Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 8
Vyf
Оглавление’N PAAR DAE NADAT HY die poskaart van Viktor ontvang het, kom Niek laatmiddag terug van sy ateljee, waar hy die hele dag gewerk het. Toe hy by sy hek stilhou, kom ’n motor met getinte ruite stadig by hom verby, hou langs hom stil, ’n venster word afgerol, en ’n reeks obseniteite word Niek toegeslinger. Dan versnel die motor en ry weg.
Niek haas hom sy huis binne. Dit was onaangenaam. Hy het geen idee waarom hy op dié manier geteiken is nie. Die huis is vreemd stil. Hy het skielik ’n gevoel van voorbode. Sy huurder het gesê sy gaan die naweek weg, dalk is sy al terug. Sy’t gesê sy gaan iewers foto’s neem. Sy is saam met ’n vrou hier weg, ’n Desirée iemand, ’n lang, maer vrou met ’n tulband om haar kop. Nie baie vriendelik nie. In die kombuis is daar ’n koppie en ’n bordjie in die droograk (altyd versigtig – sy laat nooit ’n krummel iewers lê nie, was alles dadelik op na sy dit gebruik het). Dit beteken sy is terug.
Hy gaan besluiteloos in die gang staan wat lei na haar deur. Haar naweeksak staan in die gang en haar deur is op ’n skreef oop. Dit doen hy nie gewoonlik nie, maar hy loop na die halfoop deur. Hy klop sag, noem haar naam. Geen antwoord nie. Hy klop weer, harder. Geen antwoord nie. Hy maak die deur verder oop en loer by die kamer in.
Die gordyne is toegetrek. Charelle lê op die vloer, op haar maag, haar kop skeefgedraai, haar wang teen die vloer. “My God, Charelle,” roep hy uit, en sak op sy hurke by haar neer, “wat het gebeur?!” Sy maak haar oë effens oop. ’n Bietjie bloederige spoeg loop by haar mond uit. Sy kreun. Geen bloed op die grond of op haar klere nie, sover hy kan sien. Sy dra pajamas, die een broekspyp het halfpad teen haar been opgeskuif (delikate enkel en kuit). Geen teken van enige uitwendige besering nie. Hy weet nie wat om te doen nie. Hy vat versigtig aan haar boarm. “Charelle,” sê hy. Sy maak haar oë effens groter oop dié keer. Dit lyk nie of sy hom herken nie. Moet hy ’n ambulans bel? Dit lyk of sy normaal asemhaal.
Baie versigtig probeer hy haar ten minste op haar rug draai. Hy sit ’n kussing onder haar kop. Behalwe vir die bloederige skuim by haar mondhoeke lyk sy ongedeerd. Sy probeer regop sit. Hy help haar versigtig op, sodat sy op die stoel sit. Haar hare staan wild en stowwerig. Die plankvloer het ’n imprint op haar wang gelaat. Sy lyk steeds of sy hom nie herken nie.
“Wat het gebeur,” vra hy, “het iemand jou seergemaak?” Sy lek haar droë lippe af. “Wag,” sê hy, “ek kry vir jou water.” Sy hande bewe toe hy die glas by haar mond hou. Haar oë beweeg traag na hom asof sy hom nie kan eien nie. Sy frons effens, haar oë vreemd slaperig ongefokus, en herken hom dan skynbaar ineens.
“Wat het gebéúr, Charelle?” vra hy toe sy ’n slukkie water geneem het. “Is jy okay?”
“’n Aanval,” sê sy. “Ek ly aan epilepsie.”
“My Here,” sê hy. “En jy was alleen by die huis.”
“Dis okay,” sê sy. Sy praat so stadig, of haar tong ’n obstakel in haar mond is. Dit lyk asof sy pas nou weet wie hy is.
“Moet ek jou dokter toe neem?”
Sy skud haar kop. “Dis okay.”
“Ek maak vir ons tee,” sê hy, “vir die skok.”
Sy knik.
Sy hande bewe steeds toe hy tee maak. Tee met baie suiker vir hulle albei. Hy het geskrik. Hy weet niks van epilepsie nie. Moet sy slaap, moet hy haar probeer wakker hou? Sê nou sy gaan in ’n koma?
Hy sit by haar. Hulle drink hulle tee. Toe sy klaar is, sê sy sy’s moeg, sy gaan nou slaap. Sy slaap altyd na ’n aanval. Hy wil haar help om op die bed te lê, maar sy sê dis okay, sy’s gewoond hieraan, sy sal regkom.
Hy gaan lê op sy bed. Onseker oor wat om te doen. Hy weet niks van epilepsie nie – miskien moet sy na ’n aanval nie alleen gelaat word nie.
Die aand hoor hy haar in die kombuis. Sy’t ’n kamerjas aan, sy beweeg stadig, effens onvas, of sy die grond onder haar voete nie heeltemal vertrou nie. Hy spring haar voor; ek maak vir ons tee, sê hy, sit. Sy gehoorsaam. Hulle sit saam by die kombuistafel en tee drink. Vir die tweede keer vandag, dink hy. Eers sien hulle mekaar skaars, en nou drink hulle vir die tweede keer op dieselfde dag saam tee. Haar gesig is slaperig, haar oë steeds effens ongefokus, sy lyk of sy nog nie heeltemal by is nie. Daar is ’n bloukol op haar regterwangbeen en haar onderlip is geswel. Haar hare staan nog steeds wild krullerig.
“Is daar iets wat so ’n aanval veroorsaak?” vra hy.
Eers haal sy haar skouers op; enigiets, sê sy. Toe sê sy, stres. Toe sê sy: “Daar’s iemand agter my aan. Ek dink hy was vanmiddag hier.”
“Wie is dit?” roep hy ontstig uit.
“Iemand,” sê sy. “Iemand wat nie nee kan vat vir ’n antwoord nie. Hy was hier met sy vriende.”
“In ’n swart kar met getinte ruite?!” vra hy.
Sy skud haar kop. Sy weet nie. Sy’t nie so opgelet nie. Hy was by die hek. Sy wou hulle nie laat inkom nie. Sy’t genoeg gehad van sy nonsens. Toe’t hy haar gedreig. Toe’s hulle hier weg.
Hoe laat was dit?
Sy weet nie. Sy’t nie opgelet nie. So vieruur se kant. Sy’t pas by die huis aangekom. Desirée het haar afgelaai. Net haar goed neergesit. Sy’t gesien Niek is nie hier nie.
En wanneer het sy die aanval gehad?
’n Rukkie later. Vyfuur of so.
Kanse is goed, dink hy, dat dit dieselfde fokkers is wat haar gepla het wat op hom gevloek het. Hulle dink dalk sy bly by hom, dat hulle lovers is of iets.
Sy’t vroeër Saterdagmiddag al vreemd begin voel, sê sy, maar sy’t haar nie eintlik daaraan gesteur nie, want sy’t lanklaas ’n aanval gehad en die naweek was lekker.
Wie is Desirée? vra hy.
Sy’s ’n vriendin van haar ouer suster. Sy ken haar al haar lewe lank. Hulle kom van dieselfde dorp. Sy gee klas by die universiteit, genderstudies.
En die man wat agter haar aan is?
Ag, dié is sommer ’n lastige klong. Dis iemand wat haar lankal fancy, al van skooltyd af. Maar sy wou nooit iets van hom weet nie.
Hy’s nie dalk deel van ’n bende of so nie?
Miskien. Sy weet nie. Sy dink sy vriende is dalk skollies. Tikkoppe, party.
Skollies, gangsters, tikkoppe, wat is die verskil, dink hy. Alles beteken moeilikheid. Vir haar, en dalk vir hom ook.
“Jy moet versigtig wees,” sê hy.
Sy knik.
Eers was sy net ’n meisie wat ’n kamer by hom gehuur het, en nou voel hy – teen sy sin – verantwoordelik vir haar veiligheid.