Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 11

2 Johannesburg, vandag Die metropolisiebakkie agter my draai links af. Die silwer BMW met sy twee insittendes skuif na die regterbaan en glip verby. Ek asem stadig uit.

Оглавление

Ek hou die motors wat agter my oorbly fyn dop, maar sien niks of niemand wat verdag lyk nie. Ry weer om my Sandton-woonstel­blok. Ná die derde rondte draai ek by die ondergrondse parkeerarea in en soek ’n leë parkeerplek ver van my eie.

Ek haal ’n skroewedraaier uit die Mercedes se gereedskapkis. Loop na my plek, gemerk A de Klerk, en skroef die bordjie af. Mens weet nooit.

Die parkeerarea is grafstil. Die meeste van die inwoners werk lang ure, of hulle is selde tuis. Ek loop vinnig na die hysbak, tik die kode in, ry tot op die sewentiende verdieping. My woonstel is heel bo en die enigste op die vloer.

Angélique Kidjo speel hard oor die luidsprekers toe ek oopsluit en instap. Hosni sit op die eetkamertafel en lek aan ’n voorpoot. Ranna staan in die kombuis met klam hare en ’n handdoek om haar lyf. Sonder gister se kontaklense lyk haar oë donkerblou, amper pers.

Ek het van haar vergeet. Hoekom het ek ja gesê vir die kuier?

“Haai.” Sy skakel die espressomaker aan en die masjien begin raserig bone maal. “Wil jy koffie hê?”

Sy kyk na die horlosie op haar arm, blinknat van die stort. “Moet jy nie by Crow’s wees nie?” Sy gooi suiker in haar koffie en kyk terug na my. Sit die koppie neer.

“Wat’s fout, Adriana?”

Wóú ek hê sy moes sien? Miskien raak ek sag. Ek skud my kop. Ek moet pak en ry. My vlug is oor vyf ure.

Ranna gee ’n tree nader aan my. “Wat gaan aan?”

Ek kan sag nie bekostig nie. “Niks nie.”

Ek loop kamer toe. Ek kan nie weer haar hulp vra nie, laas jaar was genoeg. En makliker. ’n Kwessie van reg en verkeerd, swart en wit. Hierdie storie kan vinnig morsig raak.

Ek begin klere uit die kaste haal. Toe ek opkyk, staan Ranna in die deur.

“Wat het jou so omgekrap? Ek het jou nog nooit só gesien nie.”

“Ek moet dringend Kaap toe. Bly hier so lank as wat jy wil. Gee asseblief net vir Hosni kos.” Ek dink weer. “Nee, dalk moet jy eer­der padgee. Wil jy in ’n hotel gaan bly?”

“Hoekom? Ek het dan vir jou kom kuier. Hoe lank gaan jy weg wees?”

“Lank. Ek kan nie nou verduidelik nie.”

Ek wil verbyloop badkamer toe, maar sy gryp my gewrig vas. Ek het vergeet hoe sterk sy is. Al daardie ure in die buitelug op soek na die perfekte nuusfoto het haar lyf taai gemaak.

“Adriana. Praat met my.”

“Los my.”

Haar vingers gaan oop. “Jammer.” Sy kruis haar arms. “Ek luis­ter.”

“Jy wil nie weet nie.”

“Sê wie?”

“Ranna, ek het nie tyd vir nonsens nie. Ek is haastig.”

“Los dit. Kom sit. Ek maak vir jou koffie en dan vertel jy vir my wat pla. Dalk kan ek help.”

Ek wil verder stry, maar ek wil ook ja sê.

“Alex sal nie daarvan hou dat jy my help nie,” skerm ek.

“Hy hoef nie noodwendig te weet nie. Buitendien, hy’s besig. Hy’t al twee stories uit Sirië gefile.”

“Maar wat as dit …”

Hoe verduidelik ek die situasie aan haar? Hoe verduidelik ek my en Yasen se geskiedenis aan enige iemand?

“Wat as jy iets onwettigs moet doen om my te help? Sien jy dan nog steeds kans?”

“Kan ek nie maar besluit as ek gehoor het wat aangaan nie?” Sy vee deur haar klam krulle. “Ek het jou nog nooit só gesien nie. Jy is … dis asof jy bang is.”

Bang?

Ek hét sag geraak. Gerustheid doen dit seker aan jou. En geluk.

“Daar’s ’n verskil tussen bang en gefokus,” sê ek.

Sy kyk my net aan, ’n wenkbrou wat wil-wil lig.

Ek sien nie kans om verder te baklei nie. “Goed.” Ek beduie na die gastekamer. “Gaan trek aan, dan kan ons gesels.”

Sy verdwyn, kom vyf minute later terug, kaalvoet en in jeans en ’n T-hemp.

Ons gaan sit by die eetkamertafel.

“Wat het jy nodig?” Sy glimlag skeef. “Maar jy ken die reëls. Ek moor nie.”

Ek stry my skouers regop. “Ek sal jou betaal.”

“Ek het genoeg geld.”

Ek kry skielik weer koue voete. “Nee, los dit liewer. Ek sal regkom.” Ek staan op.

“Genade, Adriana, ek wil jou help. Jy het destyds als gelos om my te help. Mens vergeet nie sulke goed nie.”

“Dis als reg. Ek sal vir jou ’n suite in die Michelangelo bespreek.”

Sy kom staan voor my, blokkeer my pad. “Hoekom is jy altyd so donners trots en hardkoppig? Wat het jy nodig? Ek wil jou help. Hoekom aanvaar jy dit nie net nie?”

Ek bly stil, steeds onwillig.

“Adriana. Moenie dat ek smeek nie.”

My skouers sak. “Nou goed.”

Ek krap in die kombuislaai, haal ’n notaboek uit. Skryf ’n naam, twee adresse en drie telefoonnommers neer en gee die bladsy vir haar.

“Kan jy ’n ogie oor hierdie vrou hou? Hoe gouer jy by haar uitkom, hoe beter.”

Ranna staar verbaas na die papier. “Net dit? Dis al wat jy wil hê?”

“Ja. Jy en Boris kan in skofte werk.”

“Gaan sy weet ons is daar?”

“Nee. En sy moet ook nie.”

“Ek verstaan nie.”

“Pas haar net op, asseblief. Moenie dat sy iets oorkom nie. Dis al wat ek vra.”

“Goed, ek sal met Boris praat. Wat van Sarah?”

“Dis nie nodig dat sy betrokke raak nie.”

My halfsuster sal my nooit vergewe as haar dogter iets oorkom nie. En hoe minder mense weet wat aangaan, hoe beter.

“As jy so sê.”

Sy lees wat ek geskryf het. “Elizabeth Fey … Jy sal my meer inligting moet gee. Teen wie beskerm ons hierdie vrou? Wie is sy?”

Ek skud net my kop.

“Wat doen ek as iets gebeur? Bel die polisie?”

“Bel vir Boris.”

“Okay. Waarvoor moet ek op die uitkyk wees?”

“Iemand wat nie hoort nie, wat nie inpas nie. Iemand wat haar dophou. Ek dink nie sy’s in gevaar nie, maar ek wil seker wees. Dit sal my baie gemoedsrus gee om te weet jy pas haar op.”

Dis die reine waarheid. Ranna was nie verniet ’n lyfwag daardie tyd toe sy in Indië weggekruip het nie.

“Verder kan ek niks vir jou sê nie. Ook nie wie sy is nie, so moet asseblief nie vra nie.”

“Jy wíl niks meer sê nie.”

“Miskien,” gee ek toe.

“Eendag gaan jy iemand móét vertrou.”

“Wat is hierdie dan? Is dit nie vertroue nie?”

Ek kyk na die lang vrou voor my. Van ’n kind wat haar pa geskiet het tot ’n bekroonde fotograaf tot ’n voortvlugtige. Hoe gebeur dit? Hoe het mý lewe gebeur?

Ek ken die antwoord: die onvoorsiene … Omstandighede en gevolge. Dit wat geen pienk prinsesstorieboekie ooit sê met jou kan gebeur nie.

“Moenie betrokke raak nie,” waarsku ek. “As jy iets verdags sien, bel vir Boris en gee pad.”

“Moet ek skiet as dit nodig is? As dit nie anders kan nie?”

Ranna kon nog altyd goed tussen die reëls lees, die grys tussen die swart en wit sien. Daardie deel wat mense so maklik veroordeel, tot hulle dit self moet inkleur.

Ek haal diep asem, antwoord versigtig, al weet ek presies wat sy sal doen as iemand ’n vuurwapen naby haar uitruk.

“Jy moet doen wat reg is. Wat vir jou reg is. Wat jou veilig hou.”

“Okay.” Sy knik. “Ek sal so maak.”

Ek loop kamer toe, draai om by die deur. “Wees asseblief versigtig, Ranna. Moenie iets onnosels aanvang nie. Ek is dit beslis nie werd nie.”

Sirkus

Подняться наверх