Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 7

RANNA 1 Kaapstad, vandag “Dis ’n kleinerige huis, maar die kombuis is lekker groot. Die vrou wat die huis laat bou het, is mal oor bak.”

Оглавление

Die eiendomsagent beduie by die voordeur in. Haar lang ligbruin hare wip met elke woord. Klipharde kuite onder ’n dowwe geel rok verklap dat sy gereeld fietsry, of met die honde, die kin­ders en ’n pedometer gaan stap.

“Die erf is ook lekker groot.” Sy glimlag vir Alex, moeg om by my reaksie te soek. “Die huis het dalk bietjie werk nodig, maar dis hoekom die prys so redelik is, veral vir Durbanville. Die eienaar is haastig weg Kanada toe en was nie nog lus vir opknap­werk nie.”

Alex haak sy sonbril voor by sy hemp in, beduie ek moet eerste stap. Hy stamp die stof van sy stewels af voor hy my volg.

“Hierdie is die laaste een,” fluister ek. Wie kon dink huis koop is so moeilik?

“Ek dink Hayley is ewe moedeloos,” kap hy terug, sy groen oë onleesbaar.

Ek wil in die middestad bly. Ek hou van die geraas, die verkeer, die naglewe. Die léwe, in hemelsnaam. Die hartklop, die altyd-besig, die gedrang, die gesels in elke taal denkbaar. Hierdie plek laat my keel toetrek. Rye strate. Rye huise. Rye motorhuise. Tuine met grasperke en mak gesnoeide roosbome.

Hoekom wil Alex hiér bly? Ek sal soveel makliker in die Kaapse middestad kan verdwyn as hier waar die bure net dalk koffie vir nuwe intrekkers aandra.

Nice mense is moeilikheid. Nice mense is altyd nuuskierig.

En hierdie huis is te groot. Wat maak mens met soveel kamers? Ons gaan mos meestal op die pad wees, in Johannesburg, of dieper op in Afrika in, waar mens die beste nuusstories kry. Wie gaan na hierdie plek kyk wanneer ons weg is?

Ek vee die krulle uit my oë, druk my hande in my jeans se sakke voor hy my frustrasie sien. My hare is al weer ’n ander kleur, dié slag rooibruin, en bedags dra ek bruin kontaklense. Alles om te sorg dat die polisie nie weer op my spoor beland nie. My ID sê ek is Francis Beekman, nie Ranna Abramson, voortvlugtige moor­denaar, nie.

Maar is dit genoeg? Is ek veilig?

Verstaan Alex dit dan nie?

Ek wens skielik ek was in Maputo, of Pretoria, eerder as hier op die stertkant van ’n Kaapse winter wat lankal lente moes gewees het. In Pretoria het die jakarandas laas maand al begin blom.

“Die sitkamer is onlangs uitgeverf.” Kayley … nee, wag, Hayley beduie na die mure asof ek van die roomkleur moet hou.

Ek knik en kruis my arms, draai in die rondte asof ek belang­stel. Mens raak seker als gewoond. En as dit Alex gelukkig maak …

Ek skraap my laaste bietjie entoesiasme bymekaar. “Hoe oud is die huis?”

Hayley frons. “Ek weet nie. Ek sal moet uitvind.” Sy beduie dieper die huis in. “Kom ons gaan kyk na die kombuis. Dis regtig die hoogtepunt van die huis.”

Die kombuis ís mooi, selfs ek kan dit sien. Pragtige nuwe kaste, ’n groot opwasplek en ’n blink, nuwe gasstoof. Help seker as mens kook en bak.

Hoekom is die eienaar Kanada toe? Hoekom is die prys so billik?

Ek leun teen die granietblad en soek tussen die teëls na tekens van bloed. Bekyk die bruin mat in die gang – dieselfde bruin mat wat jy in amper elke voorstedelike huis kry.

Hayley wys na die oop area voor ons. “Mens kan ’n agtsitplektafel hier inpas. Dan is daar genoeg plek vir al die kinders om saam te eet.” Sy leun oor na Alex en lag, asof sy ’n oomblik van wedersydse begrip met hom deel.

Ek wag dat hy sy wenkbroue lig, frons, maar in stede daarvan kyk hy stip na my.

Vier slaapkamers. ’n Reuse-eetkamertafel.

Kinders?

Is dít hoekom hy daarop aangedring het dat ons na huise ook kyk?

Ek draai om, gestroop van voorgee. Loop uit, straat toe, na waar die Land Rover staan.

Hy is langs my voor ek kan inklim. “Wat nou?”

“Jy weet wat nou. Kinders.”

“Ek het nooit eers daaraan gedink nie. Ek soek ruimte. Plek om asem te haal.” Hy tik op sy bors. “Boerseun. Plaaskind. Al daai dinge wat jy lankal weet.” Hy lag asof hy my uitgevang het.

“En kinders?”

Hy vat aan my arm, dwing my om hom in die oë te kyk. “Hayley het dit gesê, nie ek nie.”

“Maar?”

Hy dink bietjie. “Nie nou nie. Eendag. Miskien. Wie weet.”

“Ek raak nie jonger nie.”

“Jy’s moeilik. Later … baie later. As jy veertig is? Die mediese wetenskap is wonderlik. En ek sê mos. Miskien.” Hy trek sy skouers op. “Of dalk glad nie. Ek weet dinge is moeilik met ons twee se geskiedenis.”

“Veertig? Ek kan nie so ver vooruit dink nie.”

“Dis nie so ver nie. En daar’s niks fout met vooruitbeplanning nie.”

Hayley het ons buitetoe gevolg. Alex beduie: gee ons ’n rukkie.

Sy haak haar handsak oor haar voorarm. “Natuurlik, dis reg. Gesels gerus eers.” Sy tol op haar hakke om en verdwyn weer in die huis.

“Ons het nog nooit oor kinders gepraat nie.” Ek leun teen die Land Rover, geniet die lou son wat deur die wolke breek. “Wil jy kinders hê?”

“Ek weet nie. Maar ’n dogtertjie so mooi soos jy sal my om haar pinkie draai.” Hy vang my hand. “En jy?”

“Miskien … Maar nie só nie. Nie met die polisie wat my soek nie.”

“Ons het nog altyd ’n plan gemaak.” Sy vingers woel onder die silwerarmbande in. Vryf die vel liggies.

“Ons kan dit nie aan ’n kind doen nie. Ons is heeltyd op die pad.”

“Ons koop mos nou ’n huis. Gee dit ons nie bietjie vastig­heid nie?”

“Kaptein AJ Williams het my laas amper vasgetrek. Sy’s steeds oortuig dis ek wat al daai moorde gepleeg het.”

“Sy’s in Pretoria. Buitendien, daar’s so min bewyse teen jou dat ek nie weet of die polisie jou kán arresteer nie. En jou nuwe identiteit is waterdig, Adriana weet wat sy doen. Frankie Beekman het selfs haar eie geboortesertifikaat.”

Ek stry my hand los uit syne. “Wil jy die sisteem toets en uitvind of jy reg is?”

“Nee, ek wil …” Hy sug lank en hard. Kom staan voor my. Kyk my ses voet met gemak in die oë.

“Ranna … Ons wals nou al weer al om die probleem.”

“Nee, ons doen nie. Ek’s onseker oor kinders en jy is nie. My pa was ’n bliksem. Wat as ek soos hy is?”

“My pa was ook ’n bliksem en ek’s beslis nie een nie. En ek ken jou mos, ek weet wie en wat jy is. Jy’s glad nie soos jou pa nie.”

Ek antwoord nie.

Hy kyk lank na my. Haak sy sonbril uit sy hemp en sit dit op.

“Ek sal vir Hayley sê ons stel nie belang nie. Jy’t nou so groot geskrik, jy hoor nie ’n woord wat ek sê nie.”

Sirkus

Подняться наверх