betaal.

2. Lees die volgende gedeelte uit die luisterteks. Beantwoord dan die vrae.

Van ’n brandarm fabriekwerker wat droom oor Las Vegas tot ’n TV-gesig met duisende ponde in die bank.

a. Skryf ’n woord neer wat ontrond kan word. Skryf die ontronde vorm neer.

b. Hoe sal jy die woorde “in die” uitspreek?

c. Die woord “skild” kan verkeerd as “skuld” oorrond word. Wat beteken beide woorde?

3. In die volgende gedeelte kom sewe spelfoute oor. Skryf die gedeelte oor. Maak die foute reg en onderstreep dit.

“Ek is van natiere ’n dobelaar. Ek hou daarvan om op pêre te wet. En ek droom al van kleinteid daarvan om Las Vegas toe te gaan.

“Nou het ek die kaans,” het Crosbie aan die koerant gese.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 leestekens en afkortings leer en reg gebruik.

Taal in konteks

Dit is belangrik dat skryftekens reg gebruik word. Lees hoe.


Skryftekens

(Blaai ook na die Taalgids agter in die boek waar meer voorbeelde en gebruike van skryftekens gegee word.)

Deeltekens ( ̈ ): Die deelteken word gebruik om aan te dui waar die volgende lettergreep begin:

be/ëdig. Jy sê die woord ook makliker: vo/ëls (teenoor voels).

Die koppelteken (-): Hierdie skryfteken koppel woorde aan mekaar wat een gedagte vorm.

Onthou: Telwoorde kan los of met koppeltekens geskryf word: Byvoorbeeld: een en twintig/een-en-twintig.

Die afkappingsteken (’s ’e): By die meervoud en verkleining van naamwoorde en eiename wat eindig op i, o, u en ’n lang uitgespreekte a-klank wat met slegs een a gespel word en die hoofklem dra:

Van Breda’s, farao’s/farao’tjie.

By die meervoud en verkleining van letters van die alfabet, syfers, gewone afkortings, afkortings van grade en diplomas: gr. 7’s of gr. 7’tjies.

Die kappie (ê û î ô): By vokale soos e, o, u, i wat in ’n oop lettergreep ’n lang gerekte klank het: affêre; sê; rûe, môre; wîe.

Die kappie word nie gebruik as die o-klank deel van ’n diftong is nie: rooi, boikot.

Aksenttekens: Die akuutaksent (á, é, ó, ú, í) word net op vokaalletters en diftonge gebruik

 om te beklemtoon: ongelóóflik; déúr; héilig en

 in woorde van vreemde herkoms: détente.

 Ook op sekere eiename van vreemde herkoms: Esmé.

Die gravis (è) word ook net op vokaalletters gebruik.

Dit word in ’n paar Afrikaanse woorde gebruik om die spesiale uitspraak van die letter e aan te dui:

appèl; dè; hè; nè. Dit word ook op sekere leenwoorde gebruik: crèche.

Beantwoord die volgende vrae.

1. Skryf die volgende sinne oor en voeg die regte skryftekens in.

a. Die kinders se mas en pas ken SMS-taal beter as die oumas en oupas.

b. Die graad 7s mag hul selfone in die klas gebruik.

c. Thomas hulle se dat hulle na die hysbakervaring eerder wil gaan rus

d. Thomas se pa het vroeer die polisie gebel om die moordenaar te vang.

Afkortings word baie in SMS-taal gebruik. SMS-taal is ’n taal op sy eie. Lees die volgende oor die regte gebruik van afkortings.


Afkortings

Onthou die volgende oor afkortings:

 Punte word by die meeste kleinletter-afkortings gebruik: m.b.t. (met betrekking tot).

 Geen punte word by metrieke eenhede se afkortings gebruik nie: km (kilometer).

 Rangtelwoorde kan afgekort word deur -de, -ste of -e na die syfer te skryf: 7de, 20ste, 100e.

 ’n Sin begin nie met ’n afkorting nie, slegs as die afkorting in titels gebruik word: Mnr. De Wet gaan see toe.

 Gebruik erkende afkortings.

 ’n Koppelteken word gebruik by woorde wat saam met afkortings of akronieme (letterwoorde) gebruik word: BA-graad, vigs-wesies.

Leer die volgende afkortings:

aardr.aardrykskundeCVcurriculum vitae (lewensprofiel)i.p.v.in plaas van
adj.adjektiefd.i.dit isLWLet Wel
afd.afdelingd.w.s.dit wil sêlw.lidwoord
Afr.Afrika; AfrikaansDo.Donderdagme.titel vir vroulike persoon (dame/mevrou/mejuffrou)
ANCAfrican National Congresseks.eksamen/eksÇemplaarnr./no.nommer
antw.antwoordens.ensovoortsprof.professor
ASAAtletiek Suid-Afrikafaks.faksimilees.nw.selfstandige naamwoord
b.o.blaai omfakt.faktuurtemp.temperatuur
bl.bladsy (p. pagina)ggramvnw.voornaamwoord
CDkompakskyf (compact disc)hfst.hoofstukwdb.woordeboek
cmsentimetergr.graad

2. In die leesstuk “Vinnige vingers maak hóm ‘SMS-koning’” word afkortings gebruik. Soek minstens vyf afkortings in ’n koerant of tydskrif en knip dit uit. Plak dit netjies in jou werkboek en skryf die volle betekenis van die afkortings neer.

3. Skryf afkortings vir die skuinsgedrukte woorde.

a. Die berig het Maandag in die koerant verskyn.

b. Die man het onder andere ’n mes in sy sak gehad.

c. Craig moes ’n dokter gaan sien.

4. Gebruik ’n woordeboek en vind uit waarvoor die volgende afkortings staan.

a. Hy het die kompetisie a.g.v. vinnige vingers gewen.

b.Die koerant het hom gebel i.v.m. die prysgeld wat hy gewen het.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 die kenmerke van ’n boekomslag identifiseer

 ’n uittreksel uit ’n storie lees

 vrae oor die prosa beantwoord.

Prelees

Al gedink hoe word ’n boek saamgestel? Kyk na die volgende boekomslag.


Lees die volgende wenke oor ’n boek se omslag.


Kenmerke van ’n boekomslag

Uit watter dele bestaan ’n boek?

Voorblad: Die boek se titel en wie die skrywer is. ’n Illustrasie of foto wat by die boek se titel of inhoud kan pas. Dit moet die leser se aandag trek

Rugkant: As die boek in ’n boekrak is, kan jy die volgende maklik lees: die boek se titel, wie die skrywer is en die uitgewer se logo.

Die agterblad bevat die agterbladteks wat ’n kort oorsig oor die boek gee om die leser se aandag te trek. Die gee nie die geheim van die boek weg nie. Dit het ook die boek se ISBN-nommer (International Standard Book Number). Dit is die boek se unieke nommer.

Gesels met jou maat oor die volgende vrae.

 Wat is die boek se titel?

 Wie is die skrywer van hierdie boek?

 Hoe verskil die lettertipe en -kleur van die boek se titel en skrywer van mekaar?

 Watter uitgewer het die boek uitgegee?

 Wat kom alles op die boekrug voor?

 Waaroor dink jy gaan die boek as jy na die illustrasie op die voorblad kyk?

 Sal jy die boek wil lees? Hoekom/Hoekom nie?

 Waarom dink jy is dit nodig om ’n kort opsomming op die boek se agterblad te gee?

 Kyk nou na jou Leerderboek se omslag en probeer al hierdie kenmerke identifiseer.

Lees die volgende wenke vir as jy ’n teks soeklees.


Soeklees

 Met soeklees beweeg jou oë vinnig oor die bladsy of ’n lys. Jy soek na spesifieke inligting.

 Jy kan datums, name of ander feite makliker so opspoor. Dit is nie nodig om die hele teks te lees of te verstaan nie.

Tydens lees

Vluglees die uittreksel uit ’n jeugverhaal op die volgende bladsy om die vrae wat volg te beantwoord.

1. Lees die titel. Wat sê die titel alles vir jou?

2. Lees nou die eerste en laaste paragraaf.

a. Waarmee is Thomas besig?

b. Waar is Thomas? Wat dink jy het gebeur?

c. Hoekom dink jy “hamer” hy teen die hyser se deur in die laaste paragraaf?

3. Lees vinnig die eerste sinne van die res van die paragrawe.

a. Watse werk dink Thomas doen die man?

b. Vir wie probeer Thomas in paragraaf 9 bel?

c. Watter geluid het die selfoon in paragraaf 10 gemaak?

Lees die uittreksel nou aandagtig deur. Maak seker jy verstaan die inhoud goed. Jy gaan dit vir jou maat moet kan oorvertel en die vrae beantwoord.

Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх