Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 10
ОглавлениеHoofstuk 5
Ek en Michael woon in ’n woonstel in Sunnyside. Ek werk as arbeidsterapeut by ’n kinderleidingkliniek en hy as kliniese sielkundige by Tukkies se studentediensburo, terwyl ons ’n huis laat bou op ’n nuwe erf in Weavind Park. Een oggend kry Michael skaars die modder van die bouperseel op die deurmatjie afgevee of ek val hom om die hals met die nuus: Ek is swanger! Ons is albei heeldag uit ons vel.
Ek word egter daardie nag met so ’n angs wakker dat ek nie kan asem kry nie. Michael gryp ’n papiersak en laat my daarin asemhaal. Dit help ’n rukkie, maar ek moet uit, ek versmoor! Ons is uit by die deur; Michael met die papiersak in die hand. In pajamas en pantoffels lei hy my al om die blok. Ek haak uit, ek haak uit, dink ek. Ek wil net bly en gelukkig wees. Om ’n baba te hê is my grootste wens. Hoekom haak ek uit? My hart klop wild, ek is natgesweet en voel naar. Michael praat kalm en rustig met my in sy ligbruin stem, en ek fokus daarop asof my lewe daarvan afhang.
Uiteindelik is ek kalm genoeg om terug woonstel toe te gaan, en ek raak genadiglik aan die slaap. Die volgende oggend word ek wakker met iets swaars in my. Die vrees dat ek weer so ’n aanval gaan kry, word deel van my daaglikse bestaan. Ek raak al hoe stiller.
Michael besluit dat ons vir ’n paar dae Laeveld toe moet ry om my uit ons benoude woonstelletjie te kry. Ons is albei lief vir die Bosveld, die son skyn daar. Ons neem elk ’n week lank verlof.
Michael het ’n ruk tevore ’n ou MG gekoop en omdat die motor binnekant erg na petrol ruik, ry ons heelpad met die kap afgeslaan. Ek weet hy het ’n prentjie in sy kop van ’n sportmotor met ’n mooi laggende meisie daarin, sorgeloos en vry. Ek wil graag vir hom daardie meisie wees, maar ek voel swaar en donker. Boonop is dit ’n taamlike ontbering om so ver so verwaai te word. Ek is waarskynlik op my beste nie ’n langafstand-afslaankap-meisie nie.
Op Hazyview bly ons in ’n rondawel op ’n verwaarloosde gasteplasie. Dit bedruk my. Eintlik bedruk alles my, en my liewe man kry my nie opgevrolik nie. Hy gaan stap een oggend met sy verkyker om voëls te kyk, maar ek wil nie saam nie. Ek bly sit net op ’n bankie voor die rondawel.
Op die werf loop hoenders rond, so skrop-skrop en pik-pik in die droë grond. Ek raak morbied gefassineer daardeur. Toe Michael terugkom, sit ek en huil.
“Nou wat?” vra hy. “Hoekom huil jy?”
“Oor die futiliteit van hoenders,” sê ek.
Michael kyk lank na my, dan na die hoenders. Hy kom sit langs my op die bankie, trek my styf teen hom vas en praat trooswoorde teen my hare.
Later die dag ry ons na God’s Window, parkeer die MG en stap ’n ent om na die pragtige uitsig te kyk. Ek onthou dat ons in my kinderdae dikwels daar aangedoen het op pad Wildtuin toe en hoe bly die vergesig my gemaak het. As ’n mens in Pretoria grootgeword het, is berge nog amper mooier as die see. Maar dié keer is al gedagte in my kop dat ek daar sal wil afspring om van die doodsheid in my ontslae te raak. Ek gryp Michael benoud vas. “Vat my hier weg, asseblief,” kerm ek. “Ons moet huis toe gaan. Daar is groot fout met my. Ek moet by jou pa uitkom.”
Terug by die rondawel gesels ons lank, en omdat ek die onheil kan uitpraat, kom daar ’n mate van kalmte en verligting oor my. Michael oortuig my dat die paar dae in die wildtuin goed sal wees vir my en vir ons. Van ’n apteek in Hazyview bel hy sy pa, ’n internis, verduidelik die situasie, en Pa skryf telefonies vir my kalmeerpilletjies voor. Die pilletjies laat trek so ’n wasigheid oor my emosies en ek kom deur die dae in die wildtuin.
Toe ons terug is in Pretoria besef pa Nico dat my toestand ernstig is en hy bespreek dit met my ginekoloog en ’n psigiater. Hulle is dit eens: prenatale depressie. Gelukkig is ek reeds oor die gevaarperiode van die eerste drie maande van swangerskap en kan ek dadelik begin met antidepressante. Binne drie weke begin my gemoedstoestand ligter raak en ek keer terug uit die duisternis. Die wete dat die mal gedagtes die gevolg was van ’n hormonale wanbalans en dus ’n fisiologiese verklaring en oplossing het, is ’n groot verligting.
Ek en Michael laat bou entoesiasties ons nuwe huis klaar, en toe ons Michelle-kind gebore word, is alles so reg en so mooi soos wat ’n jong professionele egpaar se begroting toelaat. Ek het al die gordyne self gemaak, ook die laslapdekens vir die slaapkamers en laslapkussings vir die sitkamer. Mense wat kom kuier, komplimenteer my handewerk en ek begin bestellings kry vir laslapdekens en -kussings.
Nege maande later is ek weer swanger, en dié keer hou familie en vriende, almal, my dop vir uithaak-tekens, maar ek seil maklik en sonder probleme deur die swangerskap. Nina se geboorte maak ons gesin, so glo ons, volledig.