Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 7
2
ОглавлениеÊrens aan die voet van die Swartberge, ook so twintig kilometer van Oudtshoorn, nog voor jy by die Kangogrotte kom, lê ’n ander plaas. Nes jy die pad na links vat om met die Swartbergpas by Prins Albert uit te kom, lê ’n massiewe stuk vrugbare grond ’n kilometer of twee van die grootpad af. Dié plaas word presies middeldeur gesny deur ’n rivier wat daardeur beur. Sterling Gold lê in ’n vallei met potblou lusern en uitgestrekte groen tabaklanderye weerskante van die rivieroewer. Hoër op in die vallei is vierkantige draadkampe afgespan vir die volstruise. Hier en daar staan skure van wisselende groottes waarin allerhande implemente gebêre word. Aan die agterkant van die vallei, soos ’n persblou toegetrekte gordyn voor ’n venster, steek die enorme spitse en koppe van die Swartberge teen die ysblou lug van die Karoo af.
Die hoofopstal, die kroon van die plaas, staan hoog teen ’n alleenstaande heuwel. Die kurwes van die gewels is inderdaad ’n ryklik versierde kroon bokant die breë, koel stoep van waar die bewoners kan afkyk op die rivier regs daarvan. ’n Lang plaaspad volg die kronkels van die rivier tot by die opstal waar ryk gaste voor die groot grasperk onder reuse koel eike- en dennebome kan parkeer.
In die smeulende somermaande droog die rivier soms op, maar dit reën net ’n druppel of twee in die boberge dan lóóp die rivier. Verder af, anderkant die plaashek, loop die stroom af deur die Schoemanspoort en word dit uiteindelik die Grobbelaarsrivier wat deur Oudtshoorn se middedorp vloei. Aan die een kant van die rivier is die ouer deel van die dorp en aan die ander kant die nuwer Wesbank.
Op somersdae styg die kwik tot by die veertig grade, maar die landskap word laatmiddag afgekoel deur ’n lafeniswindjie wat hoog uit die klowe van die Swartberge afrol. Winters is straf. Alles, plant, mens en dier, word dan groenvaal asof ’n laag grys oor alles kom lê het. Die klipharde ryp en die kort sonskyndae pers die lewe uit elke stukkie groen totdat net droë stoppels oorbly, die landskap ’n verbleikte kleurfoto.
Dit was op een van hierdie verbleikte dae dat die geweerskoot hoog bo in ’n kloof van die Kangovallei geklap het en soos donderweer in die vallei af weergalm het.
Nog nooit het ’n skoot so hard in daardie kontrei weergalm nie. Nie eens as daar in die winter jag gemaak is op die rondloperluiperds op die hoë klippe nie, of as daar geskiet is op die bosduiwe in die wilgerbome nie.
Twee dae later eers is die lyk opgespoor, waar dit half regop vasgepen was voor ’n plat klip wat soos ’n natuurlike kateder tussen twee groot rotse gestaan het. ’n Dooie predikant op ’n klipkansel wat nikssiende oor sy gemeente uitkyk. Stokstyf en yskoud.
Ek kon my dit voorstel: Die lyk, met die gapende wond agter die regteroor, wat uitstaar oor die groot plase weerskante van die rivier en al die bedrywighede daar onder tussen die landerye, in die volstruiskampe, die pakstore, in die voorhuise en slaapkamers, tot in die kombuise en studeerkamers van die opstalle in die vallei, met glasige oë dophou.