Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 17

12

Оглавление

Die tyding van Andri se ongeluk met die volstruis het binne ure die verste uithoeke en diepste gate van die Kangovallei bereik. En die stories het gelóóp.

“Dis Dawid de Jager se eie skuld,” het ek gehoor hoe oom John Bruwer een middag, nie lank daarna nie, vir Pa gesê het. “Dis om­dat hy ’n hele trop mannetjies saam in een kamp met hóéveel wyfies aanhou.”

“Ja, mens hou tog een mannetjie by twee wyfies, of hoogstens drie, in een kamp!” het Pa sy kennis van volstruisboerdery laat blyk.

“Dís nou as jy jou lyf slim hou, en jy dink jy weet hoe om met broeivoëls te boer. Dan gebeur sulke goed.” Oom John het sy hande in die lug gegooi.

“En waar’s Emily de Jager? Kon sy nie kyk wat haar kind doen nie? Jy los mos nie so ’n klein meisiekind alleen by sulke groot voëls nie, en dan hoop en bid jy maar die plaasvolk kyk agter haar.” Dit het vir my geklink of Pa iets sê wat Ma vroeër aan hom gesê het.

“Ja, sies, man! Wanneer gryp een van hulle haar?”

“Dis mos omdat sy nie na ’n normale skool toe gaan nie. As sy in die koshuis op die dorp was, het daai kind nie nou op sterwe gelê nie.”

“Nee, dis daai meisiekind se eie skuld. Hou haar lyf mos seuns­kind. En kyk wat hét sy nou daarvan. Sy dink sy’s die plaasseun. ’n Regte mannetjiesmeisiekind as jy my vra.”

“Trek glo tot seunsklere aan. Jy sal nie wéét dis ’n meisiekind nie. Pleks dat sy saam met haar susters koeke bak.” Pa het so met sy twee groot hande beduie, asof hy presies weet hoe ’n koek gebak word.

“Is so! Daai Dawid en Emily de Jager gaan nog lang trane huil oor daai kind. Sy lyk hoeka nie reg vir my hierbo nie.”

Eers die een dan die ander man draai die wysvingers langs die ore. Pa en oom John dink Andri is mal! Ma ook, ek het al gesien hoe maak sy haar oë as sy oor Andri praat.

Andri is nie mal nie, dink ek. Dis omdat sy ’n seunsnaam het. ’n Meisiekind met ’n seunsnaam, dis hoekom!

Of is sy dalk regtig ’n seunskind? ’n Meisiekind met ’n tollie? Sê nou maar …

Mieta het hier by ons vir Meisie kom vertel dat Andri, tot almal se verbasing, so vinnig herstel dat sy ná drie dae uit die hospitaal op Oudtshoorn ontslaan is. Die rug toegewerk met presies vyftig steke. Die meisiekind kon by die huis aansterk as sy haar stil gedra tot die wonde geheg het. Oor veertien dae moet die steke weer uit.

As ek Andri weer sien, sal ek haar self loop vra of dit waar is. Ek het gewonder of sy die krapmerk met die steke vir Jester sal wys. Dit sal nie goed wees nie, want dit sou beteken sy moet haar hemp optrek om haar rug vir hom te wys. Dalk gaan loer hy smiddae ná skool, wanneer niemand naby is nie, deur haar oop kamervenster. Ek wonder wat maak die twee wanneer ek nie naby is nie. Nee, ek weet presies wat hulle doen. “Issit seer?” sal hy vra, en sy sal haar kop knik. Dan sal hy sê hy sal die volgende dag weer kom, en sy sal sê dit is reg. Die volgende dag sal sy on­gevraagd en sonder waar­sku­wing haar pajamahemp optrek en haar rug vir hom wys. “Kyk!” sal sy spog. “Vyftig! Jy kan dit tel.”

“Jissss,” sal hy sê, “dis kwaai!”

Haar gesig sal dan ernstig word. Hy is al gewoond daaraan dat sy die een oomblik laf is en die volgende een doodernstig. Die blou oë onder die goue krulkuifie op skrefies getrek. “As jy môre weer kom, gaan ons na my geheime plek toe,” sal sy fluister.

Ja, ek weet. Sy dink ek weet nie, maar ek weet. Daardie bliksemse, bliksemse Jester!

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх