Читать книгу Bientang - Jolyn Phillips - Страница 18
Оглавлениеmy tog na my nuwe plek ruik na wildedagga
die sand sing die wit woestyn se heuwels raak kleiner
ek is amper daar ek kom al nader aan my spelonk
tree vir tree maak my voete die sandheuwels praat
gister ek het my enkel geswik en dit sleep slakspoor voetspoor slakspoor
die blou hemel staan sonder wolke dit gaan ’n koue nag word
enige boodskap van hoe ver nog soek ek asbosse ken ek aan hulle
taktoppe hulle ken maar min reën en ek het te min water saamgebring
sal ek ook uitwaai ’n spoelstroom windwaarts waai
sal my sand sang hou tot by my bestemming
watter vryheid wag vir my ná al die pyn wat in my kruis
sit want omdraai kan ek nie omdraai kan ek wragtag nie