Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 10

Оглавление

6

IEMAND HET VERGEET OM DIE LUGVERSORGER IN die konferensiesaal aan te skakel, of dalk spaar die hotel geld nes Hardings. Die bedompigheid in die lang, nou vertrek is so versmorend dat my oë wil toeval. Ek gaap vir die soveelste keer vandat ek ’n uur gelede kom sit het.

“Stop dit,” raas die man langs my.

Tom – Tomboy, Tom Pom – Masterson doen vryskutwerk vir ’n paar koerante, The Guardian inkluis. Hy’s ook die een wat op elke Kerspartytjie gevra word om “Pussycat” te sing – oor sy naam en die borshare wat verby die boonste knoop van sy hemp peul. En omdat hy kán sing. Dis in elk geval wat ek hoor. As ek Kersfees nog hier is, sal ek seker uitvind of dit waar is.

Hy vryf oor sy blonde stoppelbaard, sy amper kaal kop en dan sy rooigebrande nek. Sy ooglede knip vinnig. Stop. Knip weer. Dis ’n irriterende gewoonte wat maak dat ek sukkel om hom in die oë te kyk.

Hy gaap lank. “Jy’t my aangesteek.” Kyk op sy nagemaakte Rolex. “Hoe lank wag ons al?”

“Drie-en-veertig minute,” bereken ek. “En dit vir die minister van gesondheid om ’n brouery te kom open, want die president is in China. Is dit net vir my ironies?”

Regs van ons maal ’n klompie joernaliste rond. Die meeste van hulle is van die plaaslike media. Ek is hier omdat daar vandag letterlik niks beters te doen is nie. Niks groter en beter nie. Joernalistiek verstaan – bo alles – die waarde van die vergrotende trap.

“Hoe lank gaan ons die man nog gee?” Tom krap sy kop met ’n opgekoude pen. Sy droë kopvel klink soos skuurpapier. “Ek vrek vir ’n bier. Wat van jou?”

Ek kyk na die groep gaste, meestal fabriekswerkers in oorpakke en geel T-hemde, wat voor die kaste drank in die hoek rondmaal. Kort-kort keer twee groot mans in swart pakke dat iemand ’n bier steel. Die drank is vir later, anders gaan niemand die moeite doen om na die vervelige toesprake te luister nie.

“Ek dink jy gaan nog lank wag, Tom.”

Ek ruik haar voor ek haar sien. Die effense geur van suurlemoen en wat ek vermoed Kubaanse sigare is, dieselfde reuk as gisteraand, laat die hare in my nek orent staan. Haar lang blou romp gons met statiese elektrisiteit soos sy met lui treë naderloop.

Uiteindelik stop Ranna se swart Doc Martens voor ons.

“Julle klink soos twee ou mans,” terg sy. “Ek kan nie glo julle het gedink hulle gaan betyds begin nie.”

Ek waai hallo. “Ek was optimisties, ja. Hoe laat het jy opgestaan?”

Sy glimlag, haar oë blink. Daar is geen teken van gisteraand se gekuier in haar lyf nie. “’n Uur gelede. Jy sal gou leer.”

Tom swaai sy pen in haar rigting. “Dis in elk geval nie asof jy ooit slaap nie.”

“Los my slaapgewoontes uit.”

Sy kom sit langs my. Leun agter my verby en vryf oor die Engelsman se yl hare. “Jy raak lui. Toe jy hier aangekom het, het jy jou kop elke week geskeer.”

Hy draai onder haar hand uit. “En voor jy hier aangekom het, was jy amper verloof. En kyk wat het met jou gebeur.”

“Verloof?” Die woord ontsnap voor ek dit kan keer.

Ranna se mond word ’n dun lyn. “Dit was lank gelede. En dis niemand se besigheid nie.”

Tom lag en draai na my. “Ek het vergeet: Ranna praat nooit uit haar slaapkamer nie. En jy kan net raai hoe besig is dit daar binne.”

“Het jy dalk met die verkeerde voet uit jou leë bed opgestaan?” Haar woorde is lig, maar haar stem is ys.

Tom ruk sy skouers verontwaardig terug, maar voor hy kan antwoord, swaai die swaar houtdeure voor ons oop. ’n Man in ’n grys pak loop in en beduie ons moet stilbly. Meteens kry die lugversorger ook lewe.

Die minister en sy gevolg neem hulle plekke in. Hy praat ’n halfuur lank, maar ek sukkel om te konsentreer.

Amper verloof.

Wat het ek verwag? ’n Vrou soos Ranna sal ’n geskiedenis hê. En wie sê sy het nie reeds iemand in haar lewe nie? Ek het nog geen moeite gedoen om uit te vind nie. Toegegee, dalk wil ek nie die antwoord weet nie.

Gisternag het sy my by haar voordeur op die wang gesoen om dankie te sê dat ek saam met haar geloop het. Daar was geen sprake van koffie nie. Dit sê seker iets.

Skoenlapper

Подняться наверх