Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 10

Sewe

Оглавление

LAATSOMER WORD HERFS. Dit reën. Dit raak geleidelik koeler. Hy is twee dae per week by die kunsskool. Die res van die tyd bring hy in sy ateljee deur. Dis nie ’n ruimte waarvan hy baie hou nie, hy huur dit tydelik, hy moet begin uitkyk vir iets anders. Hy werk aan figure wat hy uit hout kerf – eenvoudige, gestileerde figure, met vreemde koppe: soms dié van diere, soms dié van mense. Soms staande, soms knielend, met vergrote genitalieë. Soms selfs met sterte, grynsend, met grimasse. Dit is al ’n hele paar jaar dat hy nie meer skilder nie, net kerf, en teken. Hy is by sy galery bespreek vir ’n uitstalling volgende jaar.

In die weke na Charelle se epileptiese aanval kom Niek in die gewoonte om minstens twee keer per week saans en dikwels ook oor die naweek vir hulle te kook. Hy vra haar uit na die kêrel wat haar gedreig het. Nee, sê sy, hy agtervolg haar nie meer nie. Sy’t hom lanklaas gesien. Sy weet nie waar hy nou uithang nie. Maar met hom sal sy die vrede nooit heeltemal vertrou nie – hy’s swak van inbors. Wat bedoel sy? vra hy. Nee, dit sal haar nie verbaas as hy ook kriminele neigings het nie. Sy het dit al van ver sien kom. Van skooltyd af. Niek sien ook nie weer enige verdagte motors voor of in die omgewing van die huis nie, en daar is nie ’n herhaling van die vloek-insident nie.

Dis al heelwat koeler, en hy vind die aande saam met Charelle gesellig in die warm, opgewasemde kombuis. Hy begin uitsien hierna. Hy doen moeite met die kos. Hy dink sy raak geleidelik meer op haar gemak met hom. Hy vind haar skerp, gevat; hoe meer sy op haar gemak met hom raak, hoe meer waag sy – hy terg haar oor die duiwel, en sy terg terug. Sy is vir hom mooi. Ongewoon, met die smal polse en die groot gelaatstrekke – die donker oë en die digte, warm hare. Hoewel nie sy tipe nie, is sy vir hom sexy. Sy begin hom versigtig uitvra oor sý lewe, oor sy werk. Hy vertel nie veel nie. ’n Bietjie oor Isabel. Oor die reis na New York. Hy vertel haar waarmee hy besig is, maar neem haar nie na sy ateljee nie. Miskien later. Hy is versigtig. Wanneer sy ’n boek nodig het, bring hy dit soms vir haar van die kunsskool af. Sy vertel hom van haar kindertyd en van haar skooldae. Toe sy tien was, is hulle na Veldenburg, haar pa het daar ’n beter werk gekry. Toe sy op vyftien begin foto’s neem het, wou sy álles in haar omgewing dokumenteer. Sy’t die jong mense afgeneem in die township, buite die dorp. Sy’t sommer goed afgeneem soos mense se agterplase, en die kos op hulle tafels, alles waarop haar oog geval het. Sy’t graag in die begraafplaas foto’s geneem van al die nuwe grafte wat daagliks bygekom het. En van die swanger meisies wat hand om die lyf staan met hulle vriendinne (nooit ’n vader in sig nie). En van die jong ma’s met hulle babas – die meisies vir wie sy jammer was, want as hulle eers ’n kind op die heup het, is hulle lewens daarmee heen. Sy is drie-en-twintig. (Ouer as wat sy lyk.) Sy’t ’n paar jaar op die dorp gewerk om geld te verdien voor sy Kaap toe gekom het. Hulle praat dikwels oor kuns. Dit gaan goed met haar by die kunsskool. Sy’s bly sy doen die kursus. Dit was ’n goeie besluit. Sy hou ook baie van haar kamer. Sy het nog nooit soveel ruimte vir haarself gehad nie, sê sy weer. Soms voel sy skuldig daaroor, maar sy kla nie. Sy het gedink sy’t haar epilepsie ontgroei – sy neem al lank nie meer medisyne daarvoor nie. Sy’t haar so geskaam, sê sy, nadat hy die dag so op haar afgekom het. Nee, sê hy, nee, dit moet sy nóóit voel nie. Hy aarsel om haar te vra of sy al in ’n ernstige verhouding betrokke was. Hy is bang sy sal dit dalk verkeerd interpreteer. Maar sy sê self ’n keer dat toe sy na skool ’n verhouding met iemand gehad het, die kêrel wat haar nou agtervolg bitter jaloers was.

Sy vertel hoe miserabel sy die eerste paar weke in die Kaap was. Hoe sy haar ouers en die vertroude omgewing van die dorp gemis het. Obs het vir haar gevaarlik gevoel, die straatjies was so nou. Sy’t nooit geweet van waar sy gevaar te wagte moet wees nie. In Main Road en oral het die gedurige getoeter van die taxi’s haar ontsenu. Die berg het sy eers later mooi begin vind. Maar sy hou nog altyd meer van die Weskus en omgewing.

Isabel is altyd daar, wanneer hy en Charelle in die kombuis eet. Knaend, onder die oppervlak – altyd nét buite sy gesigsveld, sy veld van bewussyn. Hy dink daaraan om ’n beeld te maak, ’n soort harpy-agtige figuur, met die liggaam van ’n voël en die kop van ’n vrou, wat balanseer op die rand van ’n kom, of ’n skottel, waarin sý kop, so groot soos ’n hoendereier, lê.

Afgesien van sy sketsboeke, waarin hy elke dag teken, begin hy weer op groot velle papier van 150 x 75 cm werk. In sy tekenboeke teken hy verlengde figuurtjies, brandende figuurtjies, figuurtjies met afgekapte ledemate, met varksnoete, skedelagtige koppe, comic-ogige koppe en bolwange, bakkebaarde – almal op een of ander manier verwring. Hy teken skedels en kruise, doodskiste, gloeiende kole, vlamme en duiwels – al die rekwisiete en parafernalia van die hel – geinspireer deur die Middeleeuse afbeeldings daarvan. Maar op die groot velle papier verwring hy nie die figure nie. Op ’n groot, bar vlak teken hy talle mansfigure wat mekaar op verskillende maniere gewelddadige dinge aandoen: skiet, met stokke slaan, begrawe, versmoor, martel, ophang, en soms selfs teregstel. Nie ’n boom, struik, plantjie of grasspriet op hierdie groot vlak nie, net die mans wat mekaar gewelddadig leed aandoen, op enige denkbare manier.

Soms drink hy laatmiddag, nadat hy heeldag in sy ateljee gewerk het, saam met Marthinus ’n bier. Marthinus nooi hom dikwels om saans saam dvd’s by hom aan huis te kyk, maar Niek doen dit net wanneer hy die aand nie vir hom en Charelle kook nie. Hy en Marthinus kyk onder meer na Aguirre, the Wrath of God (met crazy Klaus Kinski – skynbaar een van Marthinus se helde). Hulle kyk na enkele klassieke meesters van die Japannese filmkuns. Woman in the Dunes en Ran maak ’n groot indruk op hom. Eersgenoemde het hy al vantevore gesien, maar om een of ander rede is dit vir hom pynlik om nou daarna te kyk. Dit het iets te doen met die tekstuur van die vrou se vel. Hy is dae daarna nog onder die indruk van die sfeer van die twee films. Na afloop het Marthinus gewoonlik heelwat te sê oor die dvd’s. ’n Intense man, wat geesdriftig reageer op alles wat hom interesseer.

Karlien, die student wat die satanisme-projek doen, se ouers kom spreek hom een oggend. Die ma is klein, blond, sexy, bruingebrand, geklee in ’n perdryuitrusting. Welige wimpers, kwistige maskara. ’n Trophy wife? Die pa lyk vir Niek bekend, een of ander big shot-besigheidsman. Hy dra ’n sportbaadjie en ruik na drank, elfuur in die oggend. Die ma doen die praatwerk. Die pa lyk verveeld, kyk kort-kort op sy horlosie. Hulle is bekommerd oor Karlien. Hulle hou nie van die idee dat sy haar met satanisme besig hou vir haar projek nie. Hulle dink nie dis ’n gesonde belangstelling nie. Hulle dink dit kan haar dalk op die verkeerde pad bring. Kuns is haar lewe, dis haar droom, die groot belangstelling in haar lewe, behalwe perdry. En haar hondjies. Sy is vasberade om dit nog ver te bring in die kunswêreld. (Dis vir Niek nuus.) Hulle is bekommerd oor haar, want by die huis kon hulle nog ’n oog oor haar hou, maar sy’t ’n tydjie gelede saam met ’n vriendin in ’n woonstel in die dorp ingetrek. Niek weet nie hoe om te reageer nie. Die ma lyk nice genoeg, maar die pa lyk soos ’n behoorlike bastard. Van die soort wat dink kuns is ’n mors van tyd.

*

Charelle vertel hom een aand van die eerste dag toe sy in die Kaap aangekom het twee jaar gelede. Sy’t ’n lift uit Veldenburg gekry saam met iemand, dit was koud vroeg die oggend toe hy haar in Kaapstad aflaai. Sy’t sleg period pain gehad (hy is onkant gevang deur dié intieme mededeling), en sy was bang vir die berg. Sy wou nie daarna kyk nie. Die berg was oral. Sy sou tydelik in ’n vriendin se kamer in ’n huis bly, totdat sy haar eie plek gevind het, terwyl die vriendin oorsee was. Die huishulp het haar ingelaat. Sy’t gesê sy moet solank in die kombuis sit. Later het sy iemand hoor inkom. Die persoon het by die voorste kamers ingegaan, die deur toegemaak, en verskriklik begin huil. Sy het verskrik by die kombuistafel bly sit. Later het die meisie uitgekom en by haar in die kombuis kom sit. Haar ouers se hond is besig om dood te gaan, het sy gesê, en vir hulle tee gemaak.

Niek is te alle tye versigtig. Nie ’n woord, nie ’n gebaar wat haar moontlik onder ’n verkeerde indruk kan bring nie. Hy sorg dat hy nooit te veel omtrent homself sê nie. Hy behou sy afstand. Dis net in die kombuis waar hulle ooit bymekaar is – nooit enige ander plek in die huis nie. Die enkele uitsondering is die dag toe sy die epileptiese aanval gehad het, toe hy by haar kamer ingegaan het. Soms kom die vrou met die tulband haar vir die naweek oplaai, en een of twee keer besoek sy haar ouers in Veldenburg. Sy laat hom altyd weet as sy die naweek weggaan.

*

Een Saterdagoggend in die middel van April klop Marthinus douvoordag aan sy deur. Hy dra ’n mus en army-jas. Hy blaas op sy hande en stamp sy voete. Dis ’n koue oggend. Niek kyk oor sy skouer, verwag half om ’n vark op Marthinus se hakke te sien. Niek nooi hom binne. Hulle sit by die kombuistafel. Niek maak vir hulle tee.

“Het jy gesien?!” vra Marthinus.

“Wat?”

“Die nuus.”

“Nee, wát?” Hy’t lanklaas televisie gekyk. (Die afgelope tyd saans te besig met kos voorberei.)

“’n Mislukte sluipmoordpoging op ’n besigheidsman in die omgewing van Moorreesburg. ’n Onbekende man en drie ander persone is onder verdenking. Die polisie is op soek na hulle.”

“So? Niks ongewoons hieraan nie.”

Mag hy rook?

Sure.

“Nee, op die oog af nie!” sê Marthinus en blaas die vuurhoutjie dood. (Wat ’n geesdriftige man is dié tog. Hy herinner Niek aan ’n neef van hom, sy pa se oudste broer se een seun. Altyd vol ingewings.) “Nee, maar wag hiervoor – die ander drie persone is ontsnapte psigiatriese pasiënte!”

“So?” sê Niek.

“Ek het ’n gevoel Viktor Schoeman het iets hiermee te doen – mark my words!”

“Hoe kan jy so sê?” vra Niek verbaas.

“Nie jou gewone besigheidsman nie – hy’s ook ’n kunsversamelaar. The plot thickens!” roep Marthinus uit.

“Op watter manier, Marthinus? Ek sien geen plot hier nie. Ek sien net ’n paar toevallighede.” (Sou Charelle al op wees? Hy’t nog niks gehoor nie. Miskien is sy skaam om in die kombuis te kom as sy hoor hier is iemand. Hy’t haar nie gisteraand hoor inkom nie. Maar hy was self ’n rukkie uit.)

“Viktor is onder bedenklike omstandighede uit Engeland weg. ’n Saak met skuldeisers of iets dergeliks. Hy’s in geldelike nood,” sê Marthinus, “en hy het ’n kunsagtergrond.”

Niek wonder vlugtig of Marthinus nie dalk na te veel dvd’s gekyk het nie. “Hoe weet jy dit alles?” vra hy. “En Viktor was in elk geval nog altyd in geldelike nood, vandat ek hom ken. Dis ook niks nuuts nie.”

“’n Vriend van Alfons het kontak met iemand wat kontak met Viktor het.”

“Dit bewys nog niks.”

“Kyk,” sê Marthinus, “onthou jy die deel in Vlakwater,” en hy skuif vertroulik nader, “waar ’n groep ontsnapte psigiatriese pasiënte rondswerf en amok maak? Presies dít – ontsnapte psigiatriese pasiënte! Kan dit toevallig wees?! Hulle is ’n soort roofbende wat verwoesting saai waar hulle gaan. Hulle hoofkwartier is ’n kamer agter in ’n lykhuis. Die leier lê snags agter so ’n groen plastiekgordyn wat sy bed van die opgebergde doodskiste skei, en hy scheme. Hy scheme ’n hond uit ’n bos. Briljánt! Interne monoloog op interne monoloog! Briljánt! Portret van ’n paranoïede skisofreen waarop Dostojefski trots sou wees! Ek het nog altyd gedink dis een van die mees verstommende dele in die roman.”

(Niek onthou die toneel vaagweg. Hy’t nooit Vlakwater enduit gelees nie, hy was in dié tyd te afgepis met Viktor.)

“Skiet die man nie die ander en dan homself nie?” vra hy. (Hy’s ongeduldig, hy wil eintlik nie hierdie gesprek hê nie. Hou sy ore gespits vir enige geluid in die gang.)

“Ja. O Here. ’n Toneel wat my nogal aan Salammbô van Gustave Flaubert laat dink het. Staties. Byna slow-motion. Maar magistraal. Gruwelik barbaars, die geweld daarvan.”

“Viktor het nooit weggeskram van die uitbeelding van geweld nie,” sê Niek droog.

“Nee! Hy het nie! Geweld is sy medium. Dis sy natuurlike taal!”

“Jy sou dit nooit sê as jy na hom kyk nie,” sê Niek. “Hoewel. Dis seker nie toevallig dat hy soos William Dafoe in een of ander skurkagtige rol lyk nie.”

“Ja-nee,” sê Marthinus. “David Lynch en Tarantino is ook so in sy kraal.”

“Blinky kon hom nie verdra nie.”

“Nie?! My maggies, nè.”

“Hy’t gedink hy’s ’n poseur.”

“’n Poseur, nè? Ja, hy het nogal ’n voorliefde gehad vir die geaffekteerde gebaar. En weet jy wie was sy helde?!”

“Nee,” sê Niek.

“Brigadier Theunis ‘Rooi Rus’ Swanepoel, en die Dalai Lama.” Hy steek nog ’n sigaret aan. Sy tee is seker al yskoud, maar hy drink dit nog met ewe veel smaak.

“Ewentwel,” sê Marthinus, “ek is bereid om my kop op ’n blok te sit dat Viktor agter die ontsnapping én die sluipmoordpoging is. Dis dáár, dis alles daar in sy romans!”

“So?!” roep Niek uit. “Sy romans kan tog geen basis wees vir so ’n aanname nie!” Hy is ongeduldig. Hy is nie meer in die bui vir Marthinus se vergesogte vermoedens nie. Dis reeds tienuur. Charelle slaap nooit so laat nie. Moet hy vir haar gaan sê dis okay, sy kan maar kombuis toe kom, sy’t seker al lus vir ’n koppie tee?

“Wag en kyk,” sê Marthinus. “Dis een honderd persent Viktor se soort scenario.”

“Van waar het die pasiënte ontsnap?” vra Niek.

“Een of ander hoësekuriteit- psigiatriese hospitaal in die omgewing van Moorreesburg. Net die mees ekstreme gevalle kry jy daar. Die regtig swaar versteurde ouens. O Here, dit pas so in Viktor se kraal! Hoe afwykender, hoe beter.”

Marthinus drink sy tee klaar. Rook nog ’n sigaret. Dan moet hy (gelukkig) iets by die huis gaan doen, die varke gaan versorg of wat ook al.

Wat moet hy doen? wonder Niek. Om nou aan Charelle se deur te gaan klop, neem dit miskien ’n bietjie te ver. Sy kom dalk uit sodra sy nie meer stemme in die kombuis hoor nie.

Elfuur klop hy sag aan haar deur. Geen antwoord nie. Hy roep haar naam en klop harder. Geen antwoord nie. Teen sy beterwete maak hy die deur versigtig oop. Sy is nie daar nie. Haar badkamerdeur is oop. Niemand daar nie. Haar tandeborsel is nog daar. Haar kamer is netjies, soos altyd, die bed opgemaak. Haar naweeksak is bo-op die hangkas. Hy het haar nie gisteraand hoor inkom of vanoggend hoor uitgaan nie. Waarom is hy ontsteld – sy’s hom geen verduideliking van haar kom en gaan skuldig nie.

Hy het ’n afspraak in Woodstock om na ’n ander moontlike ateljeeruimte te gaan kyk. Hy moet die ateljee wat hy in Observatory huur binnekort ontruim. Hy’t te lank uitgestel. Hy was nie lus vir die ontwrigting nie. Hy’t geen verterende lus om vanoggend te gaan kyk nie. Maar goeie ateljeeruimte is moeilik bekombaar.

Teësinnig gaan kyk hy. (Waar sou Charelle so skielik heen wees? Sy gaan selde uit.) Die ruimte lyk goed genoeg. Hy sal dit neem. Dit skeel hom nie vandag soveel waar hy werk nie. Die werk waarmee hy besig is, is nog nie substansieel genoeg vir sy uitstalling volgende jaar nie. Hy sal vinniger moet werk, vinniger moet produseer. Die skuif na Kaapstad was ontwrigtend, dit het hom momentum laat verloor. Die druk is groot vir enige kunstenaar om op die radar te bly. (Hy los tydelik af in iemand se plek by die kunsskool omdat hy finansieel onder druk was na die skuif hierheen.) Intussen beweeg die kunswêreld aan. Daar is elke dag honderde jong kunstenaars wat interessante en innoverende werk maak. Almal is gedrewe en ambisieus. Soos Charelle. Miskien nie almal ewe talentvol as sy nie, maar talent is deesdae nie meer ’n vereiste nie. Hy sal nie meer veel langer op sy naam en vorige sukses kan staatmaak nie.

Hy lees die koerant terwyl hy koffie in ’n klein coffee shop drink. Hy sien geen berig oor die sluipmoordaanval óf voortvlugtende psigiatriese pasiënte nie. Sou die hele ding ’n versinsel van Marthinus se lewendige verbeelding wees? Hy’t al vermoed die kêrel gaan op loop met dinge (so baie soos sy onrealistiese neef) – soos met die praatjies oor Chris Kestell.

Laatmiddag kom hy by die huis. Weer is daar geen antwoord by Charelle se deur nie.

Saterdagaand is sy nog steeds nie by die huis nie. Dis naderhand negeuur, tienuur. Sy’t nie gesê sy gaan die naweek weg nie. Sy doen dit gewoonlik. Hoewel sy dit natuurlik nie hóéf te doen nie. Sy’s die vorige naweek weg saam met die vrou met die tulband. Desirée, nie ’n besonder vriendelike vrou nie. Hy wil Charelle nie bel nie. Sy sal dink hy check op op haar. Onvergeeflik. Elfuur gaan hy slaap. Hy slaap aanvanklik lig, luister vir haar voetstappe. Iewers in die voornag word hy half wakker, en verbeel hom hy hoor stemme op die sypaadjie voor die huis, hoop half deur die slaap dis Charelle, maar hy hoor haar nie inkom nie, en hy slaap onrustig verder.

Hy word die volgende oggend in ’n befoeterde bui wakker. Hy moes wéét hy gaan haar vroeër of later die skrik op die lyf jaag. ’n Middeljarige wit man wat skielik vir haar begin kook. En dit nogal haar huisbaas. Heeltemal te close vir comfort. Hy voel verleë en verneder. Wat het hy gedínk? Dan dink hy weer: behalwe dat hulle die afgelope weke gereeld saans saamgeëet het, het hy niks gedoen wat haar hoegenaamd die idee kon gee dat hy op enige manier toenadering soek of met ’n verleidingspoging besig is nie.

Teen Sondagaand is sy steeds nie terug nie.

Vlakwater

Подняться наверх