Читать книгу Sondag op 'n voëlplaas - Johann Nell - Страница 9

4

Оглавление

Tussen die grensdrade en heinings van die plase het min dinge ge­heim gebly. Soms het die stories sommerso vanself aangevlieg ge­kom. Soms het ons dit met ons eie oë gesien. Met ons eie ore ge­hoor. Ander kere weer is dit deur die werkers en kombuisvroue van plaas tot plaas oorvertel.

Al was ek in daardie stadium – ek was so tien jaar oud – nog nooit by die De Jagers op Prachtig nie, het dit tog gevoel of hulle ou bekendes was.

Partykeer het hulle kombuisvrou, Mieta, by ons kom vertel wat daar in Prachtig se binnekamers aan die gang was. En ons almal, Ma en Pa inkluis, was maar te gretig om ons ore uit te leen oor wat die De Jagers, en veral hulle vyfde meisiekind, nou weer aangevang het. Soos die dag toe sy vertel het van ’n Sondag toe die Bruwers van Sterling Gold daar op Prachtig aangekom het – volgens haar het hulle “tydig en ontydig” hul opwagting gemaak.

Ek onthou die dag omdat dit so ongoddelik warm in die Kango­vallei was. Buitengewoon. Die sonbesies se onophoudelike geskril, elke stuk metaal, of dit nou ’n sinkstoor, watertenk of stuk gereed­skap was wat in die ongenadige son gekraak en getik-tik-tik en bewen­de hittegolwe soos warm branders oor ’n vlammesee uitgestuur het. Ek kon my Mieta se vertelling so duidelik inprent: Die Bruwers wat oor die werf aankom in hulle spierwit Mercedes Benz 280SE. In die huis was die De Jager-meisiekinders besig om reg te maak vir koshuis: klere inpak, gestrykte skoolklere aan draadhangers ophang, koekblikke volmaak met hulle eie wenbeskuit, nat en uit­gedroog, en rosyntjiebrode, soetkoekies, en nog ’n stuk of twee vol­struis­biltong. Die koffers het gereed gestaan. Die blikke vol­gelaai om in die wagtende kar voor die kombuisdeur gelaai te word. Skool­skoene blinkswart gepoets deur een van die jongetjies wat agter in die strooise bly. Dit gebeur alles in die huis terwyl die twee ou Bruwers buite in die gloeiende kar sit en kyk het of daar lewe in die plaashuis was.

Die Bruwers het ook nog nie eers behoorlik aanstaltes gemaak om uit te klim en die sementtrappies na die voordeur te bestyg nie, toe twee van die meisiekinders, Karolina en Hendrina, gillend om die hoek van die huis gestorm kom. Op hulle hakke was Jester, Mieta se kleintjie. ’n Mens kon dink dat hy die twee meisiekinders jaag of iets, maar dit was nie so nie. Jester was die een wat die nuus ge­bring het.

Ant Maggie Bruwer het skoon ’n gil van skrik gegee en die dik string pêrels om haar hals instinktief met die palm van haar hand toegedruk, asof iemand dit van haar nek wou afruk. Toe storm tannie Emily en Mieta feitlik saam by die voordeur uit om te kom kyk waaroor die twee meisies so histeries gil. Mieta wou nog skree dat Jester die twee uitlos, maar dis toe hy wat die nuus breek: “Mies! Dis Andri! Dis wee Andri!” hyg hy dit kortasem uit, sy oë net so groot. En Karolina stotter: “Sy’s weer die berge in, Ma!”

Blykbaar wou tannie Maggie flou word, seker nie van die hitte nie, maar sy en oom John is so vinnig daar weg dat hulle nie eers die huismense behoorlik gegroet het nie. Oom John het net op pad terug kar toe geskree: “Kom, Mamma!” En toe hulle omdraai, terug op die pad waarvandaan hulle so pas gekom het, het oom John by die oop ruit vir tannie Emily geskree: “Ek roep die volk! Jans en Stoffel sal met die twee perde kom help soek!”

En die volk het deurnag gesoek. Ek onthou dit goed, want Pa het ook gaan help. Oom Dawid de Jager het lanterns laat opsteek om lig te maak in die donker tussen die kranse aan die bokant van die plaas. Tannie Emily het al teruggekom van die dorp af nadat sy noodgedwonge moes ry om die vier ouer sussies by die koshuis te kry, maar van Andri was daar, soos so dikwels in die verlede, geen spoor of teken nie.

Ek het Ma gevra waarom die meisiekind so baie wegloop, maar daar was nie ’n duidelike antwoord nie. Ma het net haar skouers opgehaal en haar oë so ligweg gerol. Mal in haar kop, het dit be­teken.

Mieta het toe ook nog vertel dat die De Jagers nie lank hierna nie, eintlik daardie selfde warm nag nog, nadat die meisiekind uit­eindelik iewers in daai onheilspellende berge gekry is, besluit het dat Andri nie sal teruggaan koshuis toe nie.

Pa se kommentaar was: “Ek sou haar gatjie aan die brand ge­slaan het.” En skielik het ek jammer vir die meisiekind gevoel. En ek het gehoop Ma sou, soos ek, ook simpatiek wees, maar sy het geantwoord: “Hulle moet haar gatvelle aftrek.”

Maar gelukkig het hulle haar net oorgeskuif na die plaasskool. Die skool waar ek ook was. En dit was hier dat ons mekaar die eerste keer van aangesig tot aangesig gesien het. En daar was ’n vreemde band tussen ons. Wat dit was, kon ek nie beskryf nie. Ek sou nie sê dat ek haar beter leer ken het nie, maar ek kon nie ophou kyk vir die meisiekind met die seunsnaam nie.

Sondag op 'n voëlplaas

Подняться наверх