Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 10

5

Оглавление

Uit die bloute vra Andri my eendag by die skool of ek weet dat sy ’n geheim het en of ek wil weet wat dit is. Ek is ietwat uit die veld geslaan, want wat is die nut van ’n geheim as jy dit vir iemand anders oorvertel? Maar toe kom ek agter Andri se geheim is iets anders as wat ek in my gedagtes gehad het. Vir haar was avontuur ’n geheim. Om dinge te doen, om iets uit te wys, om jou te verbeel dat gewone dinge vreemde goed is. Dít was alles deel van haar wêreld van geheime. Ek dink dit is omdat sy agtergekom het dat ek intens belang stel in haar geheime wêreld dat sy my in haar ver­troue geneem het. Ek het heeltyd vrae gevra, om haar gedraai-draai om iets uit te vind of agter te kom, al was dit maar moeilik vir my om sommer net met haar te praat. Ek wou byvoorbeeld bars om te weet wat gebeur het toe sy weggeloop het, maar ek was te bang om te vra.

“Wil jy dit sien?” vra sy toe ek sê ek wil weet wat haar geheim is. “Wil jy saamkom?”

“Saamkom? Waarheen?”

“Ek sal jou wys. Kom Sondagmiddag ”

Daardie middag was ek voor hulle deur. Sy het saam met een van die werfhonde, Oubaas, ’n kruis tussen ’n Duitse herdershond en ’n skaaphond, oor die werf gehardloop, reguit na die strooise. Half­pad soontoe het sy na my omgedraai en ’n entjie teruggeloop tot by my. “My Ma-hulle en susters lê op hul beddens en slaap of lees,” het sy gesê. “Mieta is besig in die kombuis. Ons moet nou gaan.”

“Maar waarheen?”

“Jy sal sien. Ons moet eers net vir Jester kry.”

Jester! Waarom hy? Maar dit was toe dat ek hom die eerste keer gesien het.

Oubaas het vooruit gehardloop na die tweeslaapkamerstroois van Mieta en haar mense. In die middagson het Jester op sy hurke in die grond sit en krap. Hy het strepe in die stof getrek met ’n lang, reguit stok. Op sy kop was ’n veelkleurige mus skuinsgetrek. Elke kleur van die reënboog. Dit was ’n mus wat met die hand van allerhande oorskietwol gebrei is. Seker Mieta wat die afvalwol van tannie Emily se breiwerk aangedra het. Of het een van Andri se ouer susters dit gebrei vir ’n skooltaak, en dit toe later aan die outjie gegee vir sy verjaardag of vir Kersfees?

Daar was niemand anders buite die huisie nie. Die res het seker ook maar gelê en slaap in die middaghitte, vol geëet aan die oor­skietkos van die plaashuis se kombuistafel.

Jester het opgekyk van sy tekening in die stowwerige poeier­grond toe hy die hond se asem ’n ent van hom af hoor jaag. Hy het eers geskrik, maar toe sien hy ons.

Ek kon sien hy wou iets vra, maar Andri wink net vinnig met haar arm en wys dat hy saam met ons moet kom.

“Wat?”

Kom!

Sy wys weer met haar hand en roep hom nader. “Ons gaan soon­toe!” Sy wys op na die kloof wat agter die erf in die berge in ver­dwyn. Ek kan aan sy gesig sien dat hy dadelik geweet het waarvan sy praat. Was hulle twee al baie keer alleen daar? het ek gewonder. Of net die kere as hy haar gaan soek het om terug huis toe te bring?

“Is jy mal?” Jester kyk haar aan asof sy ’n vreemdeling is. Hy pluk sy mus af en ek sien sy kop is byna heeltemal glad geskeer, net sulke fyn haartjies.

“Wie’t jou hare gesny?” vra Andri.

Hy antwoord haar nie en druk die mus vinnig terug op sy kop. Dit reënboogmus het ’n lang punt wat na agter val. Hy lyk soos die kleinste enetjie van die sewe dwergies in my storieboekies. Ek kan sien Andri wil lag, maar dan is sy weer ernstig. “Kóm nou!” sê sy. “Of ons gaan alleen.”

Voor hy nog ’n woord kan sê, het sy al ’n ent in die rigting van die voetpaadjie gehardloop. Ek spring weg agter haar aan, en toe ek oor my skouer kyk, sien ek hy kom ook, met die stok in die een hand en met die ander druk hy die mus stewiger vas.

“Starig!” skree hy. “Jy hol te vinnig.”

Sy draai skielik om en druk haar wysvinger op haar lippe. “Sjad­dap. Wil jy hê jou ma moet hoor waarheen ons gaan? As mý ma uitvind, is dit groot moeilikheid.”

“Of jou pappa …” fluister hy terug.

Gou spring sy weer soos ’n dassie weg oor die polle en klippe. Ons hardloop sonder om ’n woord te praat tussen die volstruiskampe deur en glip agter die laaste stoor verby waar die voetpaadjie begin. Tussen die rooi trekker en die lusernbaler deur. Oubaas agterna.

“Voetsêk weg daai hond,” sê Jester dan.

Andri gaan staan stil, buig so agtertoe om die hond te sien, maar dan val sy weer weg in die kronkelpaadjie wat voor haar uitgetrap lê. “Maak vinnig!” roep sy, sonder om terug te kyk.

“Wa’heen gat ons?” roep Jester saggies.

“Kom, jy sal sien.” Sy hardloop nog vier of vyf tree verder en steek meteens vas in haar spore. Ek moet vinnig briek, maar Jester kom van agter met ’n spoed en sy kop klap hard teen myne.

Die bleddie eierkop! Kan hy nie kyk waar ek is nie?

“Eina, fokkit.” Die wolmus val agter hom op die grond.

Andri kom tussen ons staan. Sy het nie gehoor wat hy sê nie, maar gryp hom met een beweging aan sy trui se kraag en ruk hom aan sy bors vorentoe. Hulle neuse raak feitlik aan mekaar.

“My kop!”

“Luister, klipkop,” fluister sy in Jester se gesig.

Hy wil huil, lyk dit, maar hy sluk-sluk en kyk Andri vas in die gesig.

“As jy één woord sê van vandag maak ek jou dood …”

Hulle kyk mekaar in stilte aan. Hy verstaan niks. Sy wag op ’n antwoord.

“Hoor jy my, klein strontgat?”

Jester kyk haar onbegrypend aan. Sy het hom nog steeds aan die trui beet. Haar gesig is so naby dat dit vir hom seker uit fokus is. Sien hy ook net die dowwe blou van haar oë en ruik hy ook die soet asem deur haar saamgeperste lippe? Ek het haar nog nooit só hoor praat nie. En dit lyk dan amper of hulle lippe aan mekaar gaan raak.

Dan praat Jester: “Ja, kleinmies,” sê hy.

Andri los sy trui en stamp hom vies agtertoe sodat hy struikel en byna val.

“Nou toe,” raas sy, “bly by my.” Sy draai vorentoe, maar swaai dan dadelik weer om na hom. “Ek is nie jou kleinmies nie!”

Hy gooi die stok in sy hand eenkant toe en ’n verskrikte tortel­duifie fladder van agter die groot klippe op en vlieg met ’n luide vlerkslag oor ons koppe weg. Andri kyk die voël agterna, sug en sê: “Nou is alles bederf. Kom ons gaan terug.”

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх