Читать книгу Sirkus - Irma Venter - Страница 23

RANNA 1 Pretoria, vandag Adriana antwoord nie haar foon nie. Ek kyk op my horlosie. Sy vlieg nog nie. Ek tik vinnig ’n boodskap om haar te vertel wat gebeur het en klim in die Hilux.

Оглавление

Ek moet vir Boris bel, maar voor ek dit doen, wil ek Sarah se hulp vra. Maak nie saak wat Adriana gesê het nie, Sarah sal hier­die ouens kan opspoor. Ek het die BMW se nommerplaat gememoriseer, en daar was ’n e-tolskyfie op die windskerm. Sarah kan Liesbet se foon ook trace, hoewel dié waarskynlik al vernietig is.

Ek ry Pretoria-Wes toe asof die duiwel op my hakke is. By Sarah se woonstelblok leun ek by die venster uit en druk die interkom se vergeelde knoppie.

Geen antwoord nie.

“Komaan! Waar de hel is jy?”

Ek druk die knoppie weer. Soek teen die gebou op, na die boonste verdieping se ry vensters. Sarah bly alleen in die hele woonstelblok, gekoop met geld waaroor ek liewer nie uitvra nie.

Ek haal my foon uit. Bel twee keer voor sy antwoord.

“Wat?”

So sjarmant soos altyd.

“Dis ek. Maak oop.” Ek klim uit die bakkie en waai.

Uiteindelik skuif die hek oop. Ek parkeer, neem die hysbak tot op die derde vloer.

Mega en Byte, haar Dobermanns, wag my by die woonstel se voordeur in. Sarah lyk asof sy nou net wakker geword het.

Ek sit my foon, rugsak en pistool op die kombuistoonbank neer, verduidelik so goed ek kan wat aangaan. Sy krap haar kort rooi hare nog meer deurmekaar terwyl haar frons al dieper word.

“En nou antwoord Adriana nie haar foon nie,” maak ek my storie klaar. Ek beduie na my vuil jeans en hemp vir meer geloofwaardigheid. Bly liewer stil oor my seer ribbes en rug wat seker nou al pers is.

“So Adriana is weg?”

“Nee, Liesbet is weg.”

“Hoekom antwoord Adriana dan nie haar foon nie?” Sy vryf oor haar oë, bloedbelope van seker te min slaap. “Wanneer is hier­die vrou – Liesbet – ontvoer?” Sy gaap lank.

Ek wil rondtrippel van ongeduld. “Omtrent ’n uur gelede.”

“En jy sê sy lyk soos Adriana? Adriana het nie kinders nie.”

“Ek het gesê sy lyk soos familie, dis al. Soos wat jy en Adriana lyk soos familie. Ewe kort en hardegat.” Ek loop yskas toe en haal ’n bier uit. Drink dit halfpad leeg. “Buitendien, weet jy als wat daar te wete is van jou tante?”

“Nee,” erken sy onwillig.

“Nou begin soek dan. Begin by die BMW se registrasienommer.”

Sy loop langtand na die tweede rekenaar in die ry rekenaars teen die muur, sê oor haar skouer: “Jy kan solank vir my tee maak.”

Ek rol my oë asof ek sewentien is, maar gaan sit tog die ketel aan. Sarah, ’n volslae naguil, leef van rooibostee, Coke en wegneemetes.

Ek drink die Amstel klaar, sit vir ons bekers reg en gee vir die honde beskuitjies terwyl ek wag dat die ketel kook. Gooi water oor die teesakkies. Terwyl die tee trek, gee ek vir die honde nog beskuitjies. Sarah moet maar ’n ekstra rondte met hulle gaan draf.

Ek sit die beker langs haar neer en gaan wag op die bank. Drink my tee in stilte. Soos my spiere ontspan, draai ek my nek versigtig van links na regs. Eina. Ditto vir my linkersy.

“Die BMW se laaste tolhek was voor die Buccleuch-wisselaar,” sê Sarah. “Lyk my die ouens is Joburg toe, M1. Die vrou se foon is nog aan. Coronationville. Dis ’n smartphone, so ek het die GPS-koördinate.”

Sy skryf die nommers op ’n stuk papier neer. Toe ek dit by haar wil neem, ruk sy die papier buite my bereik. “Het jy hulp nodig?”

“Ek wil net gaan kyk wat aangaan.”

“Wat het Adriana gesê?”

“Bel vir Boris. Ek sal dit nog doen. Maar hy gaan my skiet omdat ek Liesbet verloor het.”

“Bel nou.” Sarah beduie na my foon op die toonbank, die papier steeds agter haar rug.

“Okay, okay.” Help nie ek stry nie. Ek soek sy naam op my adreslys. “Hoekom is hy soveel beter as ek?”

“Hy ken Adriana al jare lank. Hy sal weet waar om te soek.”

“Maar ons soek nie na Adriana nie.”

“Ons soek na iemand wat sy ken. Iemand belangrik. Daar’s nie baie sulke mense in haar lewe nie.”

Ek druk die foon teen my oor. “Dit lui. Wat is Boris nou eintlik? Haar lyfwag?”

“Dink so. Ek het nog nooit gevra nie. Ander mense se besig­heid is ander mense se besigheid. Try dit so nou en dan.”

“Maar is jy nie nuuskierig oor hulle nie? As hulle saamslaap, steek hulle dit dêm goed weg. Jy …”

Boris antwoord. “Ranna? Is Liesbet okay?”

Ek moes geweet het dat dit sy eerste vraag gaan wees. “Vier mans het haar gevat. By die kerk.”

Ek wag vir die verwyte, maar dit kom nie. Net ’n string skelwoorde in ’n taal wat ek nie ken nie.

“En Adriana?” vra hy.

“Ek kry haar nie in die hande nie. Net voor die mans by die kerk ingekom het, het sy gebel en gesê ek moet vir Liesbet vat en padgee. Ek het haar twee keer gebel en ’n sms gestuur, maar nou is haar foon af. Dalk het sy dit vroeg afgesit vir die vlug.”

“Sy sal nie haar foon afsit voor sy regtig moet nie, nie vandag nie. Shit!”

“Wat gaan aan, Boris?”

“Waar is jy nou?”

“By Sarah. Ons probeer Liesbet se foon trace. En die BMW wat haar gevat het.”

“Gee my ’n uur. Sê vir Sarah om Adriana ook te probeer trace. Ek moet seker maak haar familie is veilig. En Zenani. As hy Liesbet gevat het … Wie de hel weet wat hy nog beplan.”

“Hy?”

Boris ignoreer my vraag. “Maak seker Sarah bly by die huis.”

“Moet ons nie die polisie bel nie?”

“Nee.”

“Hoekom nie?”

“Want dis Adriana.”

Die foon gaan dood.

Sarah staar na my “En?”

“Hy sal oor ’n uur hier wees.”

“Dis lank.”

“Hy sê hy moet eers seker maak Zenani en jou ma-hulle is vei­lig. En jy moet blykbaar net hier bly.”

Sy byt fronsend aan haar duimnael. Gaan krap dan in ’n kombuiskas en haal ’n suigstokkie uit, druk dit in haar mond. Ek is verlig dat sy nie dadelik na haar ma se huis wil ry nie.

Dis asof sy weet wat ek dink. “My ma en my sussie is in die Magaliesberg vir twee weke. My broers sal okay wees, hulle ken skaars vir Adriana. My ma het seker gemaak sy kom nie naby hulle nie. Sy sê een kind – ekke – is genoeg.”

Dis die eerste stukkie goeie nuus vir die dag. “Dalk moet jy vir Boris sê jou ma-hulle is veilig.”

“Ek sal hom text.”

Sy haal haar foon uit, draai haar rekenaarskerm dat ek kan sien. “By the way, ek het Liesbet Fey gegoogle. Jy’s reg, sy lyk nogal bekend.”

“Ek het jou mos gesê.”

My foon lui. Geen nommer wys op die skerm nie. “Hallo?”

“Ken jy ’n Yas … Yasen Todorov?” vra ’n onbekende manstem.

“Nee.”

“En ’n Viktor de Klerk?”

“Nee.”

“Thought so. Too good to be true.”

“Wag, hoe het jy my nommer in die hande gekry?”

“Hierie mal vrou het by Marlboro verby my kar gecharge, die cops op haar hakke. Sy’t gesê jy sal my R10 000 gee as ek jou bel en vir jou sê jy moet hierdie Viktor-man track. ‘And don’t call the cops,’ het sy gesê.”

“Hoe het die vrou gelyk?”

“ ’n Shorty, reguit hare so tot in die nek, million-dollar body. Maar haar gesig … sy’t so ’n faint scar oor haar wang.”

Sonder twyfel Adriana. Wat de hel gaan aan?

“Gee my jou nommer. Jy hoef nie te worry nie, jy sal jou geld kry.”

Sirkus

Подняться наверх