Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 7
Vier
Оглавление’N WEEK NA die varkepisode stap Niek een oggend bult-op na Marthinus se plek. Hy wil die opset daar gaan bekyk. Die idee van die varke interesseer hom. Dalk moet hy vir hom ook ’n vark aanskaf, om te kompenseer vir die verlies van sy pa se varke, die Large Whites.
Straataf, en dan twee blokke verder op, teen die bopunt van die heuwel (verbasend naby), tref hy die huis aan. Waar sý huis direk op die see uitkyk, met die berg agter hom, is die berg regs en die see links van Marthinus se huis. Die huis sit taamlik ver terug, hóóg, met ’n trap wat vanaf die voorhekkie tot by die breë stoep oploop. Op die hekkie is ’n bord aangebring: This property is patrolled by pigs. Nie ’n vark in sig nie. Die voortuin, nie baie groot nie, is aan weerskant van die trap verdeel in terrasse. Hierdie terrasse is beplant met blomme en groente. Alles dui hier op die hand van ’n toegewyde tuinier.
Huis en tuin is ewe goed onderhou. Dit moet op sy dag ’n herehuis gewees het – groot, statig, met die breë voorstoep.
Op die stoep sit ’n vrou en lees. ’n Maleise skoonheid, donker oë, blasserige huid. In die hoek van die stoep speel ’n seuntjie. Marthinus is agter, beduie die vrou met haar kop. Hy is seker besig in die tuin. Niek kan sommer deur die huis loop.
Die gang is breed. Die plafon is hoog. Die huis ruik na vloerpolitoer en hout. ’n Groot huis; vier of meer kamers, twee aan weerskant van die lang gang. Hy moet deur die sitkamer loop om by die kombuis te kom. Die vertrek is keurig ingerig. Gesellig. Groot banke, gemakstoele, mooi ou vuurherd. Ngunivelle op die vloer. Op die rak bo die kaggel is ’n bok van kralewerk, ’n bak met suurlemoene, twee klein beeldjies. Erdepotte met plante op die een vensterbank. ’n Bondel droë wasgoed op een van die banke, ’n paar glase en bekers wat rondstaan op die koffietafel. Boeke en koerante. Die kombuis is netjies. ’n Vrou se hand duidelik sigbaar hier. Skoongeskropte houttafel. Geen vuil skottelgoed wat rondstaan nie.
Vanaf die smal agterstoep lei daar trappies na die tuin. Die agtertuin strek ver agtertoe, die erf moet groot wees. Die tuin hier is ewe welig en goed versorg, met plante in potte, beddings met kruie, ’n klein grasperk, ’n prieel, en half verskuil agter hoë struike, die varkhokke in die verste agterhoek. Vyf varke wei in die tuin. Marthinus het Niek intussen gewaar en kom aangestap, met hark en snoeiskêr in die hand. Hy heet Niek hartlik welkom. Kom, sê hy, hy maak vir hulle tee.
Twee bekertjies word keurig op die skinkbord, met lappie, uitgesit. Suikerpotjie, melkbekertjie, beskuit in ’n bakkie. (Alles baie huislik, heel anders as sy eie opset, sien Niek, wat steeds tegelyk leeg én chaoties is.) Hy wonder waarom hy verbaas is – wat het hy verwag – ’n varkhok omdat Marthinus met varke werk?
’n Sterk wind het skielik opgesteek, die seuntjie wat op die stoep gespeel het, kyk nou na ’n kinderprogram op die groot platskermtelevisie in die ander hoek van die sitkamer, en Marthinus stel voor hulle drink sommer in sy kamer tee. Sy kamer is ’n ruim, skemerige vertrek. Houtvloere, hoë plafon. Bed in een hoek, houttafel onder die groot venster wat uitkyk op die berg. Op die tafel ’n Apple-skootrekenaar. Ook hier ’n ngunibeesvel op die vloer. Twee mooi Art Deco-gemakstoele en ’n leer-leunstoel. Teen een van die mure is ’n groot ingeboude boekrak, stampvol tot aan die plafon. Marthinus sit die skinkbord op die groot houttafel neer, trek vir hulle die gemakstoele nader. Niks karigs aan die vertrek nie.
“Wie woon saam met jou hier?” vra Niek. (Die tee is besonder lekker.)
“Dis my huis, maar my vriend Alfons huur ’n deel daarvan by my, hy en sy vrou, Rosita, en sy kind, die seuntjie wat jy in die sitkamer gesien het. ”
“Wie is die tuinier?” vra hy.
“Ek is,” sê Marthinus. “Ek is hier die hooftuinier, varkwagter, algemene opsiener en huisman – kan jy maar sê.”
Wat Niek nog nie ’n duidelike beeld gee van Marthinus se posisie, of die aard van sy werk nie (hier word duidelik nie gebrek gely nie). Maar sy oog val skielik, asof ’n magneet dit soontoe trek, in die oorvol boekrak, skuins oorkant hom, op ’n eksemplaar van Vlakwater. Wil jy nou meer, Marthinus het waarlik ’n eksemplaar van die boek. Die tweede keer in ’n paar dae dat hy aan Viktor herinner word.
“Ek sien jy het ’n eksemplaar van Vlakwater,” sê hy.
“Ja,” sê Marthinus, “o Here. Daardie yslike kompendium van verwording. Briljant.”
“Het jy ooit vir Viktor Schoeman geken?” vra Niek.
“Ja,” sê Marthinus. “Ek het hom geken. Nie goed nie, maar ek het hom geken.” Hy rol vir hom ’n sigaret. “’n Geteisterde kêrel, o Here. ’n Man van wie die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Nie ’n man aan wie jy jou geheime moes toevertrou nie. ’n Destruktiewe kêrel as ek ooit een ontmoet het.”
“Ek sou dit self nie beter kon stel nie,” sê Niek, lakoniek.
“En gesplete!” sê Marthinus. “Daar het jy nou ’n psige wat soos twee vyandige faksies teenoor mekaar opgestel is. Ook nie iemand op wie jy – en dis nou ’n understatement – kon peil trek nie.”
“Het jy ooit vir Blinky Booysen geken?” vra Niek.
“Ek hét!” sê Marthinus. “Wat het van hom geword?!”
“Niemand weet nie,” sê Niek, “daar’s allerhande stories.”
“Dalk het hy en Viktor saam uitgewyk en iewers in Ekwatoriaal-Afrika ’n besigheid begin.” Hy lag sy kort, vrolike laggie. “Waar hulle die plaaslike bevolking op elke moontlike manier indoen. Mistahs Kurtz, they revived.”
“Onwaarskynlik,” sê Niek. “Hulle kon mekaar nie verdra nie.”
“Blinky,” sê Marthinus mymerend. “Pragtige werk gemaak. ’n Besonderse kêrel.”
“Ja,” sê Niek. “Byna alles wat ek van skilder weet, het ek by hom geleer.”
“My maggies, nè?!” sê Marthinus, en kyk hom ’n oomblik met nog groter belangstelling aan.
“Toevallig,” sê Niek, “het ek ’n paar dae gelede ’n poskaart van Viktor Schoeman gekry waarin hy vra of ek nog enige ekstra eksemplare van Vlakwater het. Ek het die boeke jare lank in bokse in my garage gestoor. Met moeite oral met my saamgesleep, om die waarheid te sê.”
“Hét jy nog hierdie eksemplare?” vra Marthinus.
“Ek het ’n paar jaar gelede van alles ontslae geraak, toe ek al baie lank niks meer van Viktor gehoor het nie.”
“Hoe lank is Viktor al uit die land?”
“Lank, sover ek weet,” sê Niek. “Laat negentigs. ’n Ruk na die verskyning van Vlakwater.”
“Waar is die kaart gepos?”
“Dis onduidelik, maar daar is ’n Suid-Afrikaanse posseël op.”
“Nou toe nou,” sê Marthinus, “dit beteken waarskynlik hy is terug in die land. Hier maak hy weer sy opwagting. Dit verbaas my niks. Steek sy voelers uit. Aanvoorwerk. Reken maar daarop dat hy iets in die mou voer. Dit sal nie Viktor wees as hy nie iets in die mou voer nie.”
Dit wil Niek nie nou hoor nie. Hy wil nie hoor Viktor is terug in die land en hy voer iets in die mou nie. Toe Viktor weg is, het hy gehoop hy sien hom nooit weer nie. En in die jare dat Viktor weg was, het Niek se oordeel oor hom nie barmhartiger geword nie. Inteendeel.
Kort daarna staan hy op om te gaan. “Hou my op hoogte van Viktor se moves en kom kyk een aand dvd’s,” roep Marthinus Niek agterna toe hy hom by die hekkie weggesien het.
*
Viktor Schoeman se eerste roman is in die vroeg tagtigs uitgegee deur Daspis, ’n klein ondergrondse uitgewery. (Niek was toe nog op kunsskool.) Die boek is verbied. In die laat tagtigs verskyn sy veel meer ambisieuse roman, Diepwater. Hoogs eksperimenteel, met swart bladsye, bladsye met net dialoog, afgewissel met pastiches van verskeie Afrikaanse tekste.
In die middel negentigs skryf Viktor sy laaste groot roman – Vlakwater. Volgens hom die tweede in ’n beplande trilogie, waarvan Diepwater die eerste was. ’n Distopiese toekomsvisie. ’n Apokaliptiese vermenging van die historiese Suid-Afrikaanse verlede, ’n massief oordrewe hede, en ’n wetenskapsfiksieagtige toekoms. ’n Opeenstapeling van verdorwenhede, angstighede, politieke anarchisme, korrupsie, wanbestuur, opportunisme, vervleg met elemente van die Groot Trek, Grensoorloë, mynstakings, kernkragdebakels, godsdienstige fundamentalisme, boeremusiek, rappers, delwerye, imbongi’s, wit en swart tycoons, toordokters, mutimoorde. Satanisme en satanistiese rituele. Groot dele van die lukrake handeling speel af in ’n reusebegraafplaas, ’n soort heldeakker, tussen die grafte van helde van die Anglo-Boereoorlog en die Struggle. Daar is die desekrasie van hierdie grafte. Daar is (soos in Diepwater) kannibalisme en nekrofilie. Uitbarstings van kommunale geweld, oorvol lykhuise, grootskaalse moeder- en kindersterftes as gevolg van verhongering en armoede in die vroeëre tuislande, bladsye met inventarisse van ministeriële vergrype en misbruike – onder meer die onregmatige toe-eiening van grond, van tenders. Sinodale vergrype. Dit alles vermeng met verstommende tegnologiese vooruitgang: vlieënde motors, robotte as bediendes. Faksies op die platteland voortdurend op oorlogsvoet, groepe wat hardnekkig vasklou aan tradisies; voorvaderaanbidding; profete en profesieë. Kommunikasie met die dooies.
Geen uitgewer wou daaraan raak nie. Viktor word gedwing om dit op eie koste te laat druk en versprei. Niek belê ’n stewige bedrag in die projek. En kan hy sommer die bokse gedrukte boeke by Niek stoor ook, asseblief, van waar hy, Viktor, dit dan op bestelling aan mense sal versend.
Toe die verkope na anderhalf jaar steeds nie na wense verloop nie (min mense was lus vir daardie inventaris van verdorwenhede), en die terugvoer minder geesdriftig is as wat Viktor verwag het, maak hy hom uit die voete. Van die een op die ander dag is Viktor skoonveld.
*
Niek se vriend Blinky Booysen was kort, bonkig, altyd natgesweet, skrefiesoë, skrefiesmond, wye neusvleuels. ’n Rotgesig – geslepe, spits en grynslaggend tegelyk. Verregaande werk – skokkend, skandalig. Fantasties. Blinky se ateljee was ook ’n groot solder in ’n industriële gebou, naby ’n treinspoor, in een van die smerige Dickensiaanse geboue naby Niek s’n in die omgewing van Kaapstadstasie. In sy ateljee was alles smerig – jare se aangepakte roet en stof. Daar het hy sy groot doeke geskilder en hulle was die Here weet wonderwerke. Blinky was ’n neo-ekspressionis en ’n aanhanger van Trotski.
Toe Niek terugkom in die Kaap na sy weermagopleiding is Blinky dood, of hy het verdwyn. Niemand kon Niek presies hieroor inlig nie, en hy het nie meer kontak gehad met Marlena Mendelsohn, Blinky se troue metgesel, nie.
*
Blinky het vir Niek sy werkplek gereël. Soos Blinky se ateljee, was dit koud en roetbesmeer, vol voëlkak (duiwe in die oop dakbalke), maar dit was groot. Blinky se metgesel, Marlena Mendelsohn (platoniese metgesel, sover Niek kon aflei), was besig met ’n meestersgraad in sielkunde, of kunsgeskiedenis, of albei tegelyk, hy het nooit presies geweet nie. Omdat Blinky se ateljee naby syne was, het sy soms by Niek in sy ateljee kom sit. Sy was ’n bron van vreemde inligting. In die twintigste eeu, het sy gesê, word monochromatiese werk oorspronklik geassosieer met die verskyning van die radikaal reduktiewe skilderkuns van die Russiese avant-garde. (Niek het in dié fase ’n voorkeur vir tonaliteite van grys gehad.) Sy’t op die enigste stoel (plastiek) in sy ateljee gesit en haar tee gedrink. In die somer het sy kort rokkies gedra en in die winter ’n trui met gate, waarvan die moue te lank was. Sy het hoë voetbrûe gehad, smal voete, en benerige seunsknieë. Die delikate beentjies van haar enkel (die onderste gedeeltes van die tibia en fibula, waar dit heg aan die beentjies van die voet) was perfek geproporsioneer.
Sy het gesê: Moenie net na eietydse kuns kyk nie. Kyk na ouer kuns. Kyk na Matthias Grünewald se Isenheim-altaarstuk. Kyk of daar iets in die eietydse kuns is wat die intensiteit daarvan ewenaar. Die demoon in die Versoeking van die heilige Antonius. Die heilige Antonius self, met sy barstende swere en gruwelike absesse. Die aangetaste demoon wat ly aan die Vuur van die Heilige Antonius in die onderste linkerhoek van die Versoeking. Niek se gebruik van grys het haar interesseer. Sy’t hom gewys op die gryse in Goya en Manet se werk. Sy was blond. Haar oënskynlike verlooptheid was net ’n skans. Haar oë was ’n onbepaalbare grysgroen, dromerig, en altyd gerig op iets nét agter hom. Sy’t hom daarop gewys hoe hy hom inhou in sy werk. Sy’t hom gewys op grys as die kleur van ontkenning en weerstand.
Grys, het Marlena gesê, is inert, dis neutraal. Swart en wit het te veel bagasie. Swart het te veel mistieke assosiasies. Wit het te veel modernistiese assosiasies van suiwerheid en transendensie. Grys is die enigste anonieme, die mins persoonlike kleur. Juan Gris, het sy gesê, het sy naam verander na John Gray, om so anoniem moontlik te wees. Grys stimuleer nie, dit is perseptueel bewegingloos. Giacometti het byna mal geword, het sy gesê, met ’n beker tee in haar hand, haar bene oormekaar gekruis (self iets om van mal te word), en grys was ’n uitweg. Reeds so geteister deur angs het Giacometti byna van sy kop af gegaan toe hy die portret van Isaku Yanaihara geskilder het. Hy het die beeld van sy sitter nie kon vasvang nie, kompulsief die areas herwerk, totdat daar groter en groter ongedefinieerde grys areas in die werk was. Sartre het van die ses variasies van hierdie Yanaihara-portrette gesê dat hulle die eksistensiële stryd uitbeeld tussen being en nothingness. Die kleure het die een na die ander weggeval, het Giacometti gesê, en al wat oorgebly het, was grys, grys, grys. Niks omvou die figuur nie, sê Sartre, niks bevat hom nie, hy is geïsoleer in die immense grensloosheid van die leegte.
Toe Niek terugkom na sy weermagopleiding is Blinky weg – hy het óf selfmoord gepleeg óf sommer net verdwyn. Niemand kon Niek presies hieroor inlig nie, en hy het nie meer kontak met Marlena Mendelsohn gehad nie. Hy het verneem dat sy ’n verhouding met Viktor Schoeman aangeknoop het.
*
Die meisie wat die kamer by hom huur, werk hard. Sy’s geheimsinnig oor waarmee sy besig is. Hy wil nie te veel uitvra nie. Hulle sien mekaar nie dikwels nie. Sy is ’n ideale huurder. Stil, netjies in die kombuis, sy’t haar eie badkamer. Hulle loop mekaar soms laatmiddag in die kombuis raak, wanneer sy vir haarself ’n koppie koffie maak. Al wat hy van haar weet, is dat sy ’n fotografiekursus in die Kaap kom doen het by die Skiereiland Kunsakademie. Hy het nie gevra om na haar portefeulje te kyk nie. Hou sy afstand. Ander dinge op die oomblik op die hart.
Is haar kamer groot genoeg vir haar om in te werk? vra hy.
O ja, sê sy. Sy’t nog nooit soveel ruimte vir haarself gehad nie.