Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 18

13

Оглавление

Soms ry ek smiddae ná skool met my fiets af tot by die teerpad aan die onderkant van ons plaas wat soos ’n slang al langs die rivier afkronkel. Al die verkeer na en van die grotte gaan hierlangs, nie net motors nie maar ook busse. Groot busse. Toerbusse. Springbok Tours/Toere. Holidays for Europeans. Stampvol in luuksheid gelaai met mense wat vakansie hou en dan na interessante plekke geneem word. En een van daardie plekke waarheen mense graag kom, is die Kangogrotte.

Wie is hierdie mense wat op busse vakansie hou? By die huis gaan vra ek vir Ma. Toe sy sê dis mense van oorsee, het ek eers gedink sy bedoel mense wat op Mosselbaai bly. En toe vertel Pa my ook die grotte is ’n wêreldbekende besienswaardigheid vir toeriste. Hulle kom van Duitsland, Engeland, Frankryk en Amerika om hier te kom kyk hoe ons streek lyk. Dit is omtrent die eerste keer dat Pa met my gepraat het of ek al groot is en genoeg verstand het om te verstaan. Die meeste van hierdie toeriste het nog nie eens ’n volstruis gesien nie, sê Pa. Dalk net op ’n prentjie. Of ’n verdwaalde enetjie in hulle koue Europese dieretuine. En dis waarom hulle ook op die volstruisplase met die bus stop en dan na die voëls kyk.

Dames en here, onthou daar’s 24 hoendereiers in een volstruiseier!

Waaat …?

Ja, en die dop is so sterk dat die grootste mens daarop kan staan!

Neee …!

Ladies and gentlemen, die volstruis voel geen pyn as die vere ge­pluk word nie.

Haai …?

’n Mens pluk nie ’n volstruis soos wanneer jy ’n afkophoender se vere uittrek vir die pot nie.

Ha-ha-ha …!

Nee, madames et monsieurs, die mannetjiesvolstruis se vere word twee keer per jaar gepluk. Vir versierings.

Oee …!

Pluk is dalk nie die regte woord nie. Die vere word netjies ’n entjie van die vel afgeknip.

Aaa …!

Dan droog daardie stukkie skag uit, en word dit later net eenvoudig met ’n tangetjie uitgetrek.

Ooo …!

Die vaal ou wyfievolstruis se vere word slegs gebruik om verestoffers mee te maak. Die ou vroutjies by die huis stof mos maar alte graag af.

Siesss …!

En, meine Damen und Herren, die velle word gebruik vir leer-items: handsakke, gordels, skoene, baadjies, en natuurlik kan u van­dag hier ook een van daardie luukse beursies koop om u ponde en dollars in te bêre.

Mmmmm …!

En nou, almal, die hoogtepunt van die dag! Volstruiswedrenne! Kom plaas u weddenskappe op die mooiste voël wat u dink die vin­nigste kan hardloop.

Klap-klap-klap …!

En as ons hier klaar is, kan u op een van die mannetjies kom sit vir ’n pragtige aandenkingsfoto vir u album!

Klap-klap-klap …!

Eendag wil ek ook op so ’n bustoer gaan. Nie na die volstruisplaas nie. Nie na die Kangogrotte nie! Maar na ’n ander land oorsee. Ja, dan stop die bus by die Eiffeltoring waar ons pannekoek by een van die stalletjies koop, by die Louvre besoek ons Napoleon se kamers en by die Moulin Rouge skree ons saam met die hoogskopmeisies! En daar kan ek sommer self gaan kyk hoe lyk ons vere op die dansende meisies.

Terwyl ek terugdink aan daardie dae op die plaas, besef ek dat ek nie eens geweet het van die Louvre of die Eiffeltoring of wat ook al nie. Maar iets in my het my aangevuur om te probeer agterkom of daar wel iets opwindends en groter agter die pers Swartberge lê.

En as ek dalk vir mister rondebrilletjie daar raakloop, dan sal ek vir hom sê: “Bonjour, monsieur. Remember me? I am the boy from Africa where you bought the nice feathers for the dancing girls.”

En dan sal hy my hartlik uitnooi: “Whiéé-whiéé! I remember! Come, you look at all ze pretty girls tonight.”

En dan sal ek opgewonde antwoord: “Merci … monsieur slak­vretertjie! Jy’s ’n baie mooi dandy boy!”

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх