Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 12
Оглавление8
DIT REËN STEEDS VANOGGEND. DIT VAL SELFS harder as gisteraand – hard genoeg om my wakker te maak. Meer nog, dit herinner my aan dinge wat ek lankal wou vergeet.
Ek was ses. Ek het een oggend wakker geword en ons huis in die vlakte duskant Vanrhynsdorp was omring met water. Vir ’n kind gewoond aan die dorre uitgestrektheid en ’n pa wat jou neuk met sy belt as jy dit durf waag het om jou ma se rose nat te gooi soos sy gevra het, was dit vreemd om soveel water op een plek te sien.
Op daardie ouderdom was ek nog nie by die see nie, al was dit nie ver weg nie. Maar as ek my die uitgestrekte blou water moes verbeel, sou dit gelyk het soos daardie oggend op die plaas. Water orals. In die eens droë, gedweë blombeddings. In die tweespoorpad wat na die skaapkrale loop. Voor die agterdeur waar ek altyd gewag het dat my pa klaar baklei voor ek insluip en my aandete warm maak, moeg ná die landloop.
Daardie wolkbreuk sou die groot vloed van ons deel van Namakwaland word. Amper soos die een wat Laingsburg ingesluk het. Anders as ons bure het ons nie alles verloor nie, maar genoeg vir my pa om nog bitterder te word en my ma selfs stiller. Genoeg vir haar om met toenemend sagter, versigtiger treë deur die huis te sluip.
Ek het gedink dis die sagste wat enige mens kan loop, maar ek was verkeerd. Haar treë het selfs stiller geword die dag toe ek vir my pa gesê het ek gaan nie op die plaas bly om te boer nie. Ek gaan Stellenbosch toe om joernalistiek te swot.
En tog was dit daardie dag ook anders. Al was haar voete stil, was haar kop bly. Haar kop het gesing. Sy het niks gesê nie, maar ek kon dit sien. Ek sou wegkom. Ek sou ontsnap.
Ek skud my kop asof ek die herinneringe kan uitvee. Ek moenie so in die bed lê en dink aan goed wat lankal verby is nie. Dit sal baie meer produktief wees om uit te vind wat gisteraand gebeur het. Ten minste kan ek dalk iets dááraan doen.
Miskien moet ek Ranna bel en vra wat fout is. Wie sou haar seergemaak het? En hoekom wou sy niks daaraan doen nie? Niks doen voel nie soos die lenige fotograaf nie. Ek het haar nog nooit sien stilsit nie.
Ek onthou skielik ek is veronderstel om vir haar kwaad te wees. Maar ís ek kwaad vir haar? Nee, ek is veel eerder ontsteld omdat sy my nie wou vertel wat aangaan nie. Dat ek so min vir haar beteken. Dat daar dalk iemand anders in haar lewe is.
Fok tog.
Ek bel haar. Die selfoon lui sewe keer voor ’n elektroniese stem sê ek moet ’n boodskap los. Ek druk die foon dood en sit dit neer. Tel dit op. Bel weer. En weer.
’n Vierde keer en steeds antwoord sy nie. Dis halfsewe. Oor ’n paar uur gaan iemand in die kabinet ’n aankondiging oor die begroting maak. Gaan Ranna daar wees? Moet ek wag om te sien of sy opdaag, of moet ek haar gaan opklop? Kyk of sy okay is?
Soos altyd roep die chaos die hardste.
Ek klop aan Ranna se deur, eers versigtig en toe al harder. Maar niks of niemand roer binne die woonstel nie. Al wat ek hoor, is die eentonige reëlmaat van die reën op my baadjie, die druising daarvan oorverdowend binne die swart plastiekhoed.
Die modderige water in die blombedding onder die blougeverfde vensterraam lê enkeldiep. Ek mik vir die vlakste kol en gaan staan daarin. Ek vee die ruit skoon en maak bakhand teen die harde, aanhoudende reën, maar sien niks beweeg nie. Al wat ek kan uitmaak, is die vae buitelyne van ’n bank. ’n Kombuistoonbank. Boeke. Niks meer nie.
Wat doen ek nou? Wat is Plan B?
Hadhi.
Ek loop na die voordeur van die lang, maer huis – opgedeel in woonstelle – wat Ranna met drie ander mense deel. Klop. Die deur gaan amper dadelik oop.
“Hallo, Hadhi.” Ek vee die jas se hoed terug tot in my nek en skuif nader aan die deur om uit die reën te kom.
Sy tree terug, maar sê niks nie. Sy staar na my asof sy my probeer onthou. Uiteindelik eien sy my met ’n krom voorvinger.
“Jy’s Miss America se vriend. Alex? Jou foto’s is pragtig. David het die een van ons almal op die dansvloer geraam.”
Ek knik en onthou om te glimlag. As ’n vreemde man vroeg in die oggend aan ’n vrou se deur klop, moet hy vriendelik wees.
Sy kyk op haar horlosie, asof sy skielik onthou dis nog nie eers agtuur nie. “Soek jy vir Ranna?” Sy plant haar hande op haar heupe, gereed om met my te baklei omdat ek die fotograaf so vroeg in die dag wil pla.
My handpalms skiet boontoe in ’n vredesgebaar. “Ek’s bly julle hou van die foto’s. Ek . . . slaap Ranna nog?”
“Ek sal nie weet nie. Dis nog baie vroeg.”
“Het jy haar nog nie gesien nie?”
“Nee. Hoekom gaan klop jy nie self en vind uit nie?”
“Ek het probeer, maar niemand maak oop nie.”
“Dan is sy seker nie hier nie.” Hadhi klink geïrriteerd. “Of sy wil nie vir jou oopmaak nie.”
“Ek sal graag wil seker maak,” verduidelik ek versigtig. “Ek moet dringend met haar praat.”
Hadhi frons. “Ek dink nie sy het gisteraand huis toe gekom nie, maar ek kan verkeerd wees. Ek weet nie altyd hoe laat almal inkom en uitgaan nie. En sy slaap mos nie eintlik nie.”
Die kwaai frons maak plek vir bekommernis. “Dis nie gesond vir iemand om so rusteloos te wees nie. Veral ’n meisiekind. So sonder wortels en gesin.”
Ek wens ek kon haar van gisteraand vertel. Van die bloed en van Ranna se arm. Van haar vasgekeerde, hardkoppige oë. Dalk weet Hadhi iets wat my kan help.
Maar ek bly stil. Netnou jaag ek almal op hol oor niks.
Hadhi skuif haar bruin-en-wit rok reg waar dit oor haar vol heupe bondel. “Daar’s altyd iets in haar oë wat bietjie donker is. Iets ongelukkig. Asof sy te veel onthou. Slegte goed onthou.”
“Wanneer laas was sy hier?”
Hadhi skud haar kop. “Ek het haar lanklaas gesien. Dag voor gister.”
“En nie weer daarna nie?”
“Nee. Soos ek sê, ek’s nie altyd hier om te weet nie. Ek loop so agtuur se kant. Ek bly langsaan.” Sy beduie na die wit gebou links van my. Daar is geen muur tussen die twee huise nie.
“Maar ek hét ’n tyd gelede ’n man by haar deur sien uitsluip,” gee sy toe. “’n Bleek man met ’n groot bruin hoed. Seker so twee, drie weke terug.”
Ek wil jaloers raak, maar besef dit sal irrasioneel wees. Daar is niks tussen my en Ranna nie. Daar is net hierdie ding, ’n gevoel. Die manier hoe sy vir my kyk. Hoe ek voel wanneer sy dit doen.
Ek skud my kop vererg en staar na my voete in die bruin, modderige Merrells, nuut toe ek weg is uit Johannesburg. So dis hoe tienerseuns nou weer voel. Ek het al vergeet.
Toe ek opkyk, sien ek die geamuseerde trek om Hadhi se mond. “Sy’t jou ook gekry,” sê sy droog.
“Wat bedoel jy?” jok ek.
“Julle lyk almal dieselfde wanneer julle hiernatoe kom. Eers is julle bly. Dan word julle kwaad. En dan teleurgesteld. Jy’t nie eens by bly uitgekom nie.”
“Almal?” Ek klink kwater as wat ek bedoel het.
Hadhi gee ’n tree terug, haar hande weer op haar heupe. Sy knip haar oë ’n paar keer, skielik meer waaksaam.
“Ek sal vir Ranna sê jy was hier,” sê sy voor sy omdraai, haar rug beslis en regop.
“Kan ek nie vir haar ’n boodskap los nie? Iewers waar sy dit sal kry?” roep ek vinnig voor sy die deur kan toemaak. Ek skuif vorentoe, tot die meeste van my nommerelfs op haar wit teëls staan.
“Ek’s bekommerd, Hadhi. Dis al, ek belowe. Nes jy. Ek het Ranna gisteraand vinnig gesien. Ek dink sy het seergekry. Sy het gebloei.”
Dalk ís dit tyd om almal op hol te jaag.
Sy betrag my vir ’n oomblik, skud dan haar kop. “Soos ek gesê het, almal hier maak soos hulle wil. Ranna kom en gaan sonder dat een van ons weet wat aangaan. Sy kuier met niemand nie. Stoot ’n brief onderdeur haar deur.”
“Ek sal so maak.” Ek tree terug, tot in die reën. “Dankie, Hadhi.”
Sy knik, maar haar hand bly op die deurknop, haar oë troebel. Dis asof sy my opweeg. Asof sy besluit hoeveel ek regtig vir Ranna omgee.
“Bloed, sê jy?”
“Ja.”
“Baie?”
“Haar arm. Genoeg.”
“Miskien moet jy gaan seker maak sy’s nie daar nie. Miskien het sy vergeet om haar deur te sluit.”
Ons bly al twee vir ’n oomblik stil, dan waai Hadhi stram totsiens.
“Dankie,” sê ek voor sy die deur agter haar toetrek.
Ek ken Ranna nog net twee weke, maar ek weet sy sal haar deur sluit. Sy is nie ’n dom vrou nie. So, as ek reg is, loop Hadhi nou om die huis om vir my die deur te gaan oopsluit.
Ek weet ook met sekerheid dat ek hierdie ding moet los. As Ranna uitvind ek het by haar huis ingebreek, is alles verby nog voor dit begin het.
Maar ek weet nog iets. Ek weet dat as ’n mens lank genoeg stories jaag – chaos jaag – dan weet jy soms net dinge. En ek weet iets is fout.