Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 15

ADRIANA 1 Johannesburg, September 1986 “Eina!” Die vrou langs my krimp ineen toe Jonas “The Hammer” Gumede ’n derde hou teen die ken kry. Sy kop ruk eenkant toe, sy oë dof. Sy skud haar kop. “Brian Mitchell he ain’t.”

Оглавление

“Brian Mitchell gaan wen,” sê ek, al ken ek haar nie. “Hy gaan Alfredo Layne uitslaan.”

Haar wenkbroue lig. “Alfredo Layne? Wat weet jy van boks?”

Sy bekyk my op en af. Ek weet wat sy sien. Uitgewaste trui, skoolrok waarvan ek die soom lankal moes laat sak het, nerfaf skoene, haasoor standerdsewe-geskiedenisboek op die skoot.

Ek kyk terug. Dis nie asof sy iets kan sê nie. Ek skat haar so veertig. Die helderblou rok is dun en effentjies. Nie Stuttafords nie, eerder Pep Stores. Blonde hare uit ’n bottel. En waar kom daai aksent vandaan? Dis Afrikaans, maar met ’n draai of twee wat ek nie kan plaas nie.

“Ek weet genoeg.” Ek praat harder, oor die geraas in die Hillbrow Boxing Gym. Oom Tiny wat Jonas uittrap omdat hy nie fiks genoeg is nie, sweterige mans wat hopeloos te swaar gewigte bench-press. “Ek kyk al jare lank boks.”

Sy knik, beduie na my boek. “Wat maak jy?”

“Ek leer. Ek skryf toets môre.”

Sy soek deur die mense op die vloer. “Oefen jou pa hier?”

“Nee.”

Sy kyk my vraend aan.

“Hy reis baie,” erken ek onwillig. “Vir sy werk. Ek kom eet middagete hier en leer tot my pa my kom optel of oom Tiny my gaan aflaai.”

Ek is nie lus om verder oor myself te praat nie. Netnou wil die vrou weet waar my ma is, of watse werk my pa doen. Ek maak my boek toe en staan op.

Sy keer my met ’n hand op my arm. “My naam is Daisy. Daisy Czerniak. Sommer net Daisy.”

“Adriana van der Hoon. Hallo, Daisy Cze- … Czerniak.” Ek sê haar van soos sy dit gesê het, met die ‘tje’ aan die begin. Dan kan ek die nuuskierigheid eenvoudig nie keer nie. “Waarvandaan kom jy?”

“Pole. Dit lê net so links van …”

“Ek weet waar dit is. Langs die Sowjetunie.”

Sy leun vorentoe asof sy my ’n geheim wil vertel. “Voor ons hiernatoe gevlug het, was ek die beste mesgooier in die hele Oos-blok. The Great Czerniak. Ek het in die sirkus gewerk. Ek kon op vyftien meter ’n lemoen se skil kerf. Net so, sjoep! My pa het my geleer. ”

Ek weeg haar op. Kan dit waar wees? Ek het haar al ’n paar keer hier gesien, maar meestal in oom Tiny se kantoor. En nog nooit met messe nie. Ek dink sy doen deesdae die gym se boeke. En watter boekhouer het al in ’n sirkus gewerk?

Sy lag vir my gesig. “Kom ons gaan eet. Jy vrek oor ham-en-kaastoebroodjies, nie waar nie?”

Hoe weet sy dit? Het sy my dopgehou?

Ek kyk van haar na oom Tiny. Sien hoe hy Jonas se boks­hand­skoene uittrek, omdraai en vir haar glimlag. Glimlag soos ek hoop Peet van Vuuren ook eendag vir my sal glimlag.

Ek bêre my boek in my tas. “Kan ek koffie ook kry?”

Oom Tiny het ’n nuwe masjien uit Italië laat kom wat die bone fynmaal en swart koffie uitspoeg met ’n dun lagie skuim bo-op. Dit ruik soos ek hoop die hemel eendag gaan ruik.

Sirkus

Подняться наверх