Читать книгу C'est la vie - Lanie van Reenen - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 1
My lewe as “selfbewuste” mens het eers ’n week ná my een-en-twintigste verjaardag begin. Dit het begin met ’n eksistensiële krisis wat my in ’n senuweekliniek laat beland het. Dit was asof ek eensklaps in my lewe beland het, en waar “ek” voorheen was, het vaag en wollerig gevoel. Ja, daar was ’n dogtertjie met blonde hare wat op haar pa se skoot gesit het wanneer hy stories lees, wat soms bang ná ’n nagmerrie tussen haar ma en pa in hulle bed gaan inkruip het, hoofmeisie in die laerskool, die stoute tiener wat meer in kêrels as in skool belanggestel het, die aspirant-joolprinses wat dit nooit gemaak het nie, maar dit was alles so outomaties, asof ’n “ek” ontbreek het.
Ek het die ineenstorting soos ’n groot storm in my binneste voel opbou. Al hoe nader het dit gekom. Ek ken geen eensamer plek nie. Angs fladder in jou borskas soos ’n voël wat in ’n toe kamer vasgekeer is. Jy voel van jou “self” vervreem. Kernloos, ongeanker en apart. Jy wil iemand aanraak en sê: Ek is in die moeilikheid, help my, neem dit weg.
Ná skool is ek Tukkies toe. My ma en pa, Fransie en Franz Quass, het my by Nicolhuis afgelaai waar studente tuisgegaan het wat in ’n para-mediese rigting studeer het. Arbeidsterapie was ’n halfhartige keuse. Ek het myself in die regte gesien, maar die voorligtingsielkundige wat ons skool in my standerd 9-jaar besoek het, het nie. Die jong juffrou Quass se punte, het hy gemeen, was heeltemal te vrot vir dié hoge professie. Toe is dit maar arbeidsterapie agter my ouer vriendin aan wat toe reeds in haar tweede jaar was en dit entoesiasties aanbeveel het.
In my derde jaar moes ons ses weke lank psigiatrie-prakties doen in die Tara-hospitaal in Johannesburg. Daar was terapeute – “ons” – en pasiënte – “hulle”. Dit het vir my gevoel asof my binnekant begin oorsleep het na die oorkant toe, na “hulle” toe.
Een middag stap ek ná werk in ’n nabygeleë winkelsentrum rond en sien my weerkaatsing in ’n winkelvenster. Ek word lam van die angs. Wie is daardie mens? Sy loop al een-en-twintig jaar hier rond en haal asem en studeer . . . maar vanuit die venster staar ’n vreemdeling na my. Die geluid van my voetval maak my bang; ek wil nie na my hande kyk nie. Wie se hande is dit?
’n Paar dae later, ná die bespreking van ’n kliniese gevallestudie in Tara, gaan ek na die psigiater wat die bespreking gelei het. “Dit voel asof jy oor my gepraat het,” sê ek vir hom. “Ek is verskriklik bang . . .”
Om bloot hardop te praat oor die onheil wat al hoe nader kom, is reeds ’n verligting, maar die psigiater gee my ook ’n paar pilletjies en sê ek moet saans voor ek gaan slaap twee drink.
Die pille help my slaap, maar laat my kop bedags dof voel. Boonop voel ek skaam omdat ek, ’n arbeidsterapiestudent, so in duie stort, en vermy voortaan die psigiater.
My bestaansangs raak uiteindelik so verlammend dat ek in die Denmar-kliniek in Pretoria opgeneem word. My vriendin Robin het ons psigiatrie-dosent laat weet dat ek angstig en huilerig voorkom. My ouers was oorsee en sy was bekommerd oor my. Die dosent het deurgery Johannesburg toe, besef dat ek hulp moes kry en met my teruggery na die Denmar-kliniek in Pretoria. Die psigiater wat my daar ondersoek, het my met slaapmedikasie “uitgesit” nadat hy skaars my naam gevra het of gesê het wie hy is.
Slaapterapie. Genadeterapie, amper soos genadedood.
Arme, arme Michael, wat my pas weer teruggevat het nadat hy ons verlowing verbreek het en vir oulaas ses maande van vryheid beproef het, staan verslae daar elke keer wanneer my oë oopfladder. In die jare hierna, wanneer ons in ons huwelik ongelukkige tye beleef het, en so verbete probeer sin maak het daarvan, sou hy soms moedeloos en ten einde raad na dié oomblik verwys, woordeloos, met net die gebaar van sy twee polse in boeie. Dit was die oomblik dat hy eintlik weer die hasepad sou wou gekies het, maar sy eerbaarheid en medemenslikheid het dit nie toegelaat nie.
Tiekeloks. Met die malletjie sit jy nou!
As ’n mens een maal so vir jouself geskrik het, is dit soos ’n mankheid wat jy binne jou saamdra. Êrens, weet jy, is daar ’n los draadjie wat die hele spul weer kan laat lostorring.