Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 10

Ek skink vir my ’n tweede whiskey. Ignoreer die kelners wat verbaas na my kyk, Zenani wat boodskappe stuur dat ek kombuis toe moet kom.

Оглавление

Ek loop kantoor toe, maak die deur agter my toe.

Yasen. Hier. In Suid-Afrika. Waar ek bly. Waar my familie bly. Hoekom vind ek dit nou eers uit? Hoe kon ek en Boris so blind gewees het? Het ons gerus geraak? Ryk en gemaklik?

Dalk lieg Themba. Dalk is sy inligting verkeerd. Dalk is Yasen dood, of nog steeds in die tronk, en wil Themba net die video hê.

Dalk is Yasen reeds in Johannesburg.

Hy kan tog nie weet waar ek bly nie. Ek het my van al verskeie kere verander en ek gebruik nie sosiale media nie. En ek het nooit regtig met hom oor my familie gepraat nie.

Nee. Hy weet iets. Dis hoekom hy die van De Klerk gekies het. Tipies Yasen. Hy klim in jou kop in. Skarrel soos ’n rot onder jou vel in op soek na die weerloosste plek om aan te knaag.

Wat as hy van my halfsusters weet, van hulle kinders? As hy van álmal in my lewe weet? Wat as hy van …

Ek moet hom opspoor voor hy my in die hande kry. Yasen het sekere duur stokperdjies, soos om donkerkopvroue te vind wat hy kan breek. Ek weet waar om te soek.

Ek moet dringend in die Kaap kom. Ek staan op. Haal my motorsleutels uit die laai, tel my handsak op. Ek moet woonstel toe om te pak en ek moet seker maak almal is veilig, net ingeval Yasen hier opdaag.

Die Yasen Todorov wat ek geken het, was dodelik, en ek kan nie dink dat soveel jare in die tronk hom verander het nie. Inteendeel.

Sirkus

Подняться наверх