Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 15
Оглавление11
KOROGWE LÊ VER NOORD. DIT NEEM MEER AS TWEE uur voor ek die eerste vlinders teëkom. ’n Paar kilometer verder word die enkele wit skoenlappers bondels fladderende insekte wat alles om hulle blindelings ignoreer en agter hulle instink aanneuk.
Ek weet ek moet my storie skryf. Ek kan nie alles net so los en agter ’n vrou aanfoeter asof ek niks beters het om te doen nie. Maar geeneen van hierdie gedagtes laat my omdraai nie. Steeds volg ek die swerms asof hulle broodkrummels is, heeltyd op soek na Ranna se wit Land Cruiser.
Dis moeilik om een voertuig tussen ’n horde ander op te spoor. My oë jag tussen die winkels, die dala-dala-taxi’s, motorfietse, beeste en bokke langs die pad. Maar ek sien niks nie. Dan, net soos die gelapte teer my uit ’n klein dorpie lei en tussen die heuwels uitspoeg, staan die viertrek onder ’n boom.
Ek parkeer my voertuig agter hare en bly sit. Iets voel nie reg nie. Die deur aan die bestuurderskant staan wawyd oop, maar daar is geen teken van Ranna nie.
Ek spring uit die Land Rover. Die bedompige hitte slaan my tussen die blaaie soos ’n nat vuis. Ek draf na haar kar toe. Kyk binne. Niks nie. Maak die deur toe. Daar is bloed aan die handvatsel, net soos aan haar voordeur vanoggend.
Ek draai om en soek na die flikkering van ’n lens in die middagson wat af en toe deur die wolke breek. Luister vir die kraak van haar stewels.
Niks nie.
Dan hoor ek dit. Tik. Tik-tik-tik.
Ek swenk skerp links en hardloop die lang gras in.
Tik.
Dieper in. Vinniger.
Tik, tik.
Uiteindelik sien ek haar. Sy hurk in die veld op ’n rooi slaapsak, haar kamera hemel toe gedraai. Tik. Tik, tik.
Verligting spoel deur my soos koel water. Ek wil amper lag, maar Ranna se stem keer my.
“Stop net daar as jy nie wil seerkry nie,” sê sy met ’n lae stem, haar rug steeds na my gedraai.
Ek gaan staan doodstil, my voete in ’n plas modder.
Tik. Tik. Tik.
Skaduwees beweeg oor haar gesig: die oop- en toemaak van haastige vlerke, soos die fladderende bladsye van ’n boek. Ek kyk op. Bo my trek honderde skoenlappers verby, wit spikkels teen die grou, oortrokke lug. Van hulle vlieg in my gesig vas. My nek.
Ek waai hulle ongeduldig weg. “Is jy okay?”
Sy laat die kamera sak. Haar oë spring van die vlinders na my. “Hoekom sal ek nie wees nie?”
Ek beduie oor my skouer na haar motor. “Die bloed?”
“My vinger stukkend gekrap. Muskietbyt.” Sy hou haar ringvinger op. ’n Skraap loop al langs die regterkant af. “Niks ernstigs nie.”
Sy lig die Nikon. Tik. Tik, tik, tik, tik.
Al hierdie gejaag vir ’n muskietbyt? Ek wil na regs skuifel, nader aan haar net om seker te maak, maar ek bly doodstil staan.
“Kan ek nou beweeg?” vra ek uiteindelik.
Sy laat weer die kamera sak, kom orent. Sy draai na my. Daar is moddermerke op die knieë van haar jeans en op haar elmboë.
“Wat soek jy hier, Alex?”
“Jy was nie by die mediakonferensie nie.”
“So?”
“Ek was bekommerd oor jou ná wat gebeur het. Gisteraand. Die bloed? Onthou jy?”
Sy trek haar skouers terug, haar oë skielik ’n bedonnerde donkerblou. “Jy moet eerder vergeet wat gebeur het.”
“Dis nie so maklik nie.” Ek bedink my. Sarkasme sal nou niks help nie. “Hoe vergeet ’n mens bloed?”
“Soos jy altyd doen wanneer jy ’n storie daaroor geskryf het. Dis nie joune nie, so dis okay.”
“Wat beteken dit? Niks raak my nie?”
“Ek het jou stories gelees. Jy hou jouself op ’n afstand. Die heeltyd. Soos met die artikel oor die vigskliniek. Dit was goed, selfs interessant, maar op ’n kliniese manier.”
“Wat wil jy hê? Moet ek lang trane stort elke keer as ek oor iemand skryf wat doodgaan? Ek sal nooit ophou tjank nie.”
“Jy’s seker reg. Afstand is seker hoe mens oorleef.” Sy mik weer met die kamera, neem twee foto’s. “Of eerder, dis hoe mens léér om te oorleef. Wie het jou leer oorleef, Alex?”
Dis tipies Ranna. Aanval is die beste verdediging.
Ek weier om saam te speel. “Ek gee om vir jou. Ek gee om wat met jou gebeur. Dis al wat saak maak. Hou op moeilik wees.”
Vir ’n oomblik is dit stil, dan gooi sy haar kop agteroor en lag. Verskrikte skoenlappers fladder hoër die lug in.
“Is dit ’n liefdesverklaring?”
Ek trek my skouers op, moeg van versigtig wees. Moeg om te meet en te wik en te weeg. “Noem dit wat jy wil.”
Ek draai om, nie lus om vir ’n antwoord te wag nie. Nie lus vir die jammerkry op haar gesig nie. Ek loop so vinnig soos ek kan deur die lang gras tot by my Land Rover. Soek vergeefs na die sleutels.
Terwyl ek in my jeans se sakke rondvis, begin dit reën. Warm en hewig, soos net tropiese reën kan val. Binne sekondes is ek papnat.
Het ek die sleutels by haar viertrek laat val? Ek slaan die deur van die Land Cruiser met ’n woedende vuis. “Fok tog.” Skop die wiel. “Fok alles!”
Uiteindelik kry ek die sleutels tussen die lang gras.
Ek ry weg sonder om terug te kyk. Die voertuig is skaars in tweede rat toe die eerste skoenlappers soos verfrommelde papier onder my skermveërs beland. Net soos weggegooide liefdesbriewe.
Op pad terug na Dar skryf ek vanoggend se artikel in my kop. Dis beter as om heeltyd aan Ranna te dink. Tom was reg: die vrou is moeilikheid. In hoofletters.
Toe ek uiteindelik by die huis kom, lap ek die artikel oor die begroting en die reën binne ’n kwartier aanmekaar. Ek stuur dit deur sonder ’n finale lees.
Hoe groot gaan hierdie storie word? flikker die woorde ’n paar minute later op my skerm.
Jasmine, die nuusredakteur.
Die begroting? tik ek moedswillig.
Nee, die reën. Gaan dit ’n ramp word?
Ek wil-wil lag. Die kans is goed dat Tanzanië gaan oorstroom. Niks van dit wat gebeur is nuut nie. Dis weer die Chaos. Dit sit agter alles. Ek soek ’n nuwe werk, kom Dar es Salaam toe, en loop my trompop daarin vas. Ek weet net nie of dit Ranna of die reën gaan wees nie.
Of beide.
Heel waarskynlik, antwoord ek.
Sal jy dit kan hanteer?
Natuurlik. Hoekom vra jy?
Minute lank gebeur niks nie, en dan kom die woorde: Want jou stories klink anders as toe jy nog by die koerant was. Dalk maak die hitte jou sag.
Dis nie wat Ranna gesê het nie. Volgens haar gee ek nie om nie. Wie is reg – sy of Jasmine?
Hoe klink omgee? vra ek.
Ek kan my amper verbeel hoe Jasmine, ’n vrou met ’n groot vrees vir klein spasies en ’n obsessie met Madonna, lag.
Jy begin skryf oor mense, nie name nie. Hoe lank is jy al daar?
’n Paar weke.
Hmm.Wie is sy?
Ek weet nie wat om te sê nie, so ek ignoreer die vraag eerder as om te lieg.
Maar die waarheid het nie altyd ’n stem nodig nie. Soms staan dit net daar sonder dat iemand dit hoef te erken. Stil en seker. En, bo alles, geduldig.