Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 5

Оглавление

Vannag, weet ek, gaan ek nie slaap nie. En ek sien sowaar uit daarna. Dit sal ’n lekker wakkerlê wees dié, in teenstelling met so baie nagte dat ek uur ná uur bekommerd rondgerol het in my bed in my toringkamertjie van die Hôtel Château Sallandrouze. Maar nou wil ek alles wat vanaand gebeur het oor en oor onthou, dit soos ’n fliek voor my laat afspeel, elke oomblik so lank moontlik laat duur.

Dis byna soos daardie eerste nag nadat ek die verwaarloosde pienk kasteel in die middel van Frankryk gesien het; daardie aand nadat die fyn Franse madame die voordeur van die Maison Rose in die dorpie Aubusson oopgestoot het en ek gevoel het dis my toekoms self wat voor my oopgaan.

Die hotel is nou stil. Die dagbesoekers het ek by die voordeur afgesien en dié wat die nag oorbly, is almal na hul kamers. Ek het die musiek afgesit, die kerse doodgeblaas, die laaste glase kombuis toe geneem en op pad boontoe al die ligte afgeskakel. Maar my gemoed is nog vol van die aand se opwinding, van die flikkering van kerslig teen die vertrekke se mure en plafon.

Die restaurant was propvol; elkeen van die hotel se tien slaapkamers is beset. En as ek uitkyk by die venster, sal ek die maanlig op tientalle spogmotors sien blink – die parkeerplekke rondom die château staan vol Ferrari’s! Dis Frankryk se Ferrari-klub wat sorg dat die hotel vol is, dat die tafels gekreun het onder vragte kos en die hele gebou tot laatnag vol stemme en gelag was.

Vanmiddag het ek gaan rose gaps in die groot roostuin van die Château Castelnau net oorkant die straat. Ek is met die baie trappies af langs die gebou wat nou as ouetehuis gebruik word, ver ondertoe na waar die ou formele roostuin van die château steeds in stand gehou word. Ek is koes-koes van roosboom na roosboom met ’n snoeiskêr en inkopiesak in die hand, en wanneer ek seker was niemand sien my nie, het ek vinnig nog en nog ’n roos geknip en in die sak ingeglip. Wie sou dit in elk geval agterkom? Daar is so baie rose dat dit nie ’n duik sou maak nie, al sou ek ’n klein gerfie pluk. En dit is vir ’n goeie saak, het ek gedink. Boonop kan ek my voorstel hoe die châtelaines van die vier aangrensende châteaux op die dorp ’n eeu gelede ge-oor-en-weer het met rose uit die tuin en soetgebak uit die kombuis. Met my roosplukkery sit ek dus net ’n tradisie voort. Ek, Lanie van Kaapstad, in die toringkamer van ’n Franse château.

Ek gaan nou probeer insluimer vir die paar uur voor die son opkom. Dan sal ek op my fiets spring om by die bakker onder in die dorp ons bestelling vars croissants en pain au chocolat vir ontbyt te gaan oplaai.

C'est la vie

Подняться наверх