Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 13

Tien

Оглавление

DIE MIDDAG VIERUUR meld ek my by die aftreeoord aan. (’n Luukse oord, dit moet ’n aansienlike bedraggie kos om hier te bly.) Die ysterhekke gaan oop, ek word deurgelaat. Die oord lê op die rand van die dorp, die omgewing is pragtig. Die huishoudster-cum-sekretaresse ontvang my. As sy, soos die meeste mense, effens onkant gevang word deur my voorkoms, wys sy dit nie. Ek merk wel dat haar blik (soos dié van die meeste mense) ’n oomblik te lank op my onooglike lipletsel talm. Sy stel haarself voor as mejuffrou De Jongh. Geen voornaam dus nie. Allermins ’n uniform en dienlike skoene – ’n weldeeglike décolletage, met indrukwekkende borste. Swart laehalstoppie, stywe swart jeans. (Dra dit die professor se goedkeuring weg – verkies hy haar nie in ’n stemmige uniform nie?) En ’n raving bottle blonde. Nou toe nou. As sy enigsins verbaas is, is ek dit ook.

Sy neem my na die stoep wat uitkyk op ’n welige fynbostuin. Emeritus professor Olivier sit in ’n rolstoel, met ’n kombersie oor sy knieë. Sy rug is na ons gekeer. Toe hy my groet, gee hy geen teken van herkenning nie. Waarom sou hy ook, dit was byna dertig jaar gelede. Sy hoof is beneriger as ooit, sonder die versagting van hare, waarvan hy nooit baie gehad het nie. Ek wil nie te veel, en te openlik, staar nie. Hy beduie met ’n breë, geelbleek hand (affliksie van die lewer?) hy wil afgestoot word na die tuin. Dis ’n mooi dag, helder, nie te warm nie. Die vrou trek die kniekombersie reg. Sy stoot die rolstoel, ek stap agter hulle aan. Geen kans op enige gesprek nou nie. Af met die slingerpaadjie, deur beddings met fynbos en geurige kruidgewasse, tot by ’n groot vywer. Hy beduie dat hy hier wil stop. Ons staan op die geplaveide rand van die vywer, eintlik meer ’n soort dam. Groot koi-visse kom dadelik aangeswem. Veral een bly na aan die rand rondhang, taamlik na aan die wateroppervlak. Staan ek, die professor en die mejuffrou De Jongh en tuur na die vis. Wat ’n vreemde verskynsel, van nader beskou. Helderrooi, met twee uitsteeksels aan weerskant van sy bek en iets, merk ek, soos ’n blouerige vlies oor sy oë. Sou die vis blind wees? Die bek, soos dit oop- en toemaak, het iets obseen-seksueels daaraan. Is dit ’n verhulde boodskap van die ou vader? ’n Skuins verwysing na ons seksuele eskapade byna dertig jaar vantevore?

“Het die tweeling ooit visse aangehou?” vra ek (om iewers te begin).

“Nee,” sê die ou vader (sonder om sy kop in my rigting te draai), “geen visse nie. Wel honde.”

“Waarmee het hulle graag as kinders gespeel?”

Olivier wag ’n rukkie voor hy antwoord. Hy gaan dit duidelik nie vir my maklik maak nie. Mejuffrou De Jongh skop die rem ferm aan, gaan sit ’n entjie daarvandaan op ’n bankie, skop haar bene voor haar uit en steek ’n sigaret aan. Min gepla, en ou vader maak nie beswaar nie.

“Waarmee gesonde, normale jong seuns hulle gewoonlik besig hou,” sê hy.

“En dit is?” vra ek.

“Hulle het gelees, op hulle fietse rondgery, boomgeklim, bal gespeel,” sê hy (geïrriteerd?), “aan sport deelgeneem. Hulle het trouens ’n groot aanleg in dié rigting getoon.”

“Het hulle daarvan gehou om strokiesprente te lees?”

“Binne perke,” sê hy. (Hierdie perke, vermoed ek, was sy vaderlike perke.)

“Ek neem aan hulle het graag geteken?”

“Uiteraard.”

(Sal ek vooroor buk, my mond langs sy oor, en fluister: Ek weet waartoe jy in staat was. Ek het nie vergeet nie. Vinnig en ongeërg, voor die blonde iets agterkom?)

“Wat het hulle geteken?” vra ek.

Hy maak ’n geïrriteerde gebaar. “Enigiets. Diere. Vliegtuie. Wat noem ’n mens hulle – superheroes.”

“Het hulle as kinders poppespelvertonings bygewoon?”

“Ek het hulle ’n keer of wat geneem,” antwoord hy.

“Het u enige idee waar hulle fassinasie met die idee van die poppekas vandaan kom?” vra ek.

“Dit moet jy hulle maar self vra,” sê hy.

“En het u nog gereeld kontak met hulle?” vra ek.

Die man aarsel ’n oomblik voor hy sê: “Hulle is besig. Hulle beweeg op die internasionale verhoog. Maar hulle stuur getrou vir my katalogi van elk van hulle uitstallings.”

Dan hou hy sy hand woordeloos uit in die rigting van mejuffrou De Jongh, wat opstaan, ’n klein plastiekbakkie van iewers uit sy rolstoel te voorskyn haal en dit aan hom oorhandig. Nou begin hy die koi-vis voer. Die obsene bek van die vis verskyn kort-kort bo die wateroppervlak soos dit hap na die kos. Ek staan met fassinasie en weersin en toekyk. Die onderhoud het nie besonder goed afgeskop nie. Die ou vader kan nouliks minder tegemoetkomend wees. Ek vra nog een of twee vrae, maar vir my doeleindes lei dit eintlik nêrens heen nie. Kort voor lank maak hy weer ’n handgebaar in die rigting van die vrou. Sy trap haar sigaretstompie dood, staan op, skop die rem los, en ek het ’n idee die onderhoud is verby. Nie een keer het die ou man my aangekyk nie. Geen blyke gegee van herkenning nie.

*

Ek werk verder aan die monografie. Toe ek ’n volgende afspraak wil maak, beweer mejuffrou De Jongh professor Olivier is in die bed met ’n swaar griep. Ek glo daar niks van nie, maar so gou gee ek nie op nie. Ek het nog ’n hele paar vrae wat ek hom wil vra. Waarom sal ek hom so lig daarvan laat afkom?

Vlakwater

Подняться наверх