Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 19

2 Johannesburg, Julie 1989 “Hier.” Die Hollander leun oor my en sit die teekoppie voor my neer. Hy gooi melk by, te veel suiker, roer met sy lang, maer vin­gers. “Drink. Jy sal beter voel.”

Оглавление

Ek staar na die goedkoop wit keramiek, die hap uit die koppie se oor. Hoe gaan tee my beter laat voel?

Hy vou sy skraal lyf op in die stoel langs myne, druk die bril terug op sy neus.

My ma kyk na haar hande wat op die tafel rus. Die stilte rek.

Uiteindelik swaai haar oë na my. “Ek is … Ek’s jammer oor Peet.” Haar stem klink krakerig en oud, ongeoefen.

“Jammer?” My stem raak hoog. “Hoe help jammer?”

“Adriana. Meisje … nee.” Die Hollander se oë pleit: kalm wees.

Hy kruis sy bene, die boonste voet wat soos altyd rusteloos op en af beweeg. Lieg oor wat in sy binneste aangaan.

Hy is reg. Dit help niks om my ma te ontstel nie, om my woede op haar uit te haal nie.

Ek vryf oor haar hand, klein en bleek onder myne. “Jammer. Dankie.”

Sy knik, glimlag vlugtig.

Ek sluk aan die te soet tee, kyk by die kombuisvenster uit, na die tuin waar die flou son teen die laatwinter se koue baklei. Die grond was seker hard toe hulle die graf gegrawe het, alles is so droog. ’n Bietjie reën sou dit makliker gemaak het.

Nie dat daar veel was om te begrawe nie. Konstabel Petrus Johannes van Vuuren, negentien jaar oud, dood in ’n bom­ont­plof­fing. ’n Kleefmyn, by die winkel waar hy gou middagete gaan koop het.

Ek en die Hollander het dadelik daarheen gery toe ons die nuus kry. ’n Man met kortgeskeerde hare, stofbruin skoene en ’n wit kortmouhemp het gesê hy is van die veiligheidspolisie. Dis die ANC se werk, het hy gesê en met sy sigaret beduie na die bloed, die glasskerwe, die stukke verwronge staal wat oral gesaai gelê het.

Die Hollander het agter in sy keel gesnork, omgedraai en weggeloop, wit om die mond. Ek het nie eens geweet hy hou van Peet nie. Ek onthou net hy was baie ontsteld toe Peet se pa hom gedwing het om by die polisie aan te sluit.

Peet se pa het nie eens by die graf gehuil nie. Peet se broers ook nie. Nee, wag, die jongste een het onder sy ma se arm gestaan en snik.

Sandra het ook gehuil. Onophoudelik.

Sy is swanger. Haar ma weet nog niks nie. Peet se familie ook nie.

Sirkus

Подняться наверх