Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 13
Оглавление9
EK WAG TOT ’N AFGELEEFDE DATSUN EN sy drie passasiers om die hoek verdwyn. Ek draai skerp regs, dan links en draf teen die kant van die huis af, na die tweede helderblou deur wat afgeëts staan teen die muur wat lank gelede wit was.
Ek hoop ek is reg oor Hadhi. En verkeerd oor Ranna. Hopelik is sy veilig en gesond.
Voor ek aan die deur vat, sien ek dit. Ten spyte van al die reën sit daar ’n roesrooi smeersel aan die onderkant van die silwer slot. Die vlek lyk soos iets uit ’n Kadinsky-skildery.
Dit vee maklik af. Ek maal dit fyn tussen duim en wysvinger. Ruik daaraan. Bloed?
Ek voel versigtig aan die deurknop en sug van verligting toe dit onder my vingers beweeg. Die deur gaan stadig, geruisloos oop. My asem ruk, en word dan stil en egalig, soos altyd net voor ’n groot storie wanneer die kalmte die adrenalien verdryf.
Ek loop in en gaan staan doodstil. “Ranna?”
Niks nie. Nie ’n geluid of ’n beweging nie.
Water drup van my skoene en baadjie tot op die vloer. Ek trek dit uit en sit die skoene by die deur neer, die baadjie bo-op. Ek sal later skoonmaak, al moet ek my T-hemp gebruik.
Dis warm en bedompig in die woonstel, asof dit al dae lank toestaan. Al van voor die reën af.
Dis die eerste keer dat ek in Ranna se blyplek is. Ek het nog elke keer vir haar by die deur totsiens gesê – Hardings is ’n bietjie meer as ’n kilometer van hier af.
Die plek is ’n geordende deurmekaarspul. Is dit hoe dit altyd lyk, of het iemand na iets gesoek? Twee vuil bekers staan op die vloer langs ’n bruin leerbank. Dit lyk asof iemand op die bank geslaap het, want daar lê ’n kussing en ’n liggeel kombers.
Die stapels papiere en boeke wat orals staan, wil-wil oorhel. Daar is baie boeke. Ek raai tweeduisend of meer. Teen die mure. Langs die TV. Agter die bank. Die twee boekrakke in die sitkamer staan dubbelgepak.
Ek hurk by die toring boeke naaste aan my. Zen and the Art of Motorcycle Maintenance. The Secret Life of Bees. Domestic Violence, How to Survive. Advanced Quantum Physics.
Wanneer kry sy tyd om so baie te lees? En het sy regtig al hierdie boeke gelees? Maar belangriker: waar moet ek begin soek na iets wat sal verklap wat gebeur het?
Dit kan tog nie só moeilik wees nie. Ek kom weer orent. Loop twee tree vorentoe. Haar woonstel is eintlik net een groot vertrek. Daar is ’n sitkamer, slaapkamer en kombuis alles aaneen, met die badkamer weggesteek in die hoek agter my.
Ek leun terug op my hakke. Van net langs die bank kan ek die wasbak in die badkamer sien. Daar is iets – ’n rooi T-hemp? – in die wasbak. Asof iemand dit haastig uitgetrek en neergegooi het. ’n Paar sentimeter regs en dit het op die vloer beland.
Ek loop nader, versigtig om nie geraas te maak nie. Ek kan nie bekostig om aandag te trek nie. Ranna se bure mag nie weet ek snuffel hier rond nie.
Die halfoop badkamerdeur kraak toe ek daaraan stoot. Ek hou op. Probeer weer. Hierdie keer swaai dit geruisloos oop.
Ek was verkeerd. Dis ’n wit T-hemp. Ek vou dit oop en hou dit voor die badkamervenster op. Die bloedvlek sit soos ’n oopgespreide roos op die linkerskouer. Daar is ’n skeur in die materiaal, asof ’n mes deur die hemp is. Ek steek my wysvinger daardeur. Dit moes ’n groterige mes gewees het om so ’n gat te laat.
Hoe erg is Ranna gewond? Ek dog dis net haar arm wat seergekry het.
Maar wie sê dis haar hemp?
Ek skud dit oop. Sy dra altyd stywe T-hemde. Dit kan maklik hare wees.
Waar ís sy?
Ek sit die hemp terug in die wasbak en loop kombuis toe. Daar móét meer wees, iets wat sal sê wat gebeur het. Ek maak die yskas oop. Die afgeleefde Kelvinator is amper leeg.
’n Harde brood staan eenkant op die toonbank. Die wasbak lyk ewe treurig. ’n Vurk, ’n teelepel, sewe bekers. Almal het koffie in gehad. Stérk koffie.
Dis vreemde medisyne vir iemand wat aan slaaploosheid ly. Of miskien het sy die kafeïen nodig. Miskien is sy te bang om aan die slaap te raak.
Ek draai om en bestudeer weer die woonstel met al sy boeke. Daar is geen beursie of selfoon te siene nie. Ook nie daardie bonkige horlosie of horde silwerarmbande wat sy altyd dra nie.
Beteken dit sy’s okay? Of beteken dit iemand het alles gesteel? Haar inkluis?
Die mediakonferensie is reeds aan die gang toe ek daar aankom, maar om die een of ander rede is die onderwerp van bespreking nie die begroting nie. Ek skuif langs Tom in net toe die minister van finansies sy kop vies skud.
“Wat gaan aan?” vra ek onderlangs.
“Die . . . Wat het met jou gebeur?” Tom wys na my nat skoene en die modder op my jeans.
“Lang storie.” Ek beduie na die podium. “Sê eerder vir my wat hier aangaan.”
“Dis sy skuld.” Tom knak sy kop in die rigting van ’n joernalis van die plaaslike Daily News wat skuins voor ons sit. “Hy wou weet wat gaan gebeur as die reën so aanhou.”
“Dit reën mos nog nie so lank nie.”
“Blykbaar is dele van die platteland al onder water.”
“O. Wat sê die minister?”
“Luister self. Hier kom dit.”
“Goed dan, kom ons hou áán om oor die reën te praat,” sê die kaalkopman in die netjiese blou pak driftig. “Al is die begrotingstekort ’n baie gróter probleem.” Hy vee die sweet van sy voorkop met ’n wit sakdoek wat iemand regs van die podium vir hom aangee.
“Dis nog te vroeg om te sê of die reën ’n probleem gaan wees,” gaan die minister voort. “Soos julle almal goed weet, is daar elke jaar lang reën en kort reën, en hierdie jaar is die lang reën vroeg. Dit moet eintlik eers in Maart begin, nie in Februarie nie. En dis ook ’n bietjie meer as gewoonlik. Wat kan ons daaraan doen?” Hy slaan gefrustreerd met sy plathand op sy bors. “Al wat ons kan doen, is om te kyk wat gebeur. En dalk, as ons gelukkig is, hou dit ook vroeër op met reën. Dis ook ’n moontlikheid.”
“So die regering soek nog nie buitelandse hulp nie?” Weer die Daily News-joernalis. “Twee mense is dood toe hul motorfiets gister in ’n rivier beland het.”
Die minister vee weer oor sy voorkop, sug openlik. “Elke lewe is kosbaar. Dit was nog altyd so en sal altyd so bly hier in Tanzanië. Maar gister was net ’n ongeluk, en ek weet dit, want ek het self met die polisie gepraat. Daardie mans het die rivier oorgesteek waar hulle nie moes nie. Die brug is twee kilometer stroomaf, maar hulle was haastig. So, my punt is: Hoekom moet ons nou al hulp soek? Dis nog nie ’n krisis nie, en dit help nie ons loop dinge vooruit nie.”
“So julle is nie eers bekommerd nie?”
Die minister se mond word ’n dun lyn. Dit lyk asof hy ’n skerp antwoord wil gee, maar dan haak sy oë by my en Tom vas. Hy kug ongemaklik.
“Ons sal die situasie fyn dophou.” Sy stem word sagter. “Maar miskien sal dit goed wees as die internasionale gemeenskap regstaan om te help, net ingeval dinge begin skeefloop. ’n Mens weet nooit. Die weer is deesdae baie onvoorspelbaar.”
Langs my skryf Tom alles neer. Dis een van die beter mediakonferensies van die afgelope paar weke. Twee stories vir die prys van een.
Ek kyk om my rond. Lyk my ek is die enigste een wat sukkel om te konsentreer. My pen beweeg lankal bloot meganies. Situasie. Help. Skeefloop.
Skeefloop.
Waar is Ranna?
Sy is nie in die bondel fotograwe in die hoek nie. Soos ’n ongeduldige vuurpeloton bly hul kameralense op die minister gerig, haastig dat hy moet klaar praat. Vir hulle is die groter storie skielik daar buite. Die foto’s wat die wêreld sal verander. Daar buite is mense wat baklei om nog een keer die son te sien opkom. Hier binne praat almal net, asof jy die dood kan systap as jy ’n driepuntplan beraam.
En al ruik die lug steeds na sweet en gisteraand se bier en gemufte pakke spesiaal afgestof vir vandag se geleentheid is daar skielik ook iets anders. En iewers tussen alles, net-net daar as jy jou neus soos ’n roofdier effens lig, is daar die reuk van afwagting. Van iets wat gaan gebeur.