Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 9
Ses
ОглавлениеTWEE DAE PER WEEK gee Niek klas by ’n klein privaat kunsskool net buite Stellenbosch. Hy los een van die dosente af, ’n vrou wat skielik met siekteverlof moes gaan. Hy sou kon aanbly in die huis in Stellenbosch nadat hy en Isabel uitmekaar is, maar hy het die dorp en die huis beklemmend gevind. Niks het hom meer daar gehou nie. Die huis is verkoop. Hy’t die huis in Kaapstad gekoop; Isabel is vort. Hulle was kinderloos.
Die studente is meesal kinders van vermoënde ouers. Hy verwag nie veel van hulle nie; daar is selde ’n student wat hom verras. Dis net ’n tydelike job wat hy doen. Sy hart is nouliks daarin.
Die dag is laag. Dis warm. Die hitte duur nou onafgebroke vir dae aaneen. Die afgelope dae is daar hewige bergbrande by Stellenbosch en die Franschhoekvallei. Geen wonder die gemoedere van mense loop hoog nie: die verskriklike hitte, die wind, die stakings oral, bloedige konfrontasies met die polisie, openbare onrus.
Hy moet vandag sy studente te woord staan oor hulle projekte. Sy eerste afspraak is met ’n jong mannetjie, een van die min studente wie se werk hom interesseer. Die student sit ineengedoke voor hom in sy stoel. Hy kyk deurentyd na ’n punt voor hom op die mat. Praat met ’n monotone stem. Lang stiltes. Hy praat nie graag oor sy verlede nie, sê hy. Baie tyd op straat deurgebring. Wat hy wil oproep, is sy gelukkige kindertyd. Hy wil in verskillende mediums werk: skilder, teken, beeldhou, teks en films. Hy stoot stadig ’n lêer oor die lessenaar na Niek. Niek blaai daardeur: beelde van koplose seemeeue, hotelle met gebreekte vensters, ’n verlate sanatorium. ’n Foto van ’n klein wasbeeldjie van ’n kind, sy oë verseël met kopspelde. (As dit herinneringe aan ’n gelukkige kindertyd is, wil hy nie weet hoe die teendeel lyk nie.)
Hy is die hele dag ongeduldig met die studente. Die hitte is versengend. Die omliggende berge brand steeds. Hy dink hy ruik rook. Die veraf geluid van helikopters, van sirenes ’n ent weg in die dorp – brandweerwaens of ambulanse. Hy wil wegkom, hy wil in sy koel ateljee gaan werk. Hy’t voorlopig genoeg van die studente gehad. Die meeste van hulle hoort nie hier nie, hulle het te min talent en hulle ouers te veel geld. Hulle weet nie wat hulle wil doen nie, hulle stel nie regtig belang nie, hulle is heeldag op hulle laptops en selfone en hulle praat soos barbare. Hy weet hy’s bevooroordeeld, maar hulle lyk vir hom dom.
Die laaste student wat hy sien se hare is in ’n blonde nes op haar kop gestapel en sy dra swart shorts wat so klein is dat hy dink hy die vou van een van haar haarlose (waxed) skaamlippe kan sien. Skaamteloos. Maar nee, van skaamte of skaamteloos weet sy op die oog af ewe min – haar gelaat is so onbeskrewe, so oningevul, asof geen ervaring nog sy merk daarop gelaat het nie. Nie goed of sleg nie. Al ooit gepenetreer, wonder hy, daardie gladgeplukte kontjie? Sy’s soos iets wat pas uit ’n eier gekruip het, waarvan die karapaks nog sag is. Hoewel mens met hierdie kinders nooit kan sê nie. Agter daardie vlak blik sit dalk ’n leeftyd van ervarings waarvan hy nie die geringste benul het nie.
Hoe oud sou sy wees, wonder hy, agtien, negentien? En wat beplan sy om te doen vir haar semesterprojek? vra hy. Sy weet self nog nie eintlik nie. Haar gelaatstrekke is reëlmatig, haar hare blond, haar ledemate slank en goed geproporsioneer. Liggaamlik perfek, sonder die geringste sigbare letsel of ontsiering. Is daar dalk ’n tema, ’n saak, wat haar na aan die hart lê (vra hy vermoeid). Hy moet homself maan om geduldig te wees, nie neerhalend te wees nie, nie sarkasties nie, gedúldig (die ouers betaal baie geld, die kind se gemoed is jonk en ontluikend, kwesbaar). Hy moet die skraal talent wat daar is probeer ontwikkel, wie weet wat blom daar dalk onder die regte – aanmoedigende – leiding.
Ja, sy wil miskien iets oor haar hondjies doen. Watse hondjies het sy? vra hy. Soos in miniatuurpoedeltjies, sê sy. Poedels, vra hy, of sóós in poedels? Soos in póédels, sê sy, met ’n geringe fronsie. (Soos in, wat is sy cáse? dink hy.) Waaraan het sy gedink? vra hy. (’n Plakboek dalk? Hy moet hom inhou, geduldig wees.) Dink sy in terme van ’n installasie, vra hy, ’n video dalk, ’n fotoreeks, en vanuit watter teoretiese invalshoek wil sy dit benader – ekokritiek, ’n analise van die diere-diskoers wat nou so modieus is? (Hy weet hy moet ophou hiermee. Dis onregverdig, in haar oë sien hy ’n effense blik van distress, soos ’n hond in die water wat paniekerig die oorkantste wal probeer bereik. Hê meelewing! maan hy homself. Sy’s ’n kind, sy’s nie verantwoordelik vir die tekortkominge in haar opvoeding nie.)
Nee, sy weet nie eintlik nie. Verskuif ongemaklik op haar stoel, slaan die een bruin, gladgeskeerde been oor die ander. Sy dink nie so nie. Maar daar is iets ánders waaroor sy nogal sterk voel.
En wat is dit?
Satanisme.
Satanisme, sê hy.
Ja, sê sy, sy wil iets doen oor satanisme.
Watter aspek van satanisme, Karlien? vra hy. (Of is dit Karla? Hy kyk weer vlugtig na die naamlys voor hom.)
Sy’t ’n foto in die Huisgenoot gesien, soos in by ’n plek wat hulle in Johannesburg ontdek het, nè? (Sangerige ritme, waar leer die kinders so práát?)
Hy sou haar wou wegstuur met die opdrag om te gaan kyk na die lewe en werk van Ilya Kabakov, na sy lewe onder die Sowjet-regime. Kyk of jy iets daarvan begryp, sou hy wou sê. Maar dit sou nutteloos wees, die kind is gebreinspoel, haar kop is vol clichématige frases, haar verbeelding gevorm deur Facebook images. Hy wil haar die opdrag gee om na alle afbeeldings van duiwels in die Middeleeue te gaan kyk, maar die kinders weet nie meer wat die Middeleeue is nie.
Bring foto’s, sê hy, bring enige inligting, enige beeldmateriaal en dink aan ’n formaat.
*
Toe die gesprek met die meisie klaar is, besluit hy om iets in die dorp te gaan drink totdat die verkeer minder druk is. Die dorp is besig, hy sukkel om parkering te kry; dis warm, hy is geïrriteer.
Hy bestel koffie, kyk na die koerant. ’n Kort artikel oor die nuwe pous. Natuurlik is die portret van pous Innocentius pragtig, het Isabel gesê, ’n wonder, en ook die twee Vermeers, en die Halse, veral die Halse, dis van die min skilderye waarna sy nog met plesier kan kyk, maar sou dit ’n verskil gemaak het as sy dit nie gesien het nie? Hý kan hom nog verheug in wat die dag bied, het sy gesê, terwyl sý net dink dat sy aan die einde van hierdie dag ’n dag nader aan die einde van hulle reis is. Verheug, het hy bitter gesê, verheug in wat die dag bied, wat laat haar dit dink?! Sy’s jammer, het sy gesê, jammer jammer jammer.
Iemand raak liggies aan sy skouer. Hy skrik so dat hy behoorlik koffie in sy piering mors, want vir ’n oomblik dink hy: Chris – Chris Kestell! (Chris, van wie hy toevallig die vorige nag gedroom het. Bitterbek Chris, vriend van Viktor Schoeman.) Die man het dieselfde langerige, olierige hare, dieselfde groot swartraambril en uilagtige blik. Net ’n oomblik duur die verwarring.
Is die plek oorkant hom geneem? wil die man weet. Die coffee shop is vol, Niek sit by die enkele lang tafel. Gee hy om, vra die man, as hy die plek oorkant hom neem? Weier kan Niek nie, hy’s moeg en prikkelbaar, hy’t nie lus vir praatjies maak met ’n vreemdeling nie, veral nie noudat hy vir ’n oomblik gedink het die kêrel is Chris Kestell nie.
Die man gaan sit oorkant hom. Niek hou aan koerant lees. Hy sien uit die hoek van sy oog hoe die man se hande bewe wanneer hy sy koppie koffie vashou. Hy skrik weer, want so het Chris se hande ook gebewe. Veral as hy die vorige nag meer as gewoonlik gedrink het, of besig was met een of ander heftige tirade (soos dikwels die geval). En nog meer as gewoonlik teen die einde. Net voor hy homself ingedoen het. Vertrou op Chris Kestell vir ’n dramatiese exit. Pille en ’n klomp alkohol gedrink, ’n klip aan sy been vasgemaak, en homself in die dorpsdam hier bo verdrink. Ironies, want Chris wou nooit sy voet in water sit nie. Altyd op die wal gesit met ’n bottel drank, sy voetswam aan’t vertroetel, en beledigings na die swemmers uitslinger. Hulle lustig vieslikhede toegeroep.
Die man hou hom dop, sien hy wanneer hy omblaai. Hy’t duidelik lus vir gesels; Niek nie. Hy skuil agter sy koerant, maar sy sielerus is daarmee heen. Hy kan nie ongestoord koffie drink wanneer hy weet iemand hou hom dop nie. Hy staan op, groet die man met ’n kopknik, betaal, en gaan uit in die blakende son. Dis nog te vroeg om te ry, die verkeer is steeds te druk. Hy gaan sit in die kroeg om die hoek, hoewel hy nie van die plek hou nie. Ten minste is dit koel hier binne. Solank die man hom nie volg nie, en waarom sou hy?
Maar waaragtig, kort voor lank kom die man die kroeg binne. Hierdie keer gaan hy ’n entjie verder sit. Niek draai sy rug op hom, maar kry tog die grieselrige gevoel die man hou hom dop. Hiervan hou hy niks.
Toe hy betaal het en by die kroeg uitgaan, is die man langs hom. Niek is vir ’n oomblik verblind deur die helder son. Die man neem hom aan die arm en sê: “Is jy séker ons het mekaar nie al iewers ontmoet nie?” Van nader is die ooreenkoms met Chris Kestell aansienlik minder as wat hy met die eerste oogopslag gedink het. Die man het om mee te begin nie Chris se spottende, ironiese blik nie. Hy lyk verwilder en sy een oog dwaal soekend buitentoe. Meer as net soetskeel. ’n Bietjie weersinwekkend. “Nee,” sê Niek, “ek is seker daarvan ons het nog nie vantevore ontmoet nie.” Hy groet kortaf en begin vinnig aanstap na waar sy motor geparkeer is. Die man bly op ’n drafstap langs hom. “Woon jy op die dorp?” vra hy. “Nee,” sê Niek, nou seker daarvan dat die kêrel ’n skroef iewers los het. Indien nie selfs ’n raps vertraag is nie. “Nee,” sê Niek, “as jy my sal verskoon.” Daarmee versnel hy sy pas en laat die man hopelik agter.
*
Marthinus het hom genooi om na werk ’n bier te kom drink. Marthinus sit op die stoep toe hy aankom. Hy kom Niek tegemoet met ’n beker tee in die een hand en ’n sigaret in die ander. Pragtige uitsig van hier oor die stad.
Hy vertel vir Marthinus dat sy huurder gister ’n epileptiese aanval gehad het.
“Toe ek gister by die huis kom,” sê hy, “tref ek haar op die vloer in haar kamer aan.”
“Ag nee!” roep Marthinus uit. “Jy moet met haar praat, mense gaan in altered states voor so ’n aanval.”
“Die punt is,” sê Niek, “dat iemand haar kort vantevore gedreig het. Iemand wat haar al lank in die oog het en met wie sy niks te doen wil hê nie. Toevallig het daar gister ’n kar langs my stilgehou toe ek by die huis kom en iemand het die venster afgedraai en my vieslik uitgevloek.”
“Dit klink nie na toeval nie,” sê Marthinus. “Jy moet waaksaam wees. Hou jou oë en ore oop. Ek het kontakte. Mense wat weet wat in die omgewing aangaan. Ek kan by hulle uitvind.”
“Het jy vir Chris Kestell geken?” vra Niek.
“Ek het!” sê Marthinus. “Was hy en Viktor nie kop in een mus nie?”
“Hulle was vriende, ja,” sê Niek. “Terloops,” sê hy, “’n man het my vandag in die dorp voorgekeer – eintlik eers agtervolg. Toe ek hom die eerste keer sien, dag ek hy’s Chris se dubbelganger. Maar van nader toe tog nie soveel nie. Dit was nogtans grillerig.”
Marthinus staan op. “Ek wys jou iets,” sê hy. Hy kom terug met ’n klein boekie. “Kyk wat ek gister toevallig by ’n tweedehandse boekwinkel raakgeloop het. Kýk!” sê hy, en steek ’n sigaret aan, “kyk wat staan voorin geskryf.”
Niek kyk. Die titel is ’n Bybels-maatskaplike regverdiging vir rasse-segregasie in Suid-Afrika, deur professor J.G. Kestell, hoogleraar in Ou-Testamentiese Eksegese, asook Moderator van die NG Kerk van Suid-Afrika. Voorin staan geskryf: Vir Christiaan Gerhardus Kestell, van sy oupa, C.G. Kestell. Eer jou God, jou ouers, jou leiers en jou nasie, en jy sal altyd wandel in die lig van geregtigheid. Daaronder, in ’n groot geronde kinderhandskrif: Hierdie boek behoort aan Christiaan Kestell, en die datum: 15 Julie 1966.
“Wat sê dit vir jou oor die kinderjare van Chris?” sê Marthinus.
“Die kinderjare van Chris,” sê Niek, verwonder.
“Kan jy dink wat so ’n patriargale opdrag moet doen aan die gees van ’n intelligente, sensitiewe kind, iemand wat op sy eie die status quo al begin bevraagteken het? Om dan met hierdie waansin gekonfronteer te word? Sy oupa was ’n predikant, sy pa was ’n predikant. Albei bankvas agter apartheid.”
“Ek het gedink Chris het seker iewers ’n slegte knock gevat,” sê Niek floutjies.
“Maar presies!” sê Marthinus. “Hier het jy al ’n moontlike sleutel tot Chris se diep psigiese verwonding. Om van sy groot ongedefinieerde woede nie te praat nie.”
“Mens kan dit seker so sien,” sê Niek, nie seker of die hele Chris-ding hom op die oomblik interesseer nie. Hy kyk na die inhoudsopgawe, blaai deur die boekie. Een van die hoofstukke is “Apartheid as roeping, die verantwoordelikheid van die Sterkere teenoor die Swakkere”. Daar is onderafdelings soos “Binne- en Buite-egtelike bloedvermenging”, en “Die insypeling van nie-blanke bloed”. In die slotbeskouing word rasse-apartheid gesien as die taak van die blanke ras, en sou dit nie gebeur nie, sal rasse-verbastering die gevolg wees.
“Jy’s seker reg,” sê hy vir Marthinus, “dié soort ding kan ’n gevoelige kind seker ’n lewenslange knou gee.”
*
Toe hy by sy straat indraai, sien Niek ’n swart motor stadig voor sy huis verbyry. Dit lyk vir hom verdag baie na die motor waaruit daar op hom gevloek is. Hoewel hy met geen sekerheid kan sê nie. Hy haas hom na binne. Hy tref Charelle in die kombuis aan. Sy is besig om tee te maak.
“Was hier iemand?” vra hy.
Nee, sê sy verwonderd. Sy’t ’n rukkie gelede by die huis aangekom en hier was niemand nie. Kan sy vir hom ook ’n koppie tee maak? Hy sak verlig op ’n stoel by die kombuistafel neer. Hy voel ineens behoorlik aangedaan deur hierdie gebaar van haar.
Hy hou haar dop terwyl sy tee maak. Sy is vir hom mooi. Sy het donker oë en donker wenkbroue, en ’n groterige neus en ’n besliste mond en haar tande is oneweredig. (Geld vir ortodontiese werk was daar seker nie.) En dan die sagte, welige, digte bos krullerige hare. Delikaat gebou. Hy hou gewoonlik van meer robuuste vroue, maar sy is vir hom mooi. Wonderbaarlik dat ’n volwassene (hy neem aan sy is ouer as agtien) sulke smal kinderpolse kan hê. Hy is dankbaar, ontroer dat hulle so saam aan die kombuistafel kan sit en tee drink.
Hy wil haar nie met vrae bestook nie, maar daar is heelwat wat hy nie van haar weet nie. Hy het nog skaars ’n behoorlike gesprek met haar gehad sedert sy hier kom woon het. Hy wil nie indringerig wees nie, hy wil die nuwe gemeensaamheid waarmee hulle hier sit, nie versteur nie. Sy is skaam, hy wil haar allereers gerusstel.
Hoe vind sy haar kursus?
Sy hou daarvan. Dis baie opwindend.
Het sy werk om vir hom te wys? (Onmiddellik spyt dat hy dit gevra het. Éintlik wil hy so min as moontlik by haar lewe betrek wees. By énigiemand se lewe.)
Sy sal graag vir hom wys. (Haar gesig verkleur effens. ’n Donker blos.) Sy sal haar portefeulje bymekaar kry. Hy sien dat sy nie heeltemal op haar gemak is nie. Hy staan op om nog tee te maak, toe die deurklokkie lui. Eers oorweeg hy om dit te ignoreer. Hy wil hulle gesellige samesyn nie onderbreek nie. Maar die klokkie lui weer. Twee keer. Nadruklik. Hy staan op. Toe hy die voordeur oopmaak, is daar niemand buite by die hek nie. Hy sit die stoeplig aan. Maak die voordeur weer toe. Hoe het die persoon wat die klokkie gelui het, dit reggekry om so vinnig te verdwyn? Hy hou nie hiervan nie.
Hy gaan terug in die huis. “Niemand,” sê hy. Sy sê niks. Kyk af na haar hande.
“Hierdie man wat jou agtervolg,” sê hy, “is hy in staat om … het jy rede om bang te wees vir hom?”
Sy haal haar skouers op. Sy weet nie. Sy dink sy vriende is ’n slegte invloed. En hy’s ook lekker deurmekaar in sy kop. Maar sy weet nie. Dit hang af met wie hy saam uithang.
Op watter manier is hy deurmekaar in sy kop? vra hy.
Hy’t al van skooltyd af hierdie ding oor haar, maar sy’t nooit in hom belanggestel nie. Hy’t Kaap toe gekom om werk te soek. Maar sy dink nie hy’t al werk gekry nie. Sy dink hy hang nou met tikkoppe uit.
Het sy al met hom gepraat?
Nie eintlik vandat sy hier is nie. Net die een keer voor sy die aanval gehad het.
Wat het hy toe gesê?
Hy’t haar gedreig. (Sy kyk af. Onwillig om te praat.)
Waarmee?
Hy’t gesê sy sal nie wegkom nie. Hy sal agter haar aankom totdat sy met hom saamgaan. As sy nie wil nie, sal hy haar laat betaal.
“Jy kan hom nie by die polisie aangee nie?” vra hy.
Sy skud haar kop. “Hy’t nog niks gedoen nie,” sê sy sag.
“Moet jy nou eers wag totdat hy iets doen?!” vra hy.
Sy haal weer haar skouers op.
Die gesellige sfeer tussen hulle is verbreek. Kort daarna gaan sy na haar kamer. Hy bly alleen agter by die kombuistafel. Onrustig en onbehaaglik. So het hy in New York ook by die tafel in hulle apartement gesit. Isabel het elke oggend gehuil. Smiddae het sy nie gepraat nie. Hy was later bang vir haar, so verbete desperaat was sy in haar blou kamerjas. Hulle het oomblikke van swygsame gemeensaamheid gehad op die moltrein, in strate onderweg na museums, maar die opwinding van New York het grotendeels aan hulle verbygegaan. Daar het ’n stroefheid oor hom gekom. Desondanks het hy haar nog steeds by tye begeer. Intens begeer. Hy wou haar blou kamerjas oopslaan en haar stook soos ’n vuur. Totdat sy spontaan in vlamme uitbars en hulle albei daardeur verteer word. In die museums het net die Oosterse kuns hom nog aangespreek. Die delikate hand van Jizõ se Bodhisattva Ksitigarbha uit die twaalfde of dertiende eeu. Die elfde-eeuse Bodhisattva uit die Noordelike Song-dinastie met sy regop rug en trotse, verlig-verrukte gesigsuitdrukking. Vir die Westerse kuns het hy met enkele uitsonderinge geen ooghare meer gehad nie. El Greco se Gesig op Toledo en portret van die kardinaal; Jeff Koons se werk (Ilona se trim klein poephol).
Laterig die volgende middag koop hy – vir die eerste keer in weke – uitgebreid kookbestanddele. Vanaand kook hy. Hy wil Charelle vra of sy saam wil eet. Hy’t lanklaas ordentlik gekook en hy is ’n goeie kok. Hy maak ’n groen Thai-kerrie. Die kombuis raak gevul met verlokkende geure. Die ruite raak toegewasem. Die ongewone hitte is gebreek. Dit het skielik begin reën. ’n Goeie dag vir kerrie. Hy wil haar nie amptelik nooi nie, bang hy skrik haar af. Hy sal die kans waag. Dalk kom sy nie eens terug nie, of het sy ander planne, hoewel sy tot dusver nie dikwels saans in die week uitgegaan het nie. Nie dat hy eintlik voorheen so opgelet het nie.
Sy kom vroegaand terug. Wakker oë, oplettend. Hoe het sy hier gekom? Met ’n taxi, sê sy, en toe ’n paar blokke gestap. Op haar wange weer die dieprooi blos (van die vinnig stap, van opwinding?), en fyn waterdruppels in haar digte bos krulhare. Hy nooi haar om saam te eet, hy’t kos gemaak, sê hy, sy kan net sowel. Eers lyk sy effens onseker. Maar sy laat haar ompraat. Saam sit hulle in die opgewasemde kombuis. Hy en die kind met die dun bruin polse soos Tamar in die Bybel. (Kind?) Afgesluit van die wêreld, en veilig, terwyl hulle hier sit. Sy eet. Sy moet honger wees. Hy’t nog nie vantevore nagedink waarvan sy eintlik leef nie, want in die yskas is daar nouliks enigiets: af en toe ’n bakkie jogurt, ’n plakkie kaas, ’n houertjie met goedkoop margarien. Hy vra haar uit oor haar familie aan die Weskus. Wanneer sy begin foto’s neem het. Hulle drink wyn en sy praat makliker as vantevore. Sy’t op hoërskool al begin foto’s neem, universiteitstudente het as deel van ’n projek vir die skoolkinders klein kameras gegee. Sy was van die begin af mal daaroor. Sy’t alles afgeneem, voor die voet. Meesal die mense van die dorp. Die begraafplaas. Die landskap. Stadigaan het sy meer gewaag. Voor sy weg is uit die dorp het sy ’n reeks selfportrette in vreemde kontekste gemaak. Sy’t baie nuwe idees – die idees kóm net. Sy geniet haar kursus by die kunsskool – dis uitdagend, en die ekstra joppie wat sy doen, is nie te bad nie. Sy help twee middae ’n week in ’n vriendin se haarkappersalon. Doen kliënte se naels en so. (Tot sy skande het hy nooit eens gevra wat sy doen nie.) Sy’s nou al twee jaar in die stad, maar dis haar eerste jaar by die kunsskool. Sy’t hard gewerk om daarvoor te spaar. Haar vel is merkwaardig sag, letselloos soos dié van ’n meisie voor puberteit. Hulle praat nie oor die kêrel wat haar teister en dreig nie, maar dis daar, die gegewe is daar tussen hulle. Hy is seker sy voel dit ook aan.
Die volgende dag is daar by hom ’n vreemde opwinding. Hy gaan die aand weer kook. Dalk kan hulle nou meer dikwels saans saam eet. Op dié manier kry sy darem elke dag ’n behoorlike, voedsame maaltyd in.
Hy beplan die spyskaart noukeurig. Hy stap met ’n ligter tred; die studente irriteer hom minder. Hy vind selfs die meisie wat oor satanisme wil werk, minder belaglik. Hy’s geduldig met haar, al lyk dit nie eintlik of sy rigting kry nie. Hy begin selfs dink dat sy iets met die installasie-projek kan doen. Hy is ondersteunend. In so ’n mate dat hy in ’n onbewaakte oomblik agterkom dat sy hom stip dophou, iets wat sy nog nie vantevore gedoen het nie. Dalk dink die kind hy wil haar verlei – hoe sal hy ook weet wat in daardie kop aangaan. Dink dalk hy wil haar plattrek op die luiperdvelkombers wat sy in haar installasie wil gebruik (gebaseer op ’n Huisgenoot-foto van ’n “satanis-hool” wat in ’n verlate mynskag aangetref is), onsedelike dade met haar pleeg. Die kinders word seker deesdae uitvoerig teen pedofiele gewaarsku.
Hy maak die aand ’n geurige hoendergereg. Uit die boonste rakke, dink hy. Charelle eet geredeliker saam. Hulle drink weer wyn en sy gesels nog vryliker as die vorige aand. Is Charelle ’n familienaam? wil hy versigtig weet. Nee wat, sê sy, bruinmense is lief vir fancy name. Dis bietjie van ’n mode, name soos Lisché en Shinique en Izona. Watse soort mense is haar ouers? vra hy. Sy trek haar skouers op. Eenvoudige dorpsmense. Konserwatief. Gelowig. En sy? Sy trek weer net haar skouers op. Maar sy glo wel in die duiwel? Sy lag net, skud haar kop ontkennend. Hulle praat oor die kuns waarvan hulle hou. Sy is duidelik gretig om soveel as moontlik van tydgenootlike kuns te wete te kom. (Anders as sy blasé, trae studente by die kunsskool.) Sy het ’n manier om haar wenkbroue te lig wanneer sy geesdriftig oor iets praat. (Teen die einde was Isabel se wenkbroue soos twee gekruiste swaarde – bleek, soos haar hare.) Hy vertel haar van Ilya Kabakov, na wie se werk hy die afgelope tyd met hernude aandag kyk. (Tot sy spyt was niks daarvan in New York te sien nie.) Sy luister met belangstelling; wakker oë. Hy vra haar uit na haar jeug. Haar pa het eers in Klippiesbaai in die kreeffabriek gewerk, sy’s op die dorp gebore, maar later is hulle Veldenburg toe, waar hy nou by ’n houtsaak werk. Sy’t daar skoolgegaan, op die dorp. Maar sy’t vroeg geweet sy wil meer hê in die lewe. Sy wil ’n kunsfotograaf wees. Dis haar doel met haar opleiding. Het sy baie vriende in die stad gemaak? Nee wat, sy’s eintlik maar ’n alleenloper. En die man, die kêrel wat haar so lastig val? Hy’t eers begin van die jaar in die Kaap aangekom.
Hy maan homself om nie met haar te familiêr te wees nie, om ’n betaamlike afstand te behou. Die volgende twee aande eet hulle weer saam. Sy wys haar portefeulje vir hom. Hy is beïndruk. Verrassend, dat hierdie meisie, wat in ’n klein Weskusdorpie grootgeword het, met waarskynlik geen behoorlike skoolopleiding nie en seker tot dusver beperkte blootstelling aan internasionale kuns, met werk vorendag kom wat so vars is. Soos Cindy Sherman plaas en fotografeer sy haarself in allerlei kunsmatige situasies. Een van hierdie selfportrette is geneem in ’n slaghuis, met meters wors om haar kaal lyf gedrapeer. (Dit skok hom, moet hy erken.) Hy moet haar nie onderskat nie – delikate polse of te not, sy’s waagmoedig, gefokus, en ambisieus. As sy kan deurdruk, kan sy met haar natuurlike talent en vindingrykheid ver kom.