Читать книгу Skoenlapper - Irma Venter - Страница 14
Оглавление10
TOM HOU DIE MARLBORO TUSSEN DIE PUNTE VAN sy duim en wysvinger vas. Hy asem die rook in, blaas weer uit. Hy soek na ’n asbak, laat uiteindelik die sigaretas in die blare van ’n verdroogde varing verdwyn. Die geruis van stemme om ons word minder soos die klomp joernaliste hulle tee en koffie klaar drink en loop.
Ek wil hom vra en tog ook nie. Hoeveel sal ek verklap as ek met hom praat? Uiteindelik swig ek voor die behoefte om te weet. Eendag gaan dit nog my ondergang beteken.
“Jy weet nie dalk waar Ranna is nie?”
Hy lig sy een wenkbrou in ’n vraagteken. Knip sy oë vinnig. En weer. Daar is iets onpeilbaars in sy oë.
“Het jy toe nou ook vir haar geval?”
Eers Hadhi en nou hy. Hoekom neul almal heeltyd oor dieselfde ding? Ek slaan my notaboek oop en maak asof ek iets daarin soek. “Ek wil net weet waar sy is. Ek moet iets uitvind. Dis al.”
Tom lyk ongelowig. Hy druk sy sigaret in die plantpot dood toe ’n kelner kopskuddend nadergeloop kom. “Jammer! Ek het nie besef ek mag nie hier rook nie.”
Die vrou met die skinkbord verdwyn en hy draai weer na my.
“Daar’s nie een joernalis in hierdie vertrek wat my nog nie daardie vraag gevra het nie. Behalwe dalk Gerald.” Hy wys na ’n gespierde man met ’n borselkop. “En dis net omdat hy gay is.”
Ek het geweet dis ’n slegte idee om met Tom oor Ranna te gesels. “Los dit.”
Hy lag en hou sy hande op. “Moenie dat ek jou ontstel nie, Alex. Sy’s een van daai vrouens wat mans mal maak. Maar sy sal alleen oud word. Ons is net te veel werk vir haar. Te veel alles. Dan voel sy vasgekeer en sy hardloop weg. Punt.”
“Ek is bloot bekommerd oor haar.”
“Sy kan vir haarself sorg.”
“Ek weet. Maar steeds.”
Die Engelsman bly stil. Hy soek na iets op my gesig. Bevestiging dat ek die waarheid praat?
“Ek en sy is al lank vriende. Járe,” praat hy uiteindelik weer. “So moenie wat ek sê verkeerd verstaan nie, maar sy gaan jou seermaak. Los dit eerder. Los haar. Soek iemand anders om jou dae hier korter te maak.”
“Weet jy waar sy is, of nie?”
“Gistermiddag was alles nog reg.”
“So jy het haar gister gesien?”
“Ja.”
“Wanneer?”
“Laatmiddag.”
“En sy was okay?”
“Ja.” Tom rek die woord uit. Frons. “Hoekom?”
So wat ook al skeefgeloop het moet in die paar uur tussen haar afsprake met Tom en my gebeur het. Of was hy dalk betrokke?
Ek weeg die joernalis met die kaalkop en nikotienbevlekte vingers op. Nee. Ranna is baie langer as hy, en ek is seker hy is reg, sy weet hoe om na haarself te kyk. Sy is daardie meisie wat op kleuterskool al ’n vuis kon maak en ’n bal kon gooi.
“Alex,” praat Tom weer. Hy haal die Marlboro’s uit sy hempsak, bedink hom en sit dit terug. “Wat gaan aan?”
Ek sug ongeduldig. “Ek het nie nou die tyd om te verduidelik nie. Weet jy waar sy is, of nie? Magtig, man.”
“Whoa. Okay.” Hy frons, asof hy hard moet dink om te onthou. “Probeer die pad Korogwe toe. Sy’t iets van ’n skoenlappermigrasie gesê. Dis al wat ek weet.”