Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal - Henk Viljoen - Страница 7

Оглавление

Lees hoe jy jou eie geld kan verdien, bespreek ’n strokiesprent en rolspeel sekere tonele in die klas. Luister dan na ’n berig oor ’n slim seun wat weet hoe om geld te maak.

Selfs ’n kort drama kan mens van besigheid leer. Lees hoe ’n bakker ’n klant verloor het. Lees ook ’n internet-artikel oor hoe jy ekstra sakgeld kan verdien. Skryf dan ’n informele brief aan ’n maat en deel jou idee met jou maat.

Leer meer van woordvorming en gebruik die laaste aktiwiteit as ’n hersieningsoefening om jou leesbegrip en taalvaardighede te hersien.

Sluit die module af en lees hoe George ’n slim plan in die kortverhaal “Die windpomp” gemaak het om geld te maak. Voltooi ’n blokkiesraaisel oor die kortverhaal.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 na ’n strokie kyk

 oor die strokie gesels

 ’n gedeelte uit die strokie rolspeel

 ’n opname in die klas doen en verslag lewer

 na ’n berig luister

 vrae oor die berig beantwoord

 die berig in jou eie woorde oorvertel.

Groepbespreking

In die vorige module het jy geleer dat strokiesverhale se doel is om die leser te vermaak. Kyk nou na die volgende strokiesprent.


Gesels met jou maat oor die volgende vrae:

 Uit hoeveel raampies bestaan die strokie in totaal?

 Wat kan jy uit die titel aflei?

 Waar speel die strokie in raampie 1 af? Hoe weet jy dit?

 Wat het Spykerman wakker gemaak? Gee ’n rede vir jou antwoord.

 Wat gebruik die illustreerder om die seun se aksie aan te dui?

 In raampie 1 het Spykerman net wakker geword. Watter woord beskryf sy gesigsuitdrukking die beste?a.nuuskierigb.hongerc.bangd. wawyd wakker

 Kies die regte antwoorde. Spykerman se kamer is op die (boonste/onderste) verdieping van hulle (enkelverdieping/dubbelverdieping) huis.

Rolspeel

Kyk weer na die strokie. Kies ’n maat met wie jy die strokie kan rolspeel. Die een is die seun/meisie wat wakker word terwyl die ander een die pa/ma is. Besluit op die volgende:

Stem jy/julle saam met dit wat in die strokie gebeur?

Watter betekenis wil jy met die rolspel oordra?

Hoe gaan jy hierdie betekenis kan oordra?

Doen ’n opname.

Gebruik die volgende vrae en maak ’n opname (survey). Gee ’n mondelinge verslag oor jou bevindinge in jou groep.

 Wie kry sakgeld in die groep?

 Hoe gereeld kry jy sakgeld?

 Wat maak jy met jou sakgeld?

 Dink jy dat jy genoeg sakgeld kry? Hoekom/Hoekom nie?

 Wie spaar van sy/haar sakgeld?

Stel ’n tabel op waarin jy al jou bevindinge (results) aanteken.

Luisterbegrip

Preluister: Die volgende woordverklarings kan jou help om die berig beter te verstaan.


gehaltebestanddele – net die beste bestanddele

hoofborg – die persoon of plek wat die meeste tot die kompetisie bydra of dit die meeste borg

konsessie-grondslag – alle plekke wat dieselfde produkte kan verkoop, soos ’n KFC

opeenvolgende – wat op mekaar volg

perseel – erf, plek waar die besigheid is

uitleg – hoe dit gebou of uiteengesit is

verskaf – gee, voorsien, beskikbaar stel

voortdurend – aanhoudend

Tydens luister: Jou onderwyser gaan nou ’n berig “Frans wéér ’n jong entrepreneur-finalis” aan jou voorlees. Doen die volgende:

 Luister net eers terwyl jou onderwyser die berig lees.

 Kyk dan na die vrae en die woordeskatuitbreiding.

 Luister weer wanneer jou onderwyser die berig ’n tweede keer lees. Jy kan nou notas afneem.

 Beantwoord dan die vrae.


Postluister: Beantwoord die volgende vrae oor die berig waarna jy geluister het.

1. Wat is Frans se van? (1)

2. Wat het Frans “weer” reggekry? (1)

3. Skryf die naam van die wegneemete-onderneming neer wat hy begin het. (1)

4. In watter dorp bly Frans? (1)

5. Frans en sy ma het die wegneemeteplek se uitleg beplan. Hoe moes dit lyk? (2)

6. Hoeveel ander ondernemings besit Frans ook? (1)

7. Voltooi die volgende sin: (1)

Gehaltebestanddele beteken dat die bestanddele . . .

8. Kies die regte antwoord. (1)

Frans het . . . by die bank geleen.

a. R15 000

b. R150 000

c. R150

9. Skryf of die volgende waar of onwaar is. Gee ’n rede vir jou antwoord. (2)

Frans het die winkel alleen saam met drie kokke bestuur.

10. Skryf wat bedoel word met “aanklop vir ’n lening”. (1)

11. Dink jy Frans is ’n goeie sakeman? Gee ’n rede vir jou antwoord. (2)

12. Wat het jy uit die teks geleer? (1)

Totaal: 15 punte

Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 1 in kwartaal 1.

Vertel die berig oor

Gebruik nou jou notas en antwoorde en vertel die berig in jou eie woorde oor.


In hierdie aktiwiteit gaan jy

 ’n drama lees

 vrae oor die drama beantwoord

 taalkennis toepas en hersien.

Prelees: Kyk na die illustrasie en die titel van die kort drama op die volgende bladsy.

Gesels met jou maat oor die volgende vrae.

 Beskryf wat jy in die illustrasie sien.

 Watter werk dink jy doen die man met die hoed op?

Tydens lees: ’n Drama verskil van ’n storie. Lees die kenmerke van ’n drama in Pitkos.


Drama

 ’n Drama word gelees en op die verhoog opgevoer.

 Die gehoor moet uit die karakter se optrede op die verhoog agterkom watter tipe persoon dit is. Byvoorbeeld: kwaai, eensaam, aggressief.

 ’n Drama bestaan slegs uit dialoog (die karakters se woorde).

 ’n Mens moet goed luister en kyk wat die karakters sê en doen, want daar is geen verduideliking op die verhoog nie.

 Die geskrewe teks van ’n drama bevat die karakter wat praat se naam en dan volg die dialoog langsaan.

 Dit wat die karakter doen, word in skuinsdruk tussen hakies gegee, omdat die leser moet weet wat op die verhoog gebeur.

Intrige: Die gebeure in die verhaal.

Konflik: Dit waaroor die karakter(s) “baklei” of waaroor die storie gaan.

Agtergrond: Die plek/ruimte/omstandighede waar/waarin die verhaal/drama afspeel.

Tema: Die boodskap wat die verhaal/drama probeer oordra.

Lees die volgende kort drama oor ’n reisiger en ’n bakker.


Piekfyn Afrikaans Graad 8 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal

Подняться наверх