Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 15

10

Оглавление

Ek het gehoor dat pa ’n afspraak met mister Pocock op die dorp het. Ek móés net saam, want Pa sou saam met oom John Bruwer ry, en dit beteken dat ons met sy nuwe Mercedes 280SE sou ry – die enigste kar in sy soort in die hele Klein-Karoo. Die motor was groot en wit en splinternuut. Dit was een van die mooiste karre wat ek nog gesien het. Die Bruwers kon so ’n motor maklik bekostig, want hulle was die rykste boere in die hele Kangovallei en Schoemanspoort. En dit wat so ver buite my bereik was, was so aanloklik. Maar dit was eintlik die tweede rede waarom ek wou saam dorp toe. Die eerste rede was die hele ding met die volstruisvere.

Ek wou gaan hoor wat Pa met mister Pocock bespreek oor die Moulin Rouge. In my verbeelding kon ek al sien hoe mister Pocock vir Pa sê dat hy self die vere in Parys moes gaan aflewer, en dat ek kon saamgaan! Ek weet nie van waar hierdie lawwe idee kom posvat het in my kop nie, maar nadat ek die foto in oom John Bruwer se boek gesien het, was die “vieslike kroeg” net iets wat ek móés sien.

My opgewondenheid is gou-gou kortgeknip toe Pa aankondig dat ek beslis nie kon saam nie, want die planne het drasties ver­ander. Dit is ’n vergadering slegs vir mans. Pa en oom John sal Vrydag­oggend vroeg in dorp toe om met die prokureur te praat. Van daar gaan hulle twee Kaapstad toe ry om met die een of ander man, van in- en uitvoere van die koöperasie, die papierwerk af te handel. Ek was nog min in die Kaap, maar is bly dat Pa die geleentheid kry om ook groot geld te gaan maak, soos die Bruwers al jare lank doen. Daarom aanvaar ek dit dat ek by die huis moet bly. Hulle is in elk geval Sondag weer terug.

En toe gebeur die ondenkbaarste ding. Pa en oom John sou so twaalfuur die middag terug wees op die plaas. Om hulle verwagte sukses van die naweek te vier, saam met die vooruitsig op ’n goeie vere-oes, nooi tannie Maggie Bruwer ons vir Sondag se middagete Sterling Gold toe. Dit sal die eerste keer wees dat ons gesin daar gaan kuier. Trouens, dit sal die heel eerste keer wees dat ons as vriende, as bure, en Pa as sakevennoot, ons voete daar gaan sit. Ek kan my kwalik inhou en tel die ure ongeduldig af. Op ’n manier is Ma ook senuagtig. Ek kon dit agterkom toe sy my reeds van vroegdag af aan­jaag om my klere reg te kry vir die okkasie. Met Pa nog op pad vanaf Kaapstad, gaan ons ook nie eens kerk toe daardie og­gend nie, soos dit ons gewoonte is. Ma het my nietemin vir die ete in kerk­klere ingedwing. Ons is lank voor twaalf al aangetrek en ge­reed, en ek probeer in stille opgewondenheid die tyd omsit in die sit­kamer, waar ek doelloos in ’n ou Landbouweekblad blaai. Maak nou geld uit sojabone.

Ons ry op ons eie Sterling Gold toe, want ons sal Pa sommer daar kry, betyds vir middagete.

Net voor twaalf draai die wit Mercedes van die Kaap af by Sterling Gold se hek in. Dit kom stadig in die lang laning op, onder­deur die koepel bloekombome. Weerskante van die pad staan die gras geil en groen. Aan elke kant ’n draadheining waaragter troppe volstruise wei; een of twee mannetjies hardloop ’n ent saam met die Mercedes teen die draad op om die kar te jaag. Die kar blink in die skerp middagson en hou krakend voor die plaashuis se stoep­trap stil. Pa en oom John klim uit; ek en Ma en tannie Bruwer het soos ’n verwelkomingspartytjie by die voordeur gestaan om hulle te groet.

Oom John steek sy sterk hand na my uit en groet my vriendelik met ’n stewige handdruk: “Middag, jongeheer.”

Ek voel ietwat ongemaklik, want ek weet nie wat om terug te ant­woord nie. En ek was al sonder toestemming in sy studeerkamer. Dit laat my skuldig voel. Toe Pa verbykom, trek hy net sy hand deur my hare en sê niks nie. Hy lyk nie eens bly om terug in die vallei te wees nie. Ek kan sien dat Pa se gesig anders is. Hy lyk partykeer so as hy moeg is.

Ek kan nie wag dat die ete begin nie. Die geure van Mavis se kos het lank reeds die groot plaashuis gevul. Ek kon pampoen ruik. Gebraaide aartappels. Groenbone. Vleis. En wat nog. Beslis poeding.

Nie lank daarna nie sit ons aan, want die oomblik dat die twee mans by die huis aangekom het, was die kos gereed om in blink skottels aangedra te word. Ons loop deur na die donker eetkamer, en toe ek vanuit die skerp son in die huis instap, kan ek ’n rukkie niks sien nie. Dan kom Mavis vinnig die swaar gordyne ooptrek en bind dit skuins oor hakies aan weerskante van die rame. Die vertrek is meteens vol sonlig.

Tannie Bruwer wys vir elkeen waar om te sit. Stadigaan raak my oë gewoond aan die ligter vertrek. Op die tafel brand kerse in twee groot silwerkandelare, nege kerse in elke kandelaar. Altesaam agtien kerse. Helder oordag. Ek tel vier-en-twintig stoele rondom die massiewe eetkamertafel. Dit lyk vreemd, want ons is net vyf mense. Pa, Ma, en ek. En die Bruwers.

Pa vra vir tannie Bruwer hoe dit met hul seun, John Junior, gaan. Ek ken hom nie, want hy is seker ’n goeie tien jaar ouer as ek. Tannie Bruwer sê hy veg op die grens. Hoog bo iewers in Suidwes-Afrika.

Op die grens veg? Ek het gemeen sy bedoel dat daar moeilikheid tussen ons plase is, want gewoonlik suip die bruin volk teen Vrydag­aande voor donker al so aan die ander kant van ons grensdrade dat daar partykeer ’n helse bakleiery tussen hulle uitbreek. Dan word Pa deur ’n spul histeriese vroue of huilende kinders uit die bed geroep om die bloeiende plaaswerkers uitmekaar te kom haal. Maar oom John sê ons land word deur ’n groot gevaar in die gesig gestaar, ’n swart vyand wat iewers in die noorde ons grense wil kom oorsteek. Ek kan nie uitwerk wie hierdie vyand is nie, maar ook dit laat my voel dat daar iets veel groters is as boere, volstruise, plaaswerkers en skoolkinders in die Kangovallei.

Ja, sê oom John, die arme Junior-hulle woon in ’n sinkstoor en hardloop die hele dag op en af en marsjeer en marsjeer. Elke og­gend staan hulle vieruur op en dan maak jy jou bed op dat dit soos ’n vuurhoutjieboks lyk. Dan staan almal in rye langs hulle beddens op aandag en ’n kaptein kom kyk of jy skoon en blink is. En hulle leer jou hoe om met ’n R1-geweer mense met regte koeëls dood te skiet.

Ek weet hoe om te skiet. Ek het al baie duiwe op ons plaas met die windbuks doodgeskiet. Dan val hulle hoog uit die bome uit dat jy net grys vere sien waai. Gewoonlik hou ek ’n verskriklik treurige kerkdiens en begrawe hulle onder die vyeboom in mooi graffies met malvas en uitgepakte klippies. Pa het my eenkeer sien begrafnis hou. Hy het my verbaas aangekyk en kopskuddend ge­vra: “Watse kak is dit hierdie? Plaas dat jy ’n bal of iets loop skop. Of kom kyk hoe breek ons die perde in.”

Ek is gelukkig nog nie ’n man nie. En teen die tyd dat ek een sal wees, sal Junior en die ander manne op die grens darem seker al die swart vyande doodgemaak het.

Oom John skink wyn in langsteelglase. Druiwesap vir my. Hy sê ons moet die hoofde buig en hy sê vir God dankie vir ’n sukses­volle transaksie in die Kaap, vir reisgenade, en die voorreg om heer­like kos in oorvloed te geniet terwyl ons dink aan dié wat minder bevoorreg is as ons, en stuur vir ons reën in hierdie droogtetye, iets wat elke boer nou so broodnodig het, en beskerm ons seuns op die grens teen die swart vyand en teen die kommuniste. Amen.

Kos in oorvloed is daar beslis. Droog is dit vir seker. Maar van die vyand en die kommuniste weet ek niks nie.

Mavis draf heen en weer tussen die kombuis en die eetkamer. Veraf kan ons hoor hoe sy bevele in die kombuis uitdeel terwyl bakke klink en eetgerei klingel. Die groente word eerste ingedra. Bakke aartappels, pampoen, skorsies, wortels en ertjies. In een van die porseleinbakke lê die vreemdste groen balletjies wat ek nog gesien het.

“Ma, wat is dit daai?” vra ek saggies en probeer so onopsigtelik moontlik na die skottel wys.

Ma giggel senuagtig, en tannie Bruwer antwoord: “Dis Brusselse spruite. Klein kooltjies.” Sy glimlag vir my en sê toe: “Hééérlik as Mavis dit maak.” Die groot diamante aan haar vingers blits in die kerslig.

Ek het nog nooit sulke kos gesien nie. Ma het dit nog nooit vir ons gemaak nie en ek kon ook nie verstaan hoekom mens kooltjies sou wou pluk en eet voordat dit groot geword het nie. Het ek my verbeel dat dit na opgooi ruik?

Toe Mavis weer in die eetkamer verskyn met ’n jonger bediende aan elke sy, almal in swart rokke met wit voorskote en bypassende kappies, stap sy triomfantelik in met ’n groot diepbord van silwer wat sy skouerhoogte dra, toegemaak met ’n koepelagtige deksel. Dit is versier met allerhande krulle en met gedraaide handvatsels en fyn silwerblaartjies en -druiwetrosse. In die middel van die tafel, reg voor ons, is ’n plek op die spierwit tafeldoek vir die bak gereserveer. Mavis sit dit trots neer, en toe sy oor die tafel strek, kan ek die sweetkolle onder haar arms sien uitslaan. Die ander twee diensmeisies het soos laatmiddagskaduwees teruggeval teen die lang muur van die eetvertrek. Hulle het stokstyf aan weerskante van ’n buffet gaan staan.

By ons huis het Meisie sommer die kos op die kombuistafel neergesit en Ma het vir ons uit die potte en kastrolle geskep. En Meisie het nie ’n swart uniform met ’n wit kappie gedra nie. Som­mer elke dag daai ou blomrok van Ma. En as dit kouer was in die winter, ’n dik gebreide trui bo-oor, en onder om haar lyf ’n ou uit­gewasde handdoek gedraai.

“Sjoe, maar julle het oulike meide,” sê Ma en kyk die drie bruin vroue van bo tot onder deur. Hulle verroer nie ’n oog nie. Ek en Pa kyk vir mekaar, maar sy oë is leeg.

Die gasvrou lig die deksel met ’n dramatiese gebaar af na die wagtende hande van Mavis, wat dit aangee vir een van die donker standbeelde agter haar. ’n Enorme vleismes en vurk word terug aan­gegee en aangestuur na oom John.

Voor ons lê ’n enorme stuk bruingebraaide vleis op ’n bed spier­wit rys, omraam deur ’n goue sirkel gebakte aartappels. Ons drie van Aalwynskop staar daarna asof dit die een of ander lewende ding is wat enige oomblik iets gaan doen.

Oom John hou die groot vleismes in die lug. ’n Flitsende oomblik dink ek aan een van my leesboekies se prente: die bloeddorstige reus in Jan en die boontjierank, net voor hy die arme seuntjie wil verorber. Ek skrik my boeglam toe ek van die mes en vurk opkyk in oom John se gesig, want op daardie oomblik knik hy vir my, asof hy sê: Hou my dop.

Hy plant die vurk aan die een kant van die stuk vleis in en hark die hele bord nader met die mes wat in die ander kant ingesteek is. “Só moet ’n volstruisboud mos lyk,” bulder hy, ’n speelse glimlag om sy mond. Sy oë is weer op my, en ek skuif ongemaklik rond.

Stilte.

Dan lag Ma hardop. Almal kyk haar vreemd aan, en ek spring op, vra saggies in Ma se oor of ek vinnig die badkamer kan gebruik. Voor tannie Bruwer vir Mavis kan vra om my die pad te beduie, is ek reeds uit. Ek hardloop in die gang af, verby die gastetoilet, en swaai by die groot studeerkamer met sy duisende boeke in.

Kwalik ’n minuut later het my vinger die woorde in een van die volumes van die Britannica gevind. Brussels sprouts: small cabbage belonging to the mustard family (Brassica oleracea variety gem­mifera), widely grown in Europe (as early as 1200 in Belgium) and the United States.

My hart bons opgewonde. Ek wil nog verder lees, maar twee bruin arms vanuit nêrens vat die boek uit my hande. Ek het haar nie eens hoor inkom nie.

Mavis maak die boek saggies toe en sit dit terug op die rak. Ek bly versteen staan. Sy kyk my vierkant in die oë en sê: “Jou kos word koud.”

Toe weet ek, net aan haar manier van kyk: Sý weet dat ek die vorige keer ook in Sterling Gold se studeerkamer was.

Aalwynskop. Sondagaand. Stiltetyd in my kamer. Die volstruis is ’n onrein dier. Van hulle vleis mag julle nie eet nie. Deuteronomium 14:15.

Ek het in die toilet gaan opgooi.

Nie lank daarna nie het die plukseisoen begin.

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх