Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 7
Оглавление3
TOE DIE SON OPKOM, IS EK STEEDS WAKKER. Ek het drieuur by die huis gekom, maar kon nie slaap nie. My kop bly by Ranna en die troue.
Miskien moet ek gaan draf. Dit help altyd.
Terwyl ek my hardloopskoene aantrek, dink ek aan die liefdesverhale wat my ouma altyd verslind het. Sy was net so verslaaf aan die vervolgverhale op Springbokradio.
Ek het nog nooit in die liefde geglo nie. Nee, wag – ek is seker my ouma sou van Die Liefde gepraat het. Ek het altyd gedink sy kon dit net doen omdat my oupa sewe jaar ná hulle troue dood is en sy nie weer getrou het nie, al het die mans haar deur blink geklop. Of is sewe jaar reeds genoeg om alles wat goed is te versuur?
Ek het nooit haar siening oor die liefde gedeel nie. As ’n mens se eerste herinnering is dat jou pa jou ma só slaan dat sy nie kan loop nie, glo jy nie in ware liefde nie. In liefde dalk, as jy gelukkig is. Of dalk sommer net in ’n lyf, enige lyf, om die nagte korter te maak, die stiltes meer draaglik.
En dis die ding. Nou skielik, net omdat ek ’n mooi vrou ontmoet het, wil ek van my pa vergeet. My ma. Die plaas. Al wat ek wil onthou, is ’n ou vrou wat my op die skouer tik en sê ek sal eendag verstaan, ook my pa en ma se dinge.
Sy het altyd van Die Liefde gepraat en ek van Die Chaos.
Ek ken chaos. Ek het van kleins af geleer om dit te sien kom – en van ver af te sien kom. Dis wat my veiligheid verseker het. As ek kon sien my pa gaan kwaad word, kon ek verdwyn voor dit gebeur. Soms kon ek selfs die situasie ontlont.
Ek trek ’n skoon T-hemp oor my kop, maak die woonstelsleutel aan my veters vas. Begin strek.
En dis die probleem: As ek Ranna sien, sien ek chaos. Sy steek haar emosies weg. Probeer inpas, oplos in die mense om haar.
Nog meer: Dis asof daar ’n dun, snaarstywe staalkabel deur haar lyf loop. Asof sy heeltyd wag vir iets om te gebeur.
Ek wonder hoekom.
Die uitvoerende hoof van Lion Mining se ontvangsarea is vol chroom en glas, soos dit seker hoort by ’n mynmaatskappy wat op die Kanadese aandelebeurs gelys is. Hy is steeds besig met ’n vergadering elders, wat beteken ek moet gehoorsaam wees aan een van die eerste reëls van nuus: Ek moet wag.
Ek leun terug in die harde stoel en strek my bene voor my uit. Onder my skree die kunsleer. Die sekretaresse, een van twee, kyk op en maak ’n vies geluid agter in haar keel. Ek glimlag halfhartig, maar sy ignoreer dit. Sy lig haar wenkbroue en draai terug na haar rekenaar.
Haar oë skiet vuur toe my foon lui.
“Derksen.”
“Alex?”
“Ja?”
“Lus vir aandete?”
“Altyd.”
“Kies ’n plek.”
“Jy ken Dar es Salaam beter.”
“Sê sommer Dar. Goed, maak dit Hardings.”
Ek weet waar dit is. “Klink heerlik.”
“Sien jou seweuur.” Vir ’n oomblik is dit stil. “En, Alex,” sê Ranna, “bring bietjie meer woorde saam. Vir ’n joernalis is jy vrek suinig.”