Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 21
Оглавление17
“JY MOET EERSTE INGAAN.”
“Wat?”
Ek skud my kop, maar nie vir haar woorde nie. Ranna is heeltemal te kalm – amper klinies – vir iemand wat in ’n polisiekantoor sit. Sy lyk amper gewoond hieraan.
Meer nog: dis ’n ander vrou wat nou hier langs my sit. Die emosionele vrou van die rotse is weg. Ek wou nog troos toe sy teruggekom het strand toe, kamera oor die skouer, maar haar lyf was skielik hard en rigied. Soos lover’s rigor mortis.
Ek vryf my klam handpalms teen mekaar. Anders as Ranna sukkel ek om rustig te raak. Hierdie is nie die kant van die storie waarvan ek hou nie. Gewoonlik skryf ek die nuus. Ek maak dit beslis nie.
“Sal jy vir my cover?” praat sy weer. “Net vir ’n paar minute.”
“Waarheen gaan jy?”
Sy hou die Nikon omhoog. “Ek gaan die foto’s deurstuur.” Sy wys na die drie polisiemanne wat staan en koffie drink. “Een van daai konstabels is goeie vriende met die ou van die Daily News. Hy gaan vir Patrick aftip.”
“En waarheen sou jy so skielik verdwyn het?”
“Griep. Asma. Jy kan seker aan iets dink.”
“Ek gaan nie vir die polisie lieg nie.”
“Dis dieselfde as lieg vir ander mense.”
“Klink soos iets wat jy gereeld doen.”
“Vir die polisie of ander mense?”
“Ha-ha, baie snaaks. Beide.”
Sy haal haar motorsleutels uit haar sak. “Is alles altyd so swart en wit vir jou?”
“Daar is min tussenin. En wat daar is, is mensgemaak.”
“Dis waar jy verkeerd is, Alex. Daar is ’n heelal tussenin. ’n Fokken afgrond. Eendag gaan iemand jou ook daar afstoot.”
“Ek sal weier om te spring.”
“Good luck.” Sy gooi die kamerasak oor haar skouer. Haar hande word vuiste, soos altyd wanneer sy kwaad is. Of bang. “Ek is seker jy het al ’n paar keer feite in ’n storie verdraai. Bietjie meer sensasie. Bietjie meer drama. Dis dieselfde as lieg.”
“Foto’s kan net so goed lieg,” kap ek terug. “Wat van die goed wat jy net buite die raam los?”
Sy weet onmiddellik waarvan ek praat. Haar rug trek reguit en haar oë versluier asof ek die vyand is. “Dis nie altyd nodig om sulke detail in te los nie.”
“Hoekom nie? Sal mense nie wil weet as iets, of iemand, van sy vingers afgesny het nie?”
“Dit kon die visse gewees het. Haaie. Enige iets. Die see is groot en diep. Buitendien, ek het een of twee geneem waar dit duidelik wys.”
Sy kan sê wat sy wil, maar ek weet dis nie die waarheid nie. Ek het deur al die foto’s op haar kamera gekyk terwyl ons hier sit en wag het, en dis asof sy heeltyd om die vingers gestuur het. Asof sy dit nie wou wys nie.
“Niemand sal in elk geval sulke bloederige foto’s plaas nie,” hou sy aan. “Jy weet dit net so goed soos ek.”
Ek gee oor. “Gaan stuur jou foto’s. Ek sal my deel van die storie vertel en daarna my eie storie gaan file.”
“Dankie.”
Sy begin wegloop, maar draai dan om en kom weer teruggedraf. Sy glimlag effens, asof sy die situasie wil ontlont. Dan leun sy onverwags vorentoe en soen my vlugtig. Haar lippe is nat en sout. “Ek skuld jou.”
Die lang, maer polisieman vra dieselfde vrae oor en oor. Hoe het ons die lyk gekry? Hoekom was ons op die strand? Waar is Ranna? Hoekom is sy nie hier nie?
Ek kyk na sy neus so skerp soos ’n mes en sy oë soos modder – onpeilbaar en troebel. Soos hy praat, skryf ek my artikel in my kop, dieselfde een wat later op The New York Times se voorblad verskyn het. Die een wat langs Ranna se foto gepubliseer is. Die een wat die res van die wêreld na ons gelok het.
“Jy is lief vir juffrou Abramson,” kruip die woorde skielik tot in my bewussyn.
Die stelling laat my opkyk, in die donker oë van Hamisi Bahame van die Tanzaniese speurdiens, die Kriminele Ondersoek Departement. Daar is ’n glimlag om sy mond, asof hy geweet het my aandag is elders.
Wás elders. Natuurlik sal so ’n vraag dit teruglok na die vensterlose, nou vertrek in die hoofpolisiestasie in die hartjie van Dar es Salaam. My horlosie sê die son sak al buite, maar hier binne sal niemand dit eens agterkom nie.
“Hoekom sê jy so?” vra ek toe hy nie daarop uitbrei nie.
“Dis die manier hoe jy oor haar praat.” Hy vryf oor sy hoë voorkop. Die strak, skoongeskeerde kakebeen. “Hoe jy haar naam sê, so asof jy dit eerder in die middel van die nag wil sê en nie hier nie.” Sy hand met die lang, dun vingers beduie na die vuil mat, die wit mure, die enkele potplant in die hoek wat vir water smeek.
“Jy moes ’n digter gewees het,” spot ek.
“Jy ontken dit nie.”
Ek weet nie hoe om hom te antwoord nie, so ek trek my skouers op.
Die polisieman glimlag effens. “As jy juffrou Abramson liefhet, beteken dit ek kan niks glo wat jy sê nie.”
“Hoekom nie? Almal het iemand lief.”
Hy laat rus sy ken op sy hand. Maak sy oë toe. Die tee voor hom is lankal koud. Hy het aangebied om vir my ook te maak, maar ek wou nie hê nie. Ek is lus vir iets veel sterker.
“Ja. Die meeste mense het iemand lief,” mymer hy. “Iemand het ook vir Billy Jones liefgehad. Iemand het hom verloor. Mense wat goed verloor, soek antwoorde – dis een van die belangrikste reëls van iets besit. En Billy se mense is ryk mense. Mense met baie invloed. Hulle bly iewers in Kalifornië, nie waar nie?”
Definitief ’n poëtiese polisieman. En ’n slim een. Ek antwoord nie. Wat kan ek sê? In hierdie geval is antwoorde sy werk. Om die storie te vertel is myne.
“Beteken dit julle is seker die man op die strand is Billy Jones?”
“Wie vra? Jy of die joernalis?”
“Dis dieselfde mens.”
Hy skuif die teekoppie vorentoe, trek dit terug. “Ons maak nog seker, maar dit lyk so. Twee vorige artikels praat oor die tatoeëermerk in sy nek. En die een laer af, Teresa. Dis sy eksvrou se naam. Almal weet hy was die afgelope paar weke in Dar, net soos almal ook weet hoe hy lyk. Hy het gereeld by die klubs uitgehang. Maar die amptelike antwoord is dat ons nog nie sy identiteit bevestig het nie.”
“Wanneer sal julle honderd persent seker wees?”
Die polisieman skud sy kop. “Hierdie is my onderhoud, Alex.” Hy glimlag vriendelik, onpersoonlik. Sy vingers begin ’n deuntjie op die houttafel uittimmer. “Vertel my van Ranna Abramson. Hoekom is sy nie hier nie?”
“Hoekom is dit belangrik? Ek kan mos vir jou vertel wat gebeur het.”
“Dis belangrik om verskeie redes. Billy Jones se familie sal wil weet wat gebeur het. Die Amerikaanse regering sal wil antwoorde hê. Jy weet seker hulle was een van sy vele kliënte.”
“Kyk,” sê ek stadig en duidelik. “Al wat ons gedoen het, was om op Billy Jones se lyk af te kom. Ons het gaan stap in die reën omdat ons siek en sat vir die huis was. Dis nie ’n misdaad nie. Ons het soos wetsgehoorsame mense onmiddellik die polisie gebel.”
Die polisieman se oë word ’n graad warmer. “Jy’s seker reg. Kom ons hoop jy praat die waarheid.” Hy sluk aan die koue tee. Trek ’n gesig. “Buitendien, daar’s geen rede om julle van enige iets te verdink nie, of hoe?”