Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 4

Een

Оглавление

DIE TYD DAAR WAS HEILIG. So sien ek dit terugskouend. (Is heilig ’n woord wat algemeen in my woordeskat voorkom? Nee.) Wat ook al daarvoor of daarna gebeur het, daardie tyd was heilig. Heilig! Ek sal dit nooit vergeet nie. Dis op my hart gegraveer. Dit was koud. Dit het die dag gereën toe ek en Willem Wepener na Jacobus se liggaam gaan kyk het. (Jy wou nie saamgaan nie. Jy wil hom nie so onthou nie, het jy gesê.) In die ontvangslokaal van die ondernemers was daar ’n groot afdruk van ’n leeuwyfie met haar welpies, verskeie voorbeelde van kranse, en twee ontvangsdames met uitdrukkings van permanente piëteit. ’n Man het ons na die besigtigingsvertrek geneem – deur die gebou, by die agterdeur uit, deur waterplasse, tot by ’n klein agterkamertjie (nouliks ingerig vir die besigtiging van liggame). ’n Deursigtige donkergroen chintz- Mr Price-gordyn teen die een muur. ’n Sementvloer, koud. Daar lê Jacobus, in sy kis. God, so doodstil! Op Willem se gesig ’n uitdrukking van onuitspreeklike droefnis. Lank staan hy onbeweeglik na die liggaam en kyk.

Ek bly die eerste aand by jou oor sodat jy nie op jou eie hoef te wees nie. Willem maak kos. Hy kom yskoud van buite af in met proviand. Sy wange is bleek, hy het wit kringe onder sy oë. Ons sit saamgebondel om die eetkamertafel. Die kos en die wyn is vertroostend. Laataand stort ek en kruip oplaas halfdronk tussen die yskoue lakens in. Die oggend breek hopeloos te gou aan. Dit is grou en uitermate koud. (Dit is toe ek die ysigheid die eerste keer in my beendere voel sypel het.) Ek klou nog aan die nag vas. My eerste gedagte: Niks bring hom ooit weer terug nie. ’n Heilige tyd, vir altyd op my hart gegraveer.

In my lewe het ek onverantwoordelike dinge gedoen. Ek was soms oneerlik en ontrou. Maar ek is lojaal teenoor diegene wat ek liefhet. Ek en Willem staan in die klein agterkamertjie. Ek raak met die agterkant van my hand aan Jacobus se koue wang. Die vlees reageer nie. Ek raak effens met my vingers aan sy bors, net onder die punt van die borsbeen. Die vlees voel soos klei. Dis asof my vingerpunte steeds voorberei is op die geringste aanduiding van lewe – die allergeringste op-en-neer-deining van die borskas – en asof my víngers die absolute roerloosheid van die liggaam nie kan begryp nie. Langs my staan Willem roerloos; ek het hom nog nooit so bewegingloos sien staan nie. Vir hom is aanraking taboe, sê hy. Hy staan net en kyk met die uitdrukking op sy gesig van onuitspreeklike droefenis.

*

Ek is gebore met ’n gesplete verhemelte en ’n haaslip. Ek het ’n breë, platterige neus, ’n smal voorkop en hare so welig soos dié van ’n Katolieke heilige. Tydens die sesde tot tiende week van swangerskap behoort die bene en nate van die bokaak, neus en mond saam te snoer om die verhemelte en bolip te vorm. Wanneer dit nie gebeur nie, word die baba met ’n gesplete verhemelte en ’n haaslip gebore. Ek vermoed dat ek ’n ongewenste swangerskap was, en dat my moeder my in die embrionale fase probeer aborteer het. Dit is nooit direk aan my gesê nie, dit is iets wat ek intuïtief aangevoel het. Vanweë die gesplete verhemelte en haaslip kon ek as baba nie behoorlik drink nie en het ek met moeite leer praat. Ek was gevolglik ’n woedende en gefrustreerde kind. Wat dit nie makliker vir my moeder gemaak het nie – negentien jaar oud, met ’n onwelkome, onooglike baba, en dit boonop ’n meisie. Ek is geopereer. Die gesplete verhemelte is herstel. Maar die letsel van die gekorrigeerde haaslip is meer prominent by my as wat dit behoort te wees. Mense van albei geslagte vind my seksueel óf onweerstaanbaar óf afstootlik.

Na Jacobus se dood het ek my goed gepak, my huis verhuur, en is ek vir ’n tyd lank weg. Ek kon dit nie verduur om in die dorp aan te bly waar boom en berg onverskillig staan teenoor iedere menslike lotgeval nie.

Vlakwater

Подняться наверх