Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 6

1

Оглавление

Aalwynskop. Dit was ons plaas se naam. Aan die suidpunt van Afrika: Aalwynskop.

Aalwynskop.

Bitterkop.

Galbitterkop.

Ek is op 10 April 1963 op dié plaas gebore. Op ’n Sondagmid­dag, net voor die son sy laaste strale oor die herfsvallei weggetrek het.

Aalwynskop was nie die tipiese Afrikaplaas met stoetbeeste, peperduur eksotiese wild, toonvenster-leeus en Arabierperde nie. Glad nie. Dit was ’n stukkie grond in die Klein-Karoo, waar die voete van die Swartberge hul staanplek in die Schoemanspoort kom kry het. Hier het ons geboer met volstruise en gesaaides, ’n bietjie tabak, bietjie lusern en ’n skaap of twee. Daarby was daar die diere wat jy maar op enige plaaswerf kry: hoenders, honde, varke. Daar was natuurlik ook die plaaswerkers. Wat toe die volk genoem is. Altyd, soos op al die ander plase rondom ons, was hulle aan die rand van die plaaswerf ingedruk in hulle reghoekige, witgekalkte huisies met die ruwe pleisterwerk en vaal rietdakkies. Dis hier waar ek grootgeword het aan die suidpunt van die magtige kontinent Afrika.

Donker Afrika.

Op Aalwynskop was ons plaashuis ’n doodgewone reghoekige huis. Roomkleurig geverf en onder ’n rooi sinkdak. Drie slaap­kamers, sitkamer, eetkamer, kombuis, opwasplek vir die vroue, ’n enkele badkamer en ’n stoep, blinkrooi gepoets met Cobra polish. Dood­gewoon. Soms gewoon dood. Want dit was net ek en Ma en Pa. Die drie van ons.

Dit was meestal stil in ons huis. Partykeer donker. Donker en stil. Ma het my wysgemaak die donkerte hou die Karoohitte buite. Die boeties en sussies wat ek gehad het, het net in my kop geleef. En wanneer ek soms met hulle gespeel het, het Pa sy kop afkeurend geskud en vir Ma met ’n slap hand beduie: vreemde kind.

Soms, veral oor naweke, het dit daar in die agterste witgekalkte huisies baie geselliger gelyk as in ons huis. Seker maar omdat daar altyd ’n rumoerigheid was – stemme, ’n gelag, ’n gepraat, musiek op ou vals kitare en laataand, met die leë Liebersteinkanne eenkant toe geskop, selfs ’n dans.

Lig. Geluide. Lewe.

Ons plaas was in die Oudtshoorn-distrik. Ons huis reg aan die voet van ’n koppie, langs ’n familie-kerkhoffie wat oorgroei was deur aal­wyne. In die winter staan hulle vaal en verlep; in die hittige somers fier en regop soos brandende fakkels wat al die onheilighede in die donker uitwys.

Aalwynskop.

Om presies te wees, dit was so twintig kilometer van die dorp in die rigting van die Kangogrotte. Ons lappie grond met sy op­stal was nie fantasties nie, nie naastenby soos die ander majestueuse volstruispaleise en pluimkastele wat soos pionne op ’n skaakbord op die blokke en blokke landery gestaan het nie.

Ons plasietjie was ’n stuk grond wat Pa by sy ma geërf het, ouma Anna Jacoba Niemand. Ouma Anna was ’n nooi Schoeman uit die Volmoeddistrik. Ná my oupa Johannes Hendrik Niemand se dood het sy die boerdery oorgeneem, en na háár dood het my pa alles geërf. Maar alles beteken nie baie nie.

My pa het net een suster gehad, Hendrika Katerina. Hulle het haar Hettie genoem. Sy was ’n goeie tien jaar jonger as Pa en ’n be­gaafde meisie. Sê hulle. Sy het volpunte vir wiskunde en weten­skap gekry en wou dokter word. Toe het my oupa Johannes haar ná skool Stellenbosch toe gestuur om daar verder te gaan leer. Op ’n manier was dit seker die Afrikanerdroom wat die Niemands pro­beer uitleef het. Pa kry die boerdery; Hettie word ’n dokter, en hopelik trou sy boonop nog in ’n welvarende familie in.

Dit was dus bestem dat Aalwynskop ná Oupa se dood na Pa toe gaan, en dan eendag na my, die enigste seun. Die Niemand-erfgenaam.

Ek kan min van al hierdie dinge onthou, want ek was maar so drie of vier jaar oud. Hulle sê as jy hard probeer, sal jy alles kan onthou. Maar ek wou nie probeer nie. Wat ek wel kan onthou is dat ’n deel van die droom aan skerwe gespat het toe tannie Hettie ná haar eerste jaar op universiteit op ’n Sondagmiddag op die plaas aan­ge­kom het, met ’n aanhangsel, ene Lou Brink. Soos twee stout kinders het Hettie en haar nikswerd aanhangsel daar op Aalwyns­kop voor die agterdeur kom staan. Saggies aan die sifdeur kom klop-klop soos die volk as hulle verleë was. Oupa het gesê die vark­nek was vrot van die dagga.

En tannie Hettie, sy enigste dogter, verwagtend. Hoogswanger en met niks. So staan hulle toe daar.

My oupa Johannes het nie geweet hoe om hierdie vernedering te hanteer nie en in stede daarvan dat hy sy swanger dogter en dié se slapgat kêrel ’n veilige hawe gee, al was dit net om hulle ’n ruk lank weg te steek totdat die baba gebore is, het hy hulle, tot groot ont­steltenis en histeriese trane van ouma Anna, summier van die plaas af weggevloek. Die skande wat dit oor die familie sou bring! Oupa het daar en dan besluit sy enigste dogter sal niks erf nie, die hele plaas sal net so na Pa toe kom. My oupa het hulle daar­die Sondag­middag met swaaiende arms uitgeskel vir leeglêers en skande­like, goddelose luiaards. Al swetsend het hy my tannie en haar aan­naai­sel daaraan herinner dat hy en my ouma Anna, opregte god­vresende boeremense wat hulle was, nie hulle kinders só grootgemaak het nie. “Lieplappers! Vuilgoed!”

Ouma Anna het by my oupa gesoebat dat hulle dogter moes aan­bly en dat sy haar en die baba sou versorg. Die ongehude vader kon mos maar op die plaas kom help het met al die los werkies. Maar my oupa het net sy kop geskud en gesê hy hou hom nie op met die gemors van bronstige basterbulle uit die Kaap nie. “Neuk terug Stellenbosch toe! Of kom jy daar uit die agterstrate van die Cape Flats?”

Die ongehude paar is daar weg. Niemand het geweet waarnatoe of wat van hulle geword het nie. Gerugte het later die ronde gedoen dat hulle as bywoners op ’n appelplaas êrens in die Langkloof ’n bestaan gaan maak het. Gerugte wat toe uiteindelik waar blyk te gewees het.

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх