Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 11
Agt
ОглавлениеDIE BOME RAAK GESTROOP VAN BLARE. Dit word steeds later lig. Ek drink soggens tee in die bed en kyk na die berge. My blik, sien ek in die spieël, is lakoniek. My gees is oproerig en gekwel. Die onderhandelings met professor Markus Olivier – emeritus hoogleraar in geskiedenis – vorder nie. Hy is die vader van die Olivier-broers, ’n tweeling, oor wie ek die monografie skryf. Dat so ’n vader twee sulke seuns kon verwek! Ek wil met hom praat, hoewel ek nog nie seker is wat ek by hom wil weet nie. Hoe meer obstakels hy in my pad gooi, hoe meer vasberade is ek om by hom uit te kom. Ek onderhandel nie direk met hom nie – alle kommunikasie (telefonies en per e-pos) gaan deur sy sekretaresse-cum-huishoudster. Ek het geen idee hoe sy lyk nie, maar ek stel my ’n saaklik-kompetente vrou voor, geklee in ’n uniform, met dienlike leerskoene met dik rubbersole.
Op kaarte bring ek alles aan wat met die broers en hulle werk verband hou. Biografiese inligting (die vader, die afwesige moeder, hulle jeug in Suid-Afrika), hulle opleiding (voor- en nagraads), poppespelery (puppetry), literêre invloede (Franz Kafka, Bruno Schulz, ens.), die surrealisme (’n belangrike komponent van hulle werk), musiek, die tegniek van stop-action-verfilming (hulle voorkeurtegniek en een waarin hulle as moderne meesters beskou word), die kritiese resepsie van hulle werk (daar is heelwat oor hulle geskryf). Intussen onderhandel ek met die sekretaresse/huishoudster. Ek is van plan om aan te hou totdat ek ’n onderhoud met die ou vader kry.
Die dorp is mooi, maar ook weersinwekkend.
Ek vermy mense. Dis ’n tyd van afsondering. Op die voorgrond: ek en die berge en die broers. Daar is soms ’n gezoem in die lug. Die berge vibreer. Op die agtergrond: die afwesige maar dringende teenwoordigheid van die halsstarrige ou vader en sy sidekick-cum-huishoudster. Soms ontmoet ek jou in die dorp. Altyd praat ons oor hom, want sy dood is nog vars in ons gemoedere. Soms is dit beter, en soms is dit slegter, sê jy, maar die gemis bly.
Wanneer ek nie met die kaarte besig is nie, volg ek skakels op die internet. Ek lees dat Philip Roth in ’n onderhoud sê hy is klaar met skryf. Hy het die grootste en die beste deel van sy lewe aan die roman gewy, maar nou het hy nie meer die gedrewenheid nie. Daar is ’n foto van hom: hy lyk soos ’n ontnugterde ou man, maar sy blik is nog steeds priemend. Klaar is hy vermoedelik met karakters soos Mickey Sabbath: panty-sniffing, outrageous Sabbath, wat ’n loflied sing op die klitoris, masturbeer op die graf van sy minnares met die kort beentjies (of verwar ek haar met ’n ander karakter – Winnie Verloc dalk, in The Secret Agent? Winnie wat nie te diep in dinge wou kyk nie).
Dan op ’n dag bel die sekretaresse, ’n mejuffrou De Jongh. Professor Olivier is bereid om my te woord te staan. Maar die onderhoud is onderhewig aan streng voorwaardes. Dit sal nie langer as ’n halfuur kan wees nie, korter selfs as die professor vind dat dit hom te veel vermoei. Ek moet my vrae vooraf stuur vir die professor se goedkeuring.
Ons maak ’n afspraak vir die einde van die week, om vieruur die middag.