Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 8

2 Johannesburg, vandag

Оглавление

Adriana wag vir my by haar woonstel se voordeur. “Hallo, Ranna.”

Ek soengroet haar. “Jammer ek’s ’n paar dae vroeër as wat ek gesê het. Alex is gister reeds Sirië toe, toe klim ek sommer op die vliegtuig.”

Ek sit my sak neer. Sy lyk presies soos ek onthou. Die kort maar soepel lyf, reguit donker hare wat die lyn van haar kakebeen volg. Haar skouers is bruin onder die dun bandjies van haar rooi rok.

“Jy lyk goed. Wat eet jy dat jy altyd so gesond lyk?”

Sy beduie ek moet inkom. “Dis nie wat mens eet nie, dis wat jy doen. Bietjie judo, bietjie swem, bietjie joga.”

Ek volg haar binnetoe. Haar dakwoonstel kyk uit oor Sandton. Verby die ekonomiese hart van die land, anderkant die verligte kantoor- en woonstelgeboue van een van Afrika se duurste buurte, flonker ’n see van liggies. Midrand aan die een kant, met Pretoria daaragter, Johannesburg se ligte helder en digter aan die ander kant. ’n Gebou nes haar woonstelblok, maar hoër, verrys in die voorgrond. Dit lyk darem nie of dit te veel van haar uitsig sal steel nie.

Die oopplanvertrek lyk soos ek dit onthou. Pers banke, groot, opvallende skilderye, duur matte, die skaakbordteëlvloer in die kombuis.

Adriana se tjello staan soos altyd in die hoek. Hosni, haar Persiese kat, lê op die vensterbank en slaap. Nina Simone smeul oor die luidsprekers.

Sy loop kombuis toe. Ek trek die swaar staalvoordeur agter my toe, maak seker dis gesluit voor sy vra. Gaan sit oorkant haar by die kombuistoonbank.

Sy was besig om tamaties te sny toe ek geklop het. Sy werk ver­der, vinnig en akkuraat. Praat sonder om na my te kyk.

“Oor die foon het dit geklink asof jy en Alex vasgesit het.”

Hoe weet sy dit? “Nee.”

“Nee, dit het nie so geklink nie, of nee, julle het nie?”

“Beide.”

Sy lag vir my, bruin oë met ’n tikkie geel. Dit versag die litteken wat van onder haar regteroog tot by haar oor loop.

“Is dit moeilik om hom Sirië toe te stuur terwyl jy hier moet bly?”

Sal ek dit toegee, erken dat ek ook oor Gift of the Givers se Darkoush-hospitaal wou berig? Die bomme wat “per ongeluk” twee weke gelede daarop neergereën het.

Ek trek my skouers op. “Dis te gevaarlik. Netnou herken een van my oudkollegas my.”

Ek skop my sandale uit en trek my knieë op tot onder my ken. Ek is honger, en wat Adriana ook al maak, dit ruik lekker. Dit lyk soos tuisgemaakte vla op die stoof en ’n hoender in die oond. My laaste ete was drie ure gelede op die vliegtuig, ’n droë SAAbroodjie waarmee ek die vlieënier kon doodgooi as ek wou. Hoekom dode­like wapens aan boord verbied as die vlugkelners dit uitdeel?

Sy haal ’n mes uit die laai en hou dit na my uit. “Help jy met die slaai. Ons moet gou maak, ek wil nog koffie ook hê voor die krag afgaan. Dankie, Eskom.”

Ek trek die kapbord en slaaigoed nader. “Het jy nie ’n generator nie? Ek sou, al hierdie load-shedding maak my mal.”

“Nee wat, ek kook met gas. En geen mens moet te gereeld nuus kyk nie.”

Ek werk stadig en versigtig, my kop besig.

“Alex wil kinders hê,” sê ek uiteindelik. “Of eerder, hy dink daaraan.”

“En jy wil nie?”

“Nie só nie. Nie met die polisie wat so knaend is nie.”

“Hulle soek mos nie meer na jou nie. En jou ID en paspoort is heeltemal wettig. Dit sal moeilik wees om te bewys jy’s nie Francis Beekman nie.” Sy vee haar mes skoon aan ’n afdrooglap. “Is dit die enigste rede hoekom jy nie kinders wil hê nie?”

“Seker nie.” Ek los die wortels wat ek besig was om te kerf. Won­der of ek eerlik moet wees. “Ek’s bang. Vir my … jy weet, vir wie ek is. Hoe ek sal wees.” Ek sug. “Om te settle.”

“Hmm …”

Ek soek in haar oë na die ongesêde woorde. Soos gewoonlik kan ek niks daarin lees nie. Hoe kan hierdie vrou tegelykertyd so warm en so geslote wees?

“Kan ek hier bly tot Alex terugkom? Ek’s nie lus vir my eie geselskap nie.”

“Sekerlik.” Sy sit haar hand vlugtig oor myne. Glimlag effens. “Maar jy kook môreaand.”

Sirkus

Подняться наверх