Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 12

3 Johannesburg, vandag Ek wil nie die oproep na Boris maak nie, maar ek kan nie langer uitstel nie. Ek is weg by Crow’s sonder om vir hom te sê wat aangaan.

Оглавление

“Boris?”

“Wat’s fout? Hoekom het jy sommer net gery? Jy’t nie eers vir Zenani gesê waarheen jy op pad is nie.”

Ek wag dat sy woede bedaar. “Themba sê hy is hier.”

Ek hoor gewigte op die agtergrond val. Boris moet in die gym wees.

“Yasen?” Hy asem hard uit. “Kan nie wees nie, ek het hom dan self gesien. Hy’s in die tronk. Waar hy hoort.”

“Hulle het hom laat gaan. Hy is kamstig siek.”

“Siek? Beslis nie.”

“Ek weet. Hy het seker iemand omgekoop. Maar dit maak nie saak nie. Hy het ’n nuwe paspoort. Hy gebruik die naam Viktor de Klerk.”

“De Klerk?” Staal klap dofweg teen staal. “Wat gaan ons doen?”

“Volgens Themba is hy in die Kaap. Ek gaan kyk of dit waar is.”

“Ek kom saam.”

“Nee. Ek het met Ranna gepraat. Julle moet na Liesbet kyk.”

“Hy weet nie van Liesbet nie. Ek kom saam met jou.”

“Boris … Ek het een keer ’n fout gemaak en gedink ons sal veilig wees. Nie weer nie.”

Stilte.

“Hoe weet jy hy’s in die Kaap?”

“Ek sê mos. Themba.”

“En jy vertrou hom?”

“Hy het geen rede om te lieg nie.”

“Jy kan nie alleen gaan nie.”

“Ek bel jou sodra ek weet waar hy is.”

“Jy sal nie.”

“Ek sal. Belowe.” Dit voel skielik soos destyds. Toe ons eintlik niks meer as kinders was nie. “Hierdie keer weet ek presies wie en wat hy is.”

Boris vloek hard in die taal wat ek nooit heeltemal onder die knie kon kry nie. Ek bly stil, wag dat hy bedaar.

“Ranna kan die eerste paar ure doen,” sê hy uiteindelik. “Ek sal oorvat as dit donker word.”

“Dis wat ek ook gedink het.”

Hy brom skepties. “En ek gaan ’n paar oproepe maak. Ek kan nie glo hulle het hom laat gaan nie.”

“Moet net nie aandag trek of moeilikheid maak nie.”

“Ek sal nie. Wat van jou familie? Die Fouries? Zenani?”

“Tiny-hulle sal sorg.”

“Okay. Ek sal oor ’n uur by Ranna incheck. Bel my as jy in die Kaap is.”

“Ek sal.”

Die tweede oproep is makliker. Tiny van der Westhuizen ken my al baie jare, hy vra nie vrae nie.

“Oom Tiny?”

“My girl?”

“Kan jy reël dat iemand ’n ogie oor Crow’s en die Fouries hou?”

“Hoekom?”

“Sommer.”

“Wat van Sarah?”

“Daardie kasteel van haar is veilig genoeg, een man sal doen.”

“Hoeveel betaal jy?”

“Maak nie saak nie.”

“So jy soek die groot kanonne?”

“Asseblief. En die onsigbares. Niemand moet hulle sien nie.”

“Ex-cops okay? Of soek jy bikers?”

“Polisiemanne is reg.”

“Nou toe, pas jouself op.” Hy snuif hard. “Ek wil nie vir Sarah se ma blomme stuur nie. Daai oulady dink klaar jy’s gif.”

Sirkus

Подняться наверх