Читать книгу Vlakwater - Ingrid Winterbach - Страница 12
Nege
ОглавлениеTOE CHARELLE MAANDAGMIDDAG nog nie terug is nie, bel Niek haar op haar selfoon. The subscriber you have dialled is not available, is die enigste boodskap wat hy telkens kry. Hy gaan kyk weer in haar kamer. Ruim, byna die grootte van twee vertrekke. Sy het meer as een keer gesê sy’t nog nooit in haar lewe soveel ruimte vir haarself gehad nie. Alles op die groot werktafel (waaroor sy baie bly was) – ordelik gerangskik. Daar is min van haar eie goed in die vertrek, behalwe haar eie gehekelde bedsprei oor die bed. Alles pynlik netjies. Nie ’n frilly, meisieagtige kamer nie. Hy kyk in die hangkas. Al haar klere is nog daar, sover hy kan oordeel. Hy’t hom al so dikwels oor haar klere verwonder – alles lyk vir hom tweedehands – nie modieus tweedehands nie, arm tweedehands. Die verslete boots en tuisgebreide truie. Hy’t al gewonder of hy haar moet neem om te gaan klere koop – maar dit sou seker verregaande en aanmatigend wees van hom. Hy kyk weer in die badkamer. Tandepasta en tandeborsel. Velprodukte (na sy mening nie baie duur nie). In ’n klein make-up-sakkie (sagte materiaal met ’n geborduurde Sjinese draakmotief op, seker by een of ander Sjinese winkel gekoop) – maskara en lip gloss. Twee botteltjies naelpolitoer. (Smal vingers, smal naels.) ’n Naelskêrtjie, naelvyltjie. Tampax in die kassie onder die wasbak. Toiletpapier. Shampoo en conditioner in die stort, ’n stortkeps. Hy kan nie onthou wat sy gewoonlik met haar saamneem soggens nie. Hy herinner hom vaagweg dat sy soms ’n rugsak dra. Dis nie daar nie.
Hy gaan sit op haar bed. Hy onthou skielik dat sy hom vertel het dat sy die meisie in wie se kamer sy gebly het toe sy pas in die Kaap aangekom het, nie baie goed geken het nie. Haar kamer was verskriklik deurmekaar, en verskriklik vol. Sy kon nie glo dat iemand soveel goed het – soveel nuttelose goed nie. Sy’t probeer aan kant maak, maar sy’t nie geweet waar om alles te bêre nie, en dan het dit haar ontmoedig. Sy’t heeltemal vervreem gevoel in daardie vertrek. En sy’t altyd koud gekry daar. Maar sy’t baie gehou van die ander meisie wat in die huis gebly het. Die een wat die dag so gehuil het oor haar ouers se hond.
Dinsdag bel hy weer deur die loop van die dag. Steeds dieselfde boodskap. Hy weet nie waar om die Desirée-vrou in die hande te kry nie, hy weet nie wat haar van is nie.
Woensdagoggend is Charelle nog steeds nie terug nie. Hy gaan teësinnig werk toe. Die studente is terug na hulle drie weke lange Paasvakansie. Goddank het hy nie vandag ’n afspraak met die Karlien-meisie nie. Sy’t aan die einde van die vorige kwartaal begin draal met haar satanisme-projek (doodgebore, begin Niek vermoed). Miskien omdat haar ouers dit afkeur. (Die pa het soos ’n boelie gelyk. ’n Brutale kêrel, wat gewoond is om sy sin te kry.) Hy dink nie hy sou vandag taktvol met haar kon wees nie. Hy gaan vroeg huis toe. Hy bel Marthinus en vra of hy kan oorkom. Daar is iets wat hy dringend met hom moet bespreek. Marthinus wag hom boaan die trap in, beker tee en sigaret in die hand. Kom in, kom in, sê hy. ’n Hartlike kêrel. Niek is dankbaar om hom te sien.
Hy verduidelik vir Marthinus die situasie. Hoe lank is sy al weg? vra Marthinus. Al sedert Saterdagoggend. Dit wil sê vier dae. Moet hy polisie toe gaan? Nee, sê Marthinus, vergeet van die polisie. Hulle stel nie belang nie. Daar’s te veel vermiste persone. Hy’t ’n beter plan. Hy neem Niek na ’n plek waar die mense ’n baie goeie idee het van wat oral in die omgewing en onder in die stad aangaan – oral: onder brûe, in tonnels en waterpype, in elke denkbare uithangplek. Hierdie ouens het hulle hand op die ondergrondse pols van die stad. Ondergronds én bogronds. Hy neem hom sommer vanmiddag nog.
“Waar werk sy, wie is haar vriende?” vra Marthinus toe hulle later die middag eers ’n paar blokke in die rigting van die berg stap, toe regs draai en nog ’n paar blokke verder teen ’n helling op stap.
“Ek weet nie. Sy’t ’n vriendin, Desirée, ’n vrou met ’n tulband.”
“Dis al iets,” sê Marthinus, “daar’s nie baie vroue met tulbande nie.”
“Haar naam is Charelle Koopman,” sê Niek. “Sy studeer by die Skiereiland Kunsakademie. Sy’s baie ernstig oor fotografie. Sy help ’n vriendin twee middae per week by ’n haarsalon. Sy’s stil, sy gaan nie dikwels uit nie. Sy’t nog nooit eintlik vriende by die huis ontvang nie. Ek kook soms vir ons saans.” (Hy voel bietjie kak om dit te moet sê.)
“Waar kom sy vandaan?” vra Marthinus. Van Veldenburg, sê Niek. En hy’s bang dat die mense wat op hom gevloek het, en die kêrel wat haar ’n tyd gelede gedreig het, miskien iets met haar verdwyning te make het.
Wat laat Niek so dink? (Enige intrige, en die man is die ene aandag. Die geval van Viktor Schoeman en die ontsnapte psigiatriese pasiënte ’n pertinente voorbeeld.) ’n Swart kar wat hy een of twee keer na die vloek-episode voor sy huis sien verbyry het, sê hy, en as hy reg onthou, het hulle ook uit ’n swart kar op hom gevloek, hoewel hy dit nie met sekerheid kan sê nie. Sy het wel onlangs gesê dat sy ’n hele tyd al nie meer las gehad het van die man wat haar gedreig het nie. Hy hang blykbaar met slegte geselskap uit – tikkoppe en so.
“Klink nie goed nie,” sê Marthinus. “Daar steek waarskynlik iets in jou vermoedens.”
“Waarheen is ons op pad?” vra Niek.
“Na ’n nedersetting hier bo teen die hang,” sê Marthinus.
“’n Nedersetting?” vra Niek.
“’n Vriend van Alfons het dit begin as ’n depot vir verstotelinge en verskoppelinge. Jy kan maar sê die man was ’n soort volksplanter. Hy het die plek jare lank met ’n baie ongewone styl bestuur. Toe het hy dit onlangs oorgegee aan ’n jonger kêrel – baie idealisties – wat besig is om die hele spul as’t ware te hervorm,” sê Marthinus, en hy lag sy abrupte laggie. “O Here,” sê hy.
“O,” sê Niek, nie baie oortuig van Marthinus se plan nie, maar bly dat hy ten minste iets dóén, nie net onrustig en magteloos rondsit nie.
Aan die einde van die steil bult swenk hulle weer regs. Nog ’n entjie verder op kom hulle by ’n hek. Daar is ’n wag hier. Die hek is op slot. Marthinus ken hom skynbaar, hy praat met hom in Xhosa. Die man laat hulle in. Soos hulle met die pad boontoe stap, verduidelik Marthinus.
Die eerste gebou op regterhand is die kombuis en rekreasie-area. Hier word een keer per dag ’n voedsame maaltyd gekook, geborg deur die Departement van Welsyn. Op linkerhand is daar ’n paar prefab-geboue, hier woon die permanente inwoners. Dis nog vroeg, die meeste mense is seker nog nie terug van die werk nie, sê Marthinus.
Agter die kombuis is die groentetuin. Dit beslaan ’n groot stuk grond, alles is hier in netjiese rye geplant en duidelik goed onderhou. Die mense werk self in die tuin in ruil vir verblyfplek, sê Marthinus. Hy het hier met die nuwe uitleg en aanplanting gehelp – die oorspronklike tuin was so verwaarloos, daar was omtrent niks van oor nie. Nou kweek hulle genoeg groente en vrugte om selfversorgend te wees. Daar word van man, vrou en kind verwag om hier te werk.
Regs van die groentetuin word die diere aangehou: varke, hoenders en twee melkkoeie. Eiers en melk is daar volop, sê Marthinus. Sy varke is die afstammelinge van hierdie varke.
Agter die groentetuin is daar die vrugteboord.
“Vantevore was alles hier baie meer chaoties,” sê Marthinus. “Minder gereglementeer. Die stigter het vroeër min of meer enigiemand in nood hier ingeneem – hoewel meesal weeskinders en haweloses. Hy het die aanvanklike groentetuin aangelê en die bome geplant. Dit was ’n bewonderenswaardige projek maar dit het later begin handuit ruk. Die higiëne het veel te wense oorgelaat. Die kombuis was skynbaar so vuil, die gesondheidsdepartement was bang die pes kan hier uitbreek. Die inwoners het onder mekaar begin baklei. Die honde het aangeteel. Die varke het los in die omgewing rondgeloop. Niemand het meer na die tuine omgesien nie. Die weeskinders het rondloperbendes gevorm. Hulle het op voorstedelike sypaadjies gekak. Die Departement van Welsyn het van alle kante klagtes ontvang.”
Heel bo teen die bult draai die pad na regs. (Niek sukkel teen die bult uit, hy’s onfiks, hy’t lanklaas enige oefening gedoen.) Dit was die afgelope dae oordag weer behoorlik warm. Voor hulle is daar vyf bunkeragtige geboue.
“Wapenopslagplekke tydens die Britse militêre bewind aan die Kaap,” sê Marthinus. “Die man was ’n kunstenaar. ’n Kunstenaar en volksplanter! Hy het die bunkers as installasieruimtes gebruik. Dít was nou waaragtig iets om te sien,” sê hy, skud sy kop, fluit saggies deur sy tande. “O Here. Dit was grensverskuiwend, dit was way-out. Vyf verskillende ruimtes en elk met ’n ander tema. Maar dónker, hoor. ’n Genadelose aanval op gevestigde Afrikaner- kulturele waardes.”
“Wat het van hom geword?” vra Niek.
“Ek is nie seker nie. Kyk, daardie man was ’n pionier, en rusteloos. Hy’t verveeld geraak met die projek. Hy was moeg vir baklei met die Departement. Met die hele omgewing. Hy’t al wat departement en instansie en bourgeois belangegroep is voortdurend op sy nek gehad. Die logistiek het te veel van sy tyd en energie gevra. Die diere en die mense het hom begin irriteer. Hy was seer sekerlik humanitêr en filantropies, maar hy’t ook goed na sy eie belange kon omsien. Hy’t dalk begin voel hy raak deur al die aansprake in ’n hoek gedruk. Hy’s hier weg. Van die een dag op die ander. Die hele projek net so aan iemand anders oorgegee. Wie weet – hy’t dalk iewers anders iets gaan stig. ’n Man met visie. ’n Nuwe uitdaging nodig gehad. ’n Komplekse kêrel, so te sien, al het ek hom nie baie goed geken nie.”
Niek luister met ’n halwe oor; ongerus oor waarheen Marthinus met hom op pad is.
“Die man wat by hom oorgeneem het,” sê Marthinus, “het ’n heeltemal ander aanslag. Goeie organiseerder, ordelike kop. Miskien té ordelik, maar goed. ’n Soort hervormer – een van jou missionaris-tipes. Ek vermoed hy beplan hier ’n soort utopie – sy idee van ’n ideale samelewing. Maar dis een ding om so iets te beplan, en ’n ander om dit te laat werk. O Here, jy sal sien. Die man weet nog nie waarteen hy te staan gekom het nie. Hier is magte aan die woel wat hulle nie sal laat stuit deur enige utopiese planne nie. Miskien kom ons die man nog teë. ’n Soort Albert Schweitzer-inkarnasie.” En hy lag plesierig.
Niek is nie meer heeltemal seker wat dit alles met Charelle se verdwyning te make het nie.
“Kom,” sê Marthinus. “Ek wys jou binne die sale.” Uit die rigting van een van hulle is ’n koortjie van kinderstemme hoorbaar. Wat hulle sing, klink na iets tussen “Hansie Slim” en “Shosholoza”.
“Daar word nou na die voorskoolse kinders omgesien terwyl hulle ouers werk,” sê hy. “Vroeër het hulle soos straathonde hier op die werf en in die buurt rondgehardloop. Nou begin hulle die dag met ’n gebalanseerde ontbyt.”
Niek is moeg en ongeduldig. Hy wil die sale nie van binne of van buite sien nie. Hy wil nou met wie ook al inligting oor Charelle kan gee, in aanraking kom.
“Die nuwe man,” sê Marthinus, “het van ’n allemintige hoeveelheid rommel ontslae geraak. Het jy lus om hom te ontmoet? Hy’s dalk iewers in die omgewing. Anders kan ons iets reël. Soos ek sê, hy’s ook ’n vriend van Alfons. Ons nooi hom vir ’n bier. Hoewel hy miskien nie eers bier drink nie!” En hy lag. Wat is die man tog vol onblusbare geesdrif en binnepret. Gotweet. Die laaste ding op aarde wat Niek nou wil doen, is om hierdie hervormer te ontmoet – nie nou nie en nie in die afsienbare toekoms nie – wat ook al die omvang of aard van sy utopiese droom of projek.
“Kan ons aanbeweeg,” sê hy. “’n Ander keer dalk.”
“Vir seker, vir seker,” sê Marthinus. “Ons maak ’n keer ’n afspraak met die man dat hy ons persoonlik kan rondlei.”
“Goeie idee,” sê Niek.
“Kom,” sê Marthinus. En hy begin met ’n klein voetpaadjie links verby die bunkers op stap, totdat hulle by ’n stewige draadheining ’n hele entjie verder op kom. Hulle is nou reeds teen een van die hellings op. Hy fluit. Roep iets in Xhosa. ’n Man kom agter een van die lae hange te voorskyn en kom hulle tegemoet. Hulle loop ’n entjie met die heining langs, tot by ’n opening in die draad, kunstig verbloem met takke, wat die man opsy skuif sodat hulle kan deurklim.
“Kom jy dikwels hier?” vra Niek.
“Ja,” sê Marthinus. “Ek het ’n tyd gelede iemand hier in die oog gehad.”
“Okay,” sê Niek.
“’n Vrou uit die Demokratiese Republiek van die Kongo. Verskriklike ontberinge gely om tot hier te kom. Te voet deur oorloggeteisterde streke.”
“Waar is sy nou?” vra Niek.
“Sy’s Johannesburg toe om as prokureursklerk opgelei te word. Sy’t haar studies moes onderbreek toe sy hierheen gevlug het. Sy’t haar opsies goed oorweeg. Sy’s ’n beginselvaste vrou met ’n goeie oordeel.”
“Ek sien,” sê Niek.
Hulle het intussen ’n stywe ent teen die hang opgestap, en toe hulle halfpad bo kom, kyk hulle af op wat verdag baie na ’n klein informele nedersetting lyk, in ’n kom tussen twee hange, nie sigbaar van verder ondertoe nie. ’n Laer van skuilings. Verskillende materiale is gebruik om hierdie tentagtige skuilings aanmekaar te flans – dik plate karton, planke, veselbord, seil, hoewel hoofsaaklik plastiek en takke, wat die mense waarskynlik oral in die omgewing versamel het. Verder op, teen die hang, lyk dit selfs asof daar skuilings uitgegraaf is, die ingange daarvan met plastieksakke bedek. Versigtige rokies. ’n Stemmige sfeer heers hier.
“Dis hiérdie mense, begryp jy,” sê Marthinus, “wat met hulle oor teen die grond leef. Hulle weet álles wat onder in die stad aangaan. Hulle het kontak met mense wat soos rotte in sementtonnels onder die stad leef. In waterpype onder paaie en brûe. Dié plek word by die dag groter. Maar die mense is versigtig. Hulle hou ’n lae profiel. Sommige kom net snags uit. Superwaaksaam. As hulle gevang word, word hulle gedeporteer. Terug na eertydse tuislande en interneringskampe.” Hy lag. “O Here,” sê hy. “Maar wie gaan hulle teëhou?!”
“I get the picture,” sê Niek.
Hulle stap in die rigting van ’n nogal stewige sinkstruktuurtjie. Buite, op ’n ou motorsitplek, sit twee mans in die son.
“Niek, ontmoet menere Tarquin Molteno en Junius X,” sê hy.
Niek wil nog vorentoe staan om hand te skud, maar bedink hom. Tarquin maak sy tande met ’n stokkie skoon. Sy voorarms is getatoeëer, hy dra ’n dik goue ketting om sy nek en ’n seëlring aan sy pinkie. Sy hare is kort en staan regop gejel. Klein mondjie. Klein kennetjie diep in die nekvoue ingetrek. Vlesige kieue. Netjiese paar jeans. Donker bril. Fancy sneakers. Cool customers, dink Niek. Dalk druglords. Fokweet.
Tarquin beduie in die rigting van twee plastiektuinstoele. Marthinus sleep hulle nader. Hy en Niek gaan sit. ’n Oudiënsie, dink Niek. Hy ruik homself, hy sweet soos ’n vark, van die stap en die spanning. Hy hoop nie die twee kan hom ruik nie. Dit maak dalk ’n slegte indruk. Marthinus, daarenteen, lyk hoegenaamd nie gefaze nie. Hy steek ’n sigaret aan, blaas tydsaam die rook uit, bewonder die uitsig, wat inderdaad nogal iets besonders is op hierdie hoogte. Voor hulle lê die ganse Tafelbaai uitgestrek. Onder ander omstandighede sou mens die asemrowende uitsig kon bewonder.
’n Kort rukkie sit hulle in gemeensame stilte. Dit prik ongemaklik onder Niek se armholtes. Nie sy idee van ’n middag se entertainment nie. Saam met die mafia in die heerlike oopte. Geséllig. Hy haal diep asem, probeer die uitsig sonder sukses geniet, en hoop vir die fokken beste.
Tarquin roep oor sy skouer en ’n meisie kom uit. Sy lyk nie veel ouer as vyftien nie. Stywe jeans en groot oorbelle. Tarquin beduie iets met sy kop. Sy gaan weer binnetoe en kom kort daarna uit met ’n skinkbord, ’n bottel en vier glase daarop. Skínk, beduie Tarquin. Johnnie Walker Blue Label. Niek wil nog beduie dat dit te vroeg in die dag vir whisky is, maar hy vang Marthinus se oog en iets in sy blik sê vir hom jy weier nie hierdie drankie nie. Die meisie skink flink. Tarquin en Junius X slaan hulle s’n in feitlik een asem weg. Niek is bang as hý dit probeer, gooi hy op. Nie ’n goeie begin vir enige onderhandelings nie.
“Wat’s julle problem?” vra Tarquin.
Marthinus sê: “My vriend Niek se huurder is nou al vyf dae lank vermis. Ons wil weet of julle van enige vermiste of ontvoerde meisies in die omgewing weet.”
“Daa’s baie van hulle,” sê Tarquin. “Wat maak dié een soe special?”
Hulle almal kyk na Niek, wat met die halwe glasie whisky in sy hand sit, en die son wat op sy kop blaker, en ’n fokken blank so groot soos ’n huis wat hom skielik gestrike het.
“Sy’s ’n epileptic,” sê hy.
“So?” sê Tarquin, “daa’s baie van daais ok. Epileptics en worse.”
“Sy huur ’n kamer by my en ek voel verantwoordelik vir haar veiligheid,” sê Niek. (Hy voel skielik soos ’n groot wit bourgeois kont. Beláglik.)
“Wat is haar naam?” vra Tarquin. “Anything om haar by te identify?”
Wat het sy tog laas aangehad? Wat sal hy sê: sagte vel, smal bruin polse? Hulle lag hulle gatte af vir hom.
Hy maak keelskoon: “Haar naam is Charelle Koopman,” sê hy, “sy’s ’n student by die kunsskool in die stad,” en hy beduie in ’n onbepaalde rigting met sy kop. “Sy neem foto’s. Sy’s kleinerig met …” hy beduie met sy hande, “donker hare, krullerig.” (Doos, dink hy, kon hy nie dínk nie – watter coloured meisie gaan steil blonde hare hê?)
Tarquin se gesig is uitdrukkingloos agter die donker bril. Oor sy skouer roep hy weer na die meisie. “Djý!” beveel hy. “Ga roep djy vi Blackie.” Weg is sy, rats soos ’n ribbok tussen die skuilings deur.
Tarquin kyk op sy selfoon. Hulle sit. Niek drink sy whisky klaar. Got, die goed brand sy maag en het alreeds na sy kop gegaan. Tussen die tente kom die meisie kort daarna met iemand aangestap. ’n Albino met spierwit dreadlocks.
Tarquin kyk skaars op van sy selfoon. “Any casualties die naweek,” sê hy, “rapes en mutilations en abductions en so?”
“Daa’s ’n meisie gerape onne in Strandstraat – ees mettie hanne en toe mettie draadhenge verwurg en op ’n rubbish heap gegooi,” sê die man, die albino met dreadlocks. “Daa’s ’n meisie se decomposed body innie Liesbeek gekry daa warrie pad soe ’n bend maak nabyrie highway. By Bellville-stasie is ’n meisie gerape en besteel en vi dood agte’gelos. ’n Student van die university is voo’gelê en gerob en gerape en geskop. Twie kinders is geabduct byrie flatse in Clarke Estate. Die polieste het nog niks gekry nie. ’n Man het sy girlfriend doodgeskiet in Riverlea. ’n Meisie is gegangrape in Bishop Lavis. Twie kinnes is vermo in Lansdowne. Twie hoë’skoolmeisies word vermis in Khayelitsha, die polieste dink dissie sataniste wat hie’agte sit. Een kind is in Delft South gerape en aan die brand gesteek en ’n anne kind is gerape toe sy die communal toilets naby ha huis gebryk’et. ’n Kind is doodgeskiet toe hy innie crossfire van twie gangs beland’et. Drie anne klonge van die een gang is deurie anne gang doodgeskiet en een kar is by Bishops annie brand gestiek en twie hyse by Delft South toe vannie membe’s vannie gang daar geskuil’et.”
Niek wil niks meer hoor nie. Die fokken son, die fokken whisky, en nou nog hierdie gruwelike fokken lys. Marthinus kyk hom simpatiek aan. ’n Antwoord word seker van hom verwag. Hy weet nie, sê hy, hy kan nie sê nie.
Oudiënsie verby. Tarquin en genote sal ’n oog oophou. Af is Niek en Marthinus weer. Af met die steil helling. Deur die nedersetting of hoe dit ook al heet. Utopiese proefplaas. Terug na die koelte van Marthinus se huis.
“Kom kyk môreaand ’n paar dvd’s by ons,” nooi Marthinus hom. “Dit sal jou aandag aflei.”
Niek wil nie. Hy wil nie sy aandag afgelei hê nie.