Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 12

7

Оглавление

“Ekke gaan vir julle konsert hou.”

Uit die bloute sê Jester dit, en ek en Andri kyk hom aan. Konsert?

“Dja, Mêrrim! Dja, Kleinbaas!” Hy sê dit met sulke rollende erre en ’n vreemde aksent. “En djulle gat djulle gatte af lag vi my.”

Hy maak ’n buiginkie met sy bolyf, die een arm oor sy maag ge­vou, die ander arm agter sy rug ingevou. Sy wange bol, asof hy iets inhou, iets wat wil uitspring.

Wat nou? dink ek en kyk vir Andri. Sy sit hom ook so en kyk, so asof sy hom die eerste keer raaksien.

Jester maak ons sit aan die agterkant van die afdak waar die lusernbale tot teen die sinkplate opgestapel staan. Dit ruik na hooi en beesmis en lusern en hoenderkos – alles deurmekaar in een heerlike mengsel wat vir my die reuk van die plaas is. In die verte dreun ’n trekker en klink die beeste se gebulk op.

Ons sien nou Jester het twee bale voor op die grond langs mekaar gepak. Die verhoog. Op ’n ander baal, eenkant, sit ek en Andri. Die gehoor.

Toe hy sien dat ons gereed is, maak hy sy oë toe en haal diep asem. “Damus en djeure …!” sê hy en die reënboogmus op sy kop bewe soos hy die woorde uitspoeg.

“Appels en pere!” roep Andri en klap haar hande asof sy iets gaan kry.

Jester kyk haar vies aan. “Dis mý konsert,” sê hy.

Ek kyk vir Andri. Al lyk sy ’n bietjie soos ’n rowwe plaasseun is dit asof haar gesig helder is soos ’n poel water, haar wit hare so ’n goue kroontjie en haar blou oë soos skynende liggies. Twee sterretjies in ’n helder verligte hemel.

Jester trek my aandag weer met ’n beweging. Hy strek sy arms en hande wyd uit soos wanneer ’n mens iemand wil vasgryp. “Maak djulle gereed vi dierie skouspel van dierie eeu!” Hy praat weer so snaaks. Dan spring hy hoog op, draai in die lug om sodat hy met sy rug na my en Andri terug op die baal land. Hande op die heupe.

Andri kyk na Jester, haar mond ’n bietjie oop. En ek kyk na Andri se gesig.

Wat is jou regte naam? dink ek.

Maar Andri sien my nie eens raak langs haar nie. Vir haar is ek nou onsigbaar. Sy kyk net na die mal ding voor ons. Na die op­gewende hotnotsapie wat sy twee duime by sy broekrek indruk en dan skielik – my kop ruk – so met een beweging sy broek tot op sy enkels afruk.

Ek kyk. Jester dra nie ’n onderbroek nie.

Hy buk vooroor. Sy kaal bruin boude staan styf soos twee warm ysterklippe hoog in die lug, reguit na Andri en my toe, met die bruin ogie daar in die middel wat reg na ons wys.

Ek hoor hoe Andri haar asem intrek.

Jester buig verder ondertoe sodat hy kop onderstebo tussen sy knieë deur vir ons kan kyk. Van tussen sy bene deur sê hy: “En da, liewe damus en djeure, siet u nou my se póéphól!”

Ek en Andri sê niks. Ek kyk vir haar; haar mond is weer oop. Dan klap sy met haar regterhand haar oë toe. “Jou vark!” skreeu sy en spring op.

Ek sien Jester het weer sy broek opgetrek. Hy steur hom nie aan Andri nie en maak ’n buiging. “Damus en djeure,” skreeu hy. “U mag nou ma u se hande bymeka sit vi ’n gróóót applous.” Hy wag dat ons hande klap.

Andri is nie meer langs my nie, maar ek bly sit. Kyk vir Jester en hy kyk vir my. Van iewers op die werf hoor ons Andri se stem: “Ek … gaan jou … ma … vertel, jou … vark.”

Jester bly staan. Hy lyk effens hartseer. Ek is jammer dat ek nie saam met Andri weggehardloop het nie, maar sy was te vinnig vir my. Ek staan op.

“Jou vááárrrk,” hoor ons haar nog een keer en dan klap die kombuisdeur hard.

Ja, jou vark, dink ek. Ek kyk na die plaashuis toe en dan weer terug. “Wat is jou van?” vra ek vir Jester, sommerso asof die woorde vanself uit my mond kom sonder dat ek daaroor gedink het.

“My van?”

Ja, elke mens op aarde het ’n naam. En ’n van. Dis wie jy is, jou dom platkop.

“Meier.” Die erre rol so van sy tong af. “My naam is Jester Meier.”

Hy kyk my grootoog aan, asof ek nou iets gaan doen. Maar ek wil niks doen nie. Ek bly hom net aankyk. Jy het Andri laat weg­hardloop, dink ek.

In my kop het die woorde begin sing: Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier, jou tetkop is ’n volstruiseier!

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх