Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 13

8

Оглавление

“Hoekom noem hulle die vallei af na Prins Albert toe Die Hel as dit so mooi soos die hemel is?”

“Dit het niks te doen met hoe dit lyk nie,” het Pa geantwoord.

Die regte naam is Gamkaskloof. Of Vallei van die Leeus. Of Duiwels­kloof. Daar’s baie name.” Pa het my ondersoekend aangekyk. Toe vra hy ná ’n ruk: “Waar kom jy daaraan?”

“Is!” het ek myself verdedig. “Ek het dit in ’n koerant gelees.”

“Watse koerant?”

Ek hét dit in ’n koerant gelees en by niemand minder nie as die Bruwers. Dit het só gekom: Ek het een middag ’n brief of dokument of iets van Pa met die fiets by die Bruwers gaan aflewer. Die huis op Sterling Gold was een van dáárdie volstruispaleise wat soos ’n goue haan op ’n mishoop gelyk het. Op die breë stoep het daar twee reusagtige rottangstoele gestaan, soos vir ’n koning en sy koningin, daartussen ’n ronde koffietafeltjie met ’n marmerblad. En bo-op dié tafeltjie het die Oudtshoorn Courant gelê.

Ek het die porseleinknoppie in die gemonteerde ronde hout­raampie langs die voordeur gedruk: Ring. Terwyl ek wag, lees ek op die koerant se voorblad: Lees dit, dat en nog wat deur Sue van Waart. Sy skryf vandag oor Die Hel: Vallei van die Leeus.

Maar daar’s nie leeus in die hel nie!

Die groot voordeur het oopgeswaai. Die blokkiesruitjies daarin het soos diamante geflits. Mavis Plaatjies, die hoofhuishoudster, het oopgemaak – ’n dik, kwaai bruin vrou wie se stem anders geklink het as die bruin vroue op ons plaas. ’n Ronde en afgemete uitspraak. Geleerd.

“Waar’s die baas?” het ek gesê. “My pa stuur dié.” Ek het die koe­vert na haar uitgehou.

“Die meneer is nie hier nie. Net ek en die ander vroulike be­diendes in die kombuis.”

Hulle was aan die voorberei vir aandete, en ek kon ruik iets misterieus en geurigs bak in die oond. Die Bruwers was op die dorp om inkopies of wat ook al te doen.

Dit was ’n kort rit met die fiets na die Bruwers; die plaas se in­gang was net oorkant die uitdraai van die pad wat na die grotte oploop. Maar ons het min daar gekom.

Mavis het die brief by my gevat sonder om daarna te kyk. Die oomblik was te groot vir my, en toe glip die woorde uit my mond: “Kan ek toilet toe gaan?”

Sy het my vraend aangekyk. Ek kon agterkom sy wonder waarom ek nie sommer langs die grondpad of agter een van die peperbome kan pie nie. Ek was immers ’n plaasseun. My brein het na ’n hoër versnelling oorgeslaan en ek het die kans gewaag: “Asseblief …?” Ek het my kop skuins gedraai en treurig na haar gekyk.

Sy het stadig opsy geskuif en die deur wyer oopgehou sodat ek kon verby. Af in die gang wys sy. Daai tweede deur links. Ek loop deur die huis met sy vloerteëls van marmer. In bykans elke kamer is ’n kaggel wat omraam is deur teëltjies met skilderye daarop. Mavis beduie nee, dis nog aan, die deur verby die studeerkamer. Ja, dis reg.

My hart het gejubel toe ek die badkamerdeur agter my toedruk. Daar was net ’n toilet in die vertrek, en ’n wasbak. Mooi. Als spierwit en swart. Silwer krane. Spieëls teen elke muur. Vloeibare seep in ’n bottel. Spierwit handdoekie deur ’n ring in ’n leeu se bek. Vir ’n oomblik het ek na alles om my gekyk. Ek het nie die toilet gebruik nie. Ek het dit net gespoel, en toe my hande onder die silwer krane gewas. My hande het na pienk rose geruik.

Toe ek weer in die gang kom, was Mavis nie meer by die voordeur nie. Ek het haar iewers aan die agterkant van die huis oor ’n krakende houtvloer hoor loop. Ek beweeg saggies deur die gang. Bo my kop, vanaf ’n ryklik versierde staalplafon, hang kristalglaskandelare. Langs my in die gang is elke venster ’n gebrandskilderde prentjie. Die een het pers druiwetrosse tussen donkergroen blare, op ’n ander is daar voëls wat uit ’n vleiland opvlieg. Tonele uit die Kango­grotte. Spierwit-en-pikswart mannetjiesvolstruise met bloedrooi hakskene.

Die deur van donker hout van die studeerkamer langs die toilet het op ’n skrefie oopgestaan. Ek het tussen die kosyn en die deur ingeloer. Die eerste ding wat ek kon sien, was die rye en rye boeke op ewe donker houtrakke, van onder op die grond tot bo teen die dak. Net boeke. Boeke en boeke uitgestal teen mure wat met hout­panele bedek is.

Ek het ’n tree vorentoe gegee. ’n Vloerplank het saggies onder my voet gekraak. Met my een vinger die deur oopgestoot. Dit het ge­luidloos oopgegly. Voor my was ’n ander wêreld. Ek kyk van links na regs. Regs na links. Bo na onder. Boeke en boeke. Hier was meer boeke as in die dorpsbiblioteek. My kop het gedraai. My hart het gesing.

Kan een mens so baie boeke lees? het ek gewonder. Tussen my en die agterste boekrak, die hele lengte van die muur, het ’n massiewe lessenaar van dieselfde donkerkleurige hout gestaan. Onder my kaal voete die sagste mat denkbaar. Dit voel of ’n mens op ’n matras loop. Stapels papier, lêers, boeke, tydskrifte en koerante het in netjiese hopies op die lessenaar gelê. Eenkant het ’n goue lampie onder ’n groen skermpie geskyn.

Die sagte geel lig het op die boonste koerant geval. Ek het ’n oomblik stil gaan staan. Dit was ’n Engelse koerant met die naam Cape Times. Dit was ’n vreemde koerant vir my. Pa het een keer ’n week Die Burger van die dorp af saamgebring. Dit was eintlik al koerant wat ek geken het. Behalwe Sondae se Rapport.

In groot blokletters het op die Engelse koerant se voorblad gestaan: The Horror of Soweto. Dit was die foto daaronder wat my aandag getrek het. ’n Swart seun hardloop met ’n slap kind, seker mý ouderdom, in sy arms. En langs hulle ’n skreeuende swart meisie. Haar arms wanhopig in die lug. Hulle het skooluniforms aangehad. Dit het soos ’n prentjie uit ’n rolprent gelyk, en ek het gewonder in watter land dié foto geneem is. Ek het al films in die inryteater gesien. Pa het ons soms Saterdagaande soontoe gevat. Gelukkig was dit nooit een van hierdie bangmaakfilms nie. Daar was so een mooi film waarin die man en vrou op Tafelberg sing. Later het Ma vir my ’n plaat van Gé Korsten en Min Shaw gekoop. ’n Jaar of wat terug het Jaws daar gewys. Ek wou dit verskriklik graag sien, maar Pa het net gesê hy kyk nie na stront nie. En daarmee was my gees geblus vir daai soort films.

In ’n ronde houertjie, onmiskenbaar met knoppies-volstruisleer oorgetrek, het ’n bondel penne, potlode en ’n liniaal regop gestaan. Langsaan ’n vreemde telefoon. Een wat beslis anders gelyk het as ons s’n by die huis.

Alles het duur en amper verbode gelyk. Dit het gevoel of ek op heilige grond staan. Moses voor die vlammende braambos. Of iets soos ’n donker, koue katedraal waarin die boeke die vensters is – asof helder van agter verlig deur Gods genadige son. Elke liewe stukkie gekleurde glas in daardie katedraal se vensters was ’n ander boek. Elke boek ’n ander verhaal. Elke verhaal ’n ander wêreld.

My oog het op ’n ry boeke agter die lessenaar geval. Voetjie vir voetjie het ek om die lessenaar gestap. Dit was ’n ry boeke wat almal presies dieselfde gelyk het, genommer van een tot vier-en-twintig. Almal ewe hoog. Almal ewe dik. Op die rugkant van elkeen kon ek lees: Britannica. My hart het hard in my borskas geklop. Ek het nog nooit so iets gesien nie. My hand het opgegaan na een van die boeke. ’n Groot goue 7 was op die rooi rugkant afgedruk. Met my wysvinger het ek met ingehoue asem die boek tussen 6 en 8 uitgetrek. Die boek was swaarder as wat dit gelyk het. Dit het beelde opgeroep van die Hollandse Bybel wat Sondae oop voor dominee op die preekstoel gelê het. Dik, swaar, vreemd, heilig. Maar hierdie boek: heerlik.

Die boek het lekker in my hande gelê. Dit was oorgetrek met donker rooibruin, amper swart leer. Ek het dit na my gesig opgelig en met my neus teen die harde buiteblad gedruk. Ek het my asem diep en stadig ingetrek. Die reuk van leer, tabak, ink, ou papier en verre lande het deur my kop gewalm. Met toe oë het ek elke nuanse van die boek se aroma deel van my lyf probeer maak.

Groot goue letters was op die omslag ingegraveer. My regter­hand se vingers het saggies heen en weer daaroor gestreel. Ek kon duidelik die verskil tussen die leer en die gleuwe van die goue letters onder my vingerpunte voel.

Die boek het saggies oopgeval. Met die eerste oogopslag kon ek sien dat die inhoud soos een van die woordeboeke by die skool lyk. Woorde en woorde en nogmaals rye woorde onder mekaar. Alfabeties gerangskik.

My oog val op een van die inskrywings onder die letter M.

Ek het versigtig omgeblaai. Juffrou Meyer het ons by die skool gewys hoe blaai ’n mens versigtig in ’n groot boek. Jy mag nooit jou vingers natlek om die blaaie om te blaai nie. Voor my spring die ongelooflikste foto op – die prentjie is presies dieselfde as die een op die brief uit Frankryk!

Dis die windpomp.

My oë dans oor die woorde. Windpomp? Nee, dis nie ’n wind­pomp nie. Dis ’n windmeul! ’n Windmeul bo-op ’n huisie. Dít was die rooi windmeul van die vieslike kroeg in Parys. Ek lees die in­skrywing met ingehoue asem: Moulin Rouge: Also known as the Red Mill.

Moulin Rouge.

Die rooi meul.

Ek het verwonderd gestaan en die ontdekking laat insink.

’n Deur het ver geklap en my teruggeruk na die hede. Ek het die boek vinnig toegemaak en noukeurig op sy plek tussen die ander ingeskuif.

Met my eerste tree in die gang af, kom Mavis van onder af aan. “Is jy klaar?”

“Ja, ek is klaar, koebaai.”

Ek vlieg by die deur uit in die helder sonlig in. My oë op skrefies teen die skerp lig.

Mavis het die voordeur vir my oopgehou terwyl sy my agter­dogtig nastaar. Ek het daar uitgesweef. Die fiets onder my het ge­kraak soos ek trap. ’n Duif in die grondpad het woes opgevlieg toe ek verbykom en hom amper raakry met my voorwiel.

Moulin Rouge. Die rooi meul! Die Moulin Rouge was die rooi meul!

Die wêreld was meteens ’n groter plek.

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх