Читать книгу Bientang - Jolyn Phillips - Страница 6

Оглавление

die !nau kom vinnig aan ek moet in my hut sit

die mans suiker die elandgebed vir my eer

my troubare sal vir my met ’n klipdaskaros seën

my kinders sal altyd behoort aan sy pa’le

wat van rivier kamma-kan kamma vandaan kom

ons is die qua van duiwelsgat en ons gaan nêrens

vandag dra ek my seehondvoorskoot kapallangs mantel

ek is die heerser van my hut melk self die bokke

my broer het sy eed afgelê ek word vandag

vandag is ek nie meer ’n !naumens nie my mense sing

vandag is ek ’n vrou ek word uitgesmeer met boegoe

dit maak my vrugbaar atta’le vat my vanoggend

na die hut en sê vir my ek is nie meer ekke nie

sy buk ek kruip as sy kruip ek skil as sy skil ek

ek gaan nooit weer iets met my eie hande kan bewerk nie

my hande word toegesluit sy leer my voete saam-saam strop

atta sê van nou af moet ek wegbly van die see af

die slangdokter praat my lewe warm met die boegoe

my rooidag maak die see onstuimig in die hut

ons wag ons wag ons wag mane om sonne verby

Bientang

Подняться наверх