Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 6

Оглавление

2

EERS LATER DIE AAND VIND EK UIT HOE EK EN RANNA by dieselfde troue beland het. En dat ons Afrikaans met mekaar kan praat, al verdof haar g’s en r’e soms omdat sy al so lank uit Suid-Afrika weg is. Dís wat so bekend geklink het aan haar aksent.

Ranna se vriendin, Hadhi, is die bruidegom se ma. Haar seun – haar oudste – trou met ’n dokter wat in Dar es Salaam praktiseer. Hadhi, al diep in haar vyftigs, besit die huis waar Ranna ’n kamer huur. Sy noem Ranna Miss America omdat haar Suid-Afrikaanse ma en Israeliese pa vyftien jaar gelede New York toe getrek het. Agter die liggies aan. En natuurlik die geld, het Ranna gespot toe ek vra.

Ek is na die troue genooi omdat ek ’n artikel geskryf het oor Hadhi se aanstaande skoondogter en die vigskliniek wat sy vir sekswerkers begin het. Dit was my eerste artikel in Tanzanië en dit het op bladsy 28 van The New York Times verskyn. Ek was so trots daarop, dit was asof dit my heel eerste artikel was. Uiteindelik het my naam ook in die bybel van joernalistiek verskyn.

Ek besef ek het nog nie baie hard gewerk vandat ek hier aangekom het nie, maar ek wonder hoekom ek Ranna nou eers raakloop. Uiteindelik besluit ek dis ’n goeie ding dat ek haar eers vandag ontmoet het – by ’n troue.

Soos die aand vorder, drink ek te veel en eet te min. Ek kuier by almal, maar dis asof ek heeltyd na die lang vrou se rustelose figuur soek. Ná die ete en drie lang toesprake kyk ek hoe sy en Hadhi dans, Ranna se hande op die veel korter vrou se skouers. Hulle kyk kort-kort na die bruidspaar en lag.

Ranna het vertel hoe bly Hadhi is dat David uiteindelik getrou het. Nie sy óf David se broers het ooit gedink hy sal die moed hê om die jawoord te vra nie. Spoed was nog nooit vir David belangrik nie. Hadhi moes hard werk om haar oudste deur universiteit te kry en nou, amper nege jaar later, het hy sy meestersgraad in ekonomie behaal.

Ranna se stewels trap versigtig om Hadhi se fyn swart skoene. Om en om in die bruin stof. Skielik kyk sy op, haar oë selfs blouer as wat ek onthou.

“Neem ’n foto!” roep sy, asof sy weet my oë kan haar nie los nie.

Sy dans nog drie tree en draai om. Sy sit haar arm om Hadhi se skouers en trek die ouer vrou teen haar aan.

Tik, sê die Nikon wat ek vir haar oppas. Tik-tik.

“Nog een, nog een!” roep ’n stem.

Dis Hadhi se jongste. Die tenger seun in David se ou pak sukkel nog heelaand om die te lang moue uit sy kos te hou. Die vier seuns trek almal na mekaar: lank en lenig.

Hy hardloop na Hadhi en Ranna. Ek neem nog ’n foto. En nog een soos meer mense om hulle saamdrom.

Later sou ek die laaste, blyste foto op my lessenaar staan maak. En meer nog. How to survive being a correspondent in Africa, sou ek veel later aan goedgelowige joernalistiekstudente die amper uitgestorwe spesie probeer verduidelik.

Fall in love, het ek geskryf. With the country. With the people. Maybe even with someone extraordinary.

Never expect it to be like home.

Home will never be the same again.

Skoenlapper

Подняться наверх