Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 6
Drie
ОглавлениеJOU MINNAAR, en my geliefde vriend. Jy was sprakeloos van verdriet, jou wange koud soos albaster. ’n Maand of so later het ek my goed gepak en weggegaan. Ek moes gebly het, ek moes jou bygestaan het, maar as ek bly, het ek gedink, sal ek ondergaan. Na Jacobus se dood was daar ’n kortsluiting in my kop, ek moes my in ’n ander omgewing bevind, of ondergaan.
Ons ontmoet mekaar eers weer aan die begin van die nuwe jaar in die coffee shop, nadat jy terug is van jóú lang, uitgebreide reis. Die coffee shop het ’n donker interieur. Hoe bly is ek om jou liewe gesig weer te sien. Ek vat jou gesig in my twee hande en ek sê: Dit is so lank dat ons mekaar nie gesien het nie! Ons kyk mekaar lank en innig in die oë. Ons gaan sit by ’n tafeltjie in die hoek. Buite reën dit steeds onophoudelik sedert die vorige dag. Nou is ons oplaas weer albei terug in die dorp, sê ek. Jy het geen planne om weer weg te gaan nie? vra jy. Nee, ek het geen sulke planne nie. En hoe vind jy dit om terug te wees? vra jy. Ek weet nie, sê ek. Jy weet hoe ambivalent ek oor die dorp voel. Ek het so lank ’n weersin in die plek gehad. Ek het dit steeds; soms baie intens. Weersin of vrees? vra jy. Dalk ’n bietjie van albei. Terwyl ek weg was, het ek dikwels gedink ek wil nie weer terugkom nie.
Die kelnerin bring ons koffie. Ons bly albei ’n rukkie stil. Hoe gaan dit met jou? vra ek. Jy antwoord nie dadelik nie, hou jou blik neergeslaan. Skuif ’n suikerkorrel met jou vinger op die tafel voor jou rond. Dinge was nooit weer dieselfde nie, sê jy sag. Alles het subtiel maar onkeerbaar verander. Nie heeltemal ’n drenkeling nie, maar die vaste grond onder jou voete weggekalwe. Sou dit ooit anders kon wees – bring tyd nie verandering nie? vra ek; so sê hulle in elk geval. Miskien, miskien nie, sê jy, hoe sal jy weet? Op die oomblik voel dit nie asof dit ooit weer anders kan wees nie.
Weer bly ons stil, en luister na die reën wat sag maar onophoudelik buite val. En jou reis, vra ek, het dit enige verskil gemaak? Dit het jou tydelik afgelei, sê jy, hoewel jy soms dink dat jy moes gebly het, en jou verdriet in die gesig gekyk het. Dit sou dalk die helingsproses versnel het.
Ek het ’n monografie oor die Olivier-broers begin skryf, sê ek. Jy het al lank beplan om dit te doen, sê jy. Ja, maar dit het my lank geneem om daarmee te begin, sê ek. Daar is min mense in die coffee shop, die interieur is donker, klank word gedemp deur die aanhoudende reën buite. Ek hoop om ’n onderhoud met die broers se vader, met Markus Olivier, te kry, maar dis nie so maklik nie.
Ons sit ’n tyd lank swygend en luister na die reën. Drink ons koffie. Dan kyk jy skielik op en vra, wat staan jou te dóén?
*
Toe ons opstaan, voel ek effens lighoofdig, van vreugde of ontsteltenis of oorstelping, dis nie vir my duidelik nie. Ons neem afskeid. Ek voel nie jonk nie, ek voel nie oud nie. Dit is hoogsomer, in die strate is die blaarlower dig, die skaduwees skerp.
Ek lees ’n boek waarin die ontslape Fernando Pessoa een van sy alter ego’s (en heteronieme), Ricardo Reis, besoek. Reis het pas in ’n apartement ingetrek na sy verblyf van meer as twee maande in die Hotel Bragança, en dis sy eerste nag in sy nuwe blyplek; dis koud, hy’t pas ingeslaap, dan klop iemand. Dis Pessoa. Hy nooi hom binne, hulle gesels ’n rukkie, dan sê Pessoa Reis moet weer gaan lê, hy wil hom nie uit die slaap hou nie. Reis gaan lê, Pessoa trek sy laken sorgsaam soos ’n moeder reg. Reis vra hom om die lig af te skakel. Aanvanklik is die kamer donker, dan word die lig van buite sigbaar deur die skrefies in die luike. Reis maak sy oë toe en prewel: Goeienag, Fernando. Dit voel vir hom asof Pessoa pas na ’n hele tydjie antwoord: Goeienag, Ricardo. Pessoa gaan sit op ’n stoel in die kamer, slaan sy een been oor die ander, plaas sy hande op sy knie. Hy is die toonbeeld van verlatenheid. Reis word wakker in die middel van die nag, die reën het opgehou, die aarde snel voort deur die doodstil ruimte. Pessoa sit nog op dieselfde plek, in presies dieselfde posisie, sy gesig uitdrukkingloos. Reis raak weer aan die slaap. Toe hy die oggend wakker word, is Pessoa nie meer daar nie. Hy moet met die eerste oggendlig vertrek het.
Aanvanklik reën dit deurentyd in die stad, Lissabon. Tydens ’n karnavalviering is daar ’n figuur geklee in ’n stywe swart pak met ’n skelet in wit daarop geverf. Dansende beendere. Soms het ek lus en klee my in só ’n pak. Op die tafeltjie langs my bed staan die skedel van draad en wit kraletjies wat ek vir my in die Oos-Kaap deur Zimbabwiërs laat maak het. Dit waak snags oor my soos Fernando Pessoa oor sy alter ego, Ricardo Reis.