Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 9

Оглавление

5

“KLAAR!” SKREE RANNA. SY KAP DIE BOTTEL op die tafel neer. Dit wankel na regs, na links, maar bly uiteindelik regop staan.

Die mense langs ons klap entoesiasties hande. Dis ’n handvol Duitse toeriste wat môre Serengeti toe vertrek, almal van hulle met stywe breërandhoede en ligbruin leerskoene met skoon sole.

Ek sluk die laaste van die Kilimanjaro en druk die koue bottel teen my voorkop waar ’n hoofpyn reeds skuil. “Jy wen. Al weer.”

Sy hou haar hand uit. “Dis vyf dollar, dankie.”

“Jy maak my bankrot. En wie het besluit ons speel in dollars?”

“Jy kan dit terugwen as jy wil. Wie ook al die volgende resies wen, vat alles.” Sy wys na die hopie gekreukelde note voor haar.

Ek tel die bottels aan haar linkerkant. Elf. Die meeste mans sou nou al op die grond gelê het, of ten minste ’n paar onsamehangende dinge oor hulle ekse uitgelap het. Ek het agt biere in en dis meer as genoeg. Die geluide om my klink vaag, veraf. ’n Brak smaak stoot in my keel op.

Waar’s Maggie? Miskien kan sy help.

Ek kyk om, sien haar agter die kroegtoonbank staan, haar skouers stram onder die T-hemp. Sy kyk na Ranna en dan na my. Haar gesig sê sy wil niks weet nie. Sy haal ’n geel lap van haar skouer af en begin die ry bierglase voor haar droogvryf.

Ek draai terug na ons tafel. “Ranna,” probeer ek oor die gedreun van stemme sê. Dan harder: “Ranna, nee. Kom nou. Dis tyd om huis toe te gaan.” Ek streep my vinger oor my keel. “Genoeg.”

Haar glimlag verdamp oombliklik. Haar oë word ’n yskoue blou. “Ek gee jou die kans om jou geld terug te wen en jy chicken uit?”

“Jy’s heeltemal reg. Ek wil nie meer drink nie. Kom ek vat jou huis toe.”

“Ek gaan nêrens heen nie.” Sy wys vir Maggie om nog ’n bier te bring, maar die kelnerin skud haar kop. Sy beduie van Ranna na my.

Ek kry die boodskap: die fotograaf is my verantwoordelikheid.

Die Duitse toeriste, wat ons gesprek probeer volg, lyk omgekrap. Asof ek hulle aand gaan bederf as ek Ranna nou huis toe neem. Hulle mompel onder mekaar.

Ek ignoreer hulle. Môre is hulle weg en dan is ons steeds hier. En buitendien, ek hou van Hardings. Ek wil nie hê Maggie moet my die plek belet nie.

“Hoekom wil jy nog drink?” Ek laat sak my kop met gemaakte nederigheid. “Jy’s verreweg die beter drinker. Face dit: ek gee oor.”

Eers pers sy haar lippe saam. En dan, onverwags, leun sy oor die tafel, haar mond skielik ’n wye glimlag. Van ys na water in een onvoorspelbare sekonde.

“Wat wen ek?” daag sy.

“’n Week se biergeld.” Ek beduie na die hoop note voor haar. “En iemand – iemand ordentlik – om saam met jou huis toe te loop.”

“Ek dog jy’s nie ordentlik nie.”

“Ek het gelieg.”

“Doen jy dit gereeld?”

“Lieg? Net uit ordentlikheid. Soos ’n goeie Afrikanerseun.”

Sy lag diep uit haar keel en ek verluister my aan die klank daarvan. Sy staan op, vinnig en seker, asof die bier lemoensap was, maar huiwer dan. Draai haar kop skuins, luister aandagtig na die musiek wat op die agtergrond speel.

Sit harder, beduie sy vir Maggie. Hierdie keer gee die kelnerin gehoor.

Ranna se heupe begin beweeg. Die heen-en-weer-swaai is hipnoties.

“Ek’s mal oor Angelique Kidjo.” Sy trek my orent. “Kom, dans met my. Net gou. Dan kan ons huis toe gaan. Belowe.”

Ek wonder of ek nog kan dans, maar die belofte van haar lyf is te groot om nee te sê.

Op die klein dansvloer agter in Hardings trek ek haar nader, maar sy maak my hande los. Sy lig haar arms en gooi haar hare terug oor haar skouers, haar oë toe.

Ek kyk en kyk, tot ek oplaas my hande op haar heupe bêre, daar waar haar pols warm en vinnig beur. En ek vergeet van ophou en huis toe gaan.

Dis vroegoggend toe ons uiteindelik die pad vat. Dit het vroeër gereën en die water lê nog blink in die strate. Die wolke het verbygetrek en die koel nag is helder, soos dit net kan wees in ’n plek sonder te veel fabrieke, verkeersligte en winkels. Dit laat my amper huis toe verlang. Plaas toe.

Agter my tel Ranna haar treë. “Een-en-sewentig. Twee-en-sewentig.” Sy hou op toe haar foon lui.

Ek kyk om toe sy nie antwoord nie. Sy staan doodstil. Haar lang vingers vryf ingedagte oor haar mond, asof sy die bang trek daar wil wegvee. Sy staar na die selfoon in haar hand.

“Gaan jy nie antwoord nie?”

“Dis die middel van die nag. Dit moet ’n verkeerde nommer wees.”

“Maar jy is wakker.”

Sy druk die selfoon terug in haar uitgewaste jeans se sak. “Ek wil eerder met jou gesels.”

Sy loop tot langs my en haak haar arm by myne in. Ons loop in stilte verder.

Ek weet ek moet vra, maar ek wil nie. Dis soos wanneer jy weet jy gaan iemand verloor, maar jy staan steeds elke oggend op asof niks fout is nie. Of soos wanneer jy jou ma bel en oor die weer praat. Of oor die artikel waaraan jy werk. Of oor hoe dit lamtyd is en almal besig is. Maar nooit oor jou pa nie.

Jy wil nie weet nie. Jy doof die stemme in jou kop uit. Want dis meestal net lovers – oud en nuut – wat ’n mens drieuur in die môre bel.

Skoenlapper

Подняться наверх