Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 17

Оглавление

13

DIT REËN STEEDS TOE EK RANNA WEER SIEN. Sy het my die vorige nag huis toe gejaag, al het ek belowe om op die bank te slaap – net ingeval die man wou kom moeilikheid soek. Maar sy wou niks weet nie.

Die nuwe dag is net so warm en bedompig soos die vorige een. Die stad slaan kras in my neus op; dis ’n mengsel van nat grond, ongewaste lywe en vullis wat te lank buite gestaan het. Om ons trap die straathandelaars vies rond. Alles is natgereën: hulle ware, die straathoeke waar hulle moet staan. Die paaie lê vol bruin water en dis moeilik om te sien waar die straat begin en die eens stowwerige sypaadjie eindig.

Mense loop verby terwyl hulle kort-kort hemel toe kyk, asof hulle die ergste verwag. Ek wonder hoeveel van hulle gisteraand nat gaan slaap het.

Ons – ek, Ranna en Tom – staan en wag voor die Plaza Hotel vir Lion Mining se mynbestuurder om ons op te tel. Die maatskappy het belowe om ons vanuit die lug te wys waar die reën reeds sy merk gelos het. Een van hulle goudmyne is onder water en drie naburige dorpe is van die buitewêreld afgesny. Hulle is bekommerd omdat die regering nog nie buitelandse hulp versoek het nie.

Ek maak weer seker ek het my beursie ingepak. Notaboek. Pen. Nog een. Ek moes vroeg opstaan en is nog nie lekker wakker nie.

Ek en Ranna het tot laat gisteraand gepraat. Ek kon nie sin maak uit alles wat sy gesê het nie, maar ek weet een, nee, twee dinge: Sy het gesê ons moet dit stadig vat – baie stadig. Dis goeie nuus.

Wat bietjie vreemd is, is die tweede ding. Sy wil nie hê iemand moet van ons weet tot ons seker is dinge gaan uitwerk nie. Blykbaar sal my reputasie sukkel om haar te oorleef. Sy het al te veel verhoudings gehad wat op niks uitgeloop het nie, en al voel sy hierdie keer anders, sal mense dit nie so sien nie. Die stories sal loop en dis die laaste ding waarvoor sy lus is.

Ek wou eers niks hoor nie, maar het naderhand opgegee. Ek sal doen wat sy vra. Maar nie vir te lank nie. ’n Mens kan nie so in die donker leef nie.

Ten minste weet ek sy is nie getroud nie. Maggie of Tom sou lankal gepraat het.

Ek vee oor my oë en onderdruk nog ’n gaap. Dis wat drie uur se slaap aan jou doen. Ranna was nie veel langer in die bed nie, maar sy lyk vars en uitgerus. Sy staan in die reën en neem ’n foto van ’n middeljarige vrou met ’n rooi sambreel wat ’n rondloperkat iets uit haar handsak voer. Die vrou kyk onverwags op en glimlag, asof hulle mekaar ken. Ranna knik amper onmerkbaar, haar oë sag.

Sy kyk na die Nikon se skerm en lyk ingenome. Vee slierte hare, die misreën daarin soos pêrels, uit haar gesig.

“Goeie foto?”

“Hmmm.” Sy kom nader en hou die kamera op sodat ek kan sien.

Dit ís besonders. Die vrou kyk op asof sy na iets luister, haar uitdrukking ingedagte. Dis die perfekte gestolde oomblik. Maar nie veel werd vir Ranna se werkgewers nie, daarvoor ontbreek die chaos.

Langs my trap Tom sy sigaretstompie dood. Hy vryf oor sy varsgeskeerde kop en kyk van my na die kamera. Toe na Ranna. “Werk jy nog steeds aan daardie uitstalling?”

Hy steek ’n nuwe sigaret aan toe sy hom ignoreer. “Jy’t seker nou al genoeg foto’s? Wanneer sien ons hulle?”

Ranna trek aan die soom van haar swart T-hemp en vee die reën van die kameraskerm. “Eendag.”

Dis die eerste keer dat ek van so iets hoor. “Uitstalling?”

Tom sis die rook tussen sy tande uit. Dit verdwyn teen die grys wolke agter hom.

Toe Ranna stilbly, antwoord hy: “Sy wil al haar foto’s uitstal. Nie die moord- of oorlogprentjies nie. Sy wil die oomblikke uitstal, die mense. Al die foto’s wat die ouens in Londen en Washington besluit het nie belangrik genoeg is nie.”

Ek draai na Ranna, my oë vraagtekens. Sy trek haar skouers op en laat rus die Nikon teen haar bobeen. “Hy’s reg,” sê sy uiteindelik.

“Onthou jy die foto wat jy in Parys geneem het?” vra Tom. “Toe ons al twee daardie belaglike presidensiële skandaal moes dek.”

“Die seuntjie wat die brood gesteel het?”

“Dis hy. En die een van die wit vrou van Joburg en haar Algeriese lover wat voor die Eiffeltoring uitgekamp het oor hoe die polisie hom behandel het. Die vrou met die tatoeëermerk van die draak al om haar skouers tot op haar enkels. Onthou jy? Sy’t gesê sy het dit destyds laat doen as ’n fok-jou vir die NP se Rooi Gevaar.”

“Sy was pragtig.”

“Sy was twee-en-sestig.” Tom trek die rook diep in. En weer, asof een keer nie genoeg was nie. “En sy het openlik by jou aangelê. Dink net aan die foto’s as jy belanggestel het. En ek het so mooi aangebied om dit te neem.”

“In jou drome, Tom. In jou fokken drome.” Ranna lig die kamera en neem hom af net toe hy die sigaret met sy hak doodvee.

Hy wys vir haar ’n middelvinger, maar bedoel dit nie. Hy vee oor sy ken en glimlag, asof die herinneringe hom bly maak. Gelukkig.

Skielik weet ek: Tom was verlief op Ranna.

Net toe ek wil vra hoe die geskiedenis tussen hulle loop, lui my foon. Dis Alan van Lion Mining.

“Ons moet die vlug afstel,” sê hy saaklik. “Dit reën te veel. Ons sal môre weer probeer. Die weervoorspelling sê dit sal dalk bietjie opklaar.” Hy huiwer ’n oomblik, sug dan. “Maar ook net môre. Lyk my dit gaan nog lank vat voor ons weer die son sien.”

“Kan ons nie ’n ander plan maak nie?”

“Ek gaan nie soontoe ry nie. Dit sal te gevaarlik wees.”

“Okay dan,” gee ek teleurgesteld toe. Ek het klaar vir Jasmine die storie belowe. “Ek sal vir die res sê. Selfde plek, selfde tyd?”

“Jip. Ek sal julle met die Land Rover kom optel en vliegveld toe vat. En jammer, maar daar’s niks wat ons daaraan kan doen nie,” sê hy voor hy groet.

Ek bêre my foon en draai na die ander twee. “Slegte nuus. Ons vlieg nie vandag nie.”

Tom se gesig verdonker. “Hoekom nie?”

Ek wys na die grou lug. “Die reën. En my kontakte gaan nie só hoog op nie. Alan sê ons moet môre weer hier wees, selfde tyd.”

Ranna sug gelate. “Seker beter so.” Sy swaai die rooi rugsak van haar skouer en begin haar kamera wegpak. “Wat gaan ons nou doen?”

“Ek weet nie wat julle twee gaan doen nie, maar ek gaan slaap. Ek het al vroeg vanoggend opgestaan om ’n storie te file,” sê Tom vies. “Ek dog Afrika is nie vir sissies nie. Wys jou net.” Hy maak sy sambreel oop. “Dit reën glad nie so erg nie.”

Hy waai vir ons toe hy wegloop. “Sien julle môre.”

“Baai,” groet Ranna. “Lekker slaap.”

Sy kyk op haar horlosie en draai na my. “Kom drink ’n bier saam met my. Die Boeing is al amper oor.”

“Hoe laat is dit?”

“Elfuur.”

“Hoekom nie?”

Ek het tog niks beters om te doen nie. En dalk kan ek uitvind wat tussen haar en Tom gebeur het.

Skoenlapper

Подняться наверх